Die Intog

15 October, 2026

Johannes 12:12-19

Die spanning is besig om op te bou tot ‘n geweldige crescendo, en Johannes kan dit skaars hou. Twee dae gelede het hulle deur Jerigo gekom op pad na Jerusalem. Langs die pad het Jesus twee blindes genees sodat hulle kon sien. Daardie aand het hulle in Betanië oorgebly by Lasarus en sy twee susters. Martha was soos gewoonlik weer die een wat hulle van kop tot tone bedien het. Maar toe kom Maria daar aan met ‘n flessie peperduur Nardusolie en salf Jesus se voete. Toe droog sy Sy voete af met haar hare! Judas Iskariot was bitterlik ongelukkig hieroor!

Die volgende oggend besluit Jesus om af te gaan na Jerusalem toe. Van heinde en verre het mense aangestroom vir die Paasfees en op die pad kry Johannes-hulle hulle almal wat op pad was na die stad. Almal was in ekstase toe hulle Jesus óók daar sien, maar op Johannes se maag was daar ‘n knop van pure senuwees. Wat het daar op hulle gewag in Jerusalem? Die nuus, dat Jesus ook op pad was na die fees toe, het dit laat gons onder die menigtes wat soos ‘n lewende rivier die laaste entjie na Jerusalem kronkel. Almal was in vrolike luim want só ‘n gebeurtenis kom net eenkeer per jaar. Maar dié slag was dit asof iets anders geknaag het aan die stemming. Almal het besef dat daar iets baie groot sou gebeur, maar niemand kon ‘n vinger daarop lê nie.

“Daar is Jesus!” roep iemand uit, en Johannes se moed sak sommer weer in sy stowwerige sandale. Soos ‘n reuse swerm kommandowurms breek ‘n groot groep mense weg, na Jesus toe. Langs die pad pluk hulle palmtakke en kom al takswaaiende en singende op Hom afgestorm. “Prys Hom!” sing hulle uit volle bors. “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Johannes weet maar ál te goed dat die Jode nog al die jare ‘n baie sterk nasietrots gehad het, maar dat dit die laaste tyd ‘n hoogtepunt bereik het. Palmtakke is deesdae die in-ding om hierdie nasionalisme te versterk en uit te basuin. “Die Koning van Israel! Die Koning van Israel!” dreun dit deur die menigte, wat nog al die tyd aangroei teen ‘n verbysterende tempo. Johannes krimp ineen.

Het die einde van die verpestelike Romeinse oorheersing nou uiteindelik aangebreek? Hierdie skare dink beslis só! Johannes en sy makkers deel ook maar half teësinnig en bitter bekommerd in die feesvreugde. Wat gaan môre oplewer? Gaan hulle Meester dalk tereggestel word? Besef hierdie jillende skare dit dan nie?

‘n Jong donkie, ‘n eg-koninklike rydier, word nadergesleep vir Jesus om op te ry. Hy klim op. Die skare raak histeries! Hulle dreunsang weerklink deur die klowe, en eggo oor die berge rondom Jerusalem.

Maar dan merk Johannes net so terloops die groepie nors manne wat gladnie meedoen nie. Rasend van woede, aan die een kant, en tegelyk ook bekommernis, staan hulle daar en beraadslaag. “Kyk net wat doen Hy!” sis een Fariseër. Hy slinger verwyte na sy hulpelose kollegas: “Sien julle, julle het net mooi niks uitgerig gekry nie!”

“Ja, hier het ons dit nou! Die ganse wêreld tou nou agter Hom aan!”

“Kyk, as ons nie nou bitter vinnig optree nie, gaan hierdie ding baie lelik skeefloop. Dink nou maar vir julleself: wat gaan die Romeine doen as hulle sien dat hier ‘n groot opstand aan die uitbroei is? Dan is dit klaarpraat met ons! Dan is al ons harde werk van die afgelope jare tot niet! Daardie Romeine gaan ons opfrommel!”

“Ja ek stem saam! Ons moet onmiddellik van Hom ontslae raak, of ons is in groot moeilikheid!”

Johannes onthou skielik die woorde van Sagaria 9:9: “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ‘n oorwinnaar, Hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

Hy wonder of enigeen van hierdie duisende mense wat so al singende agter Jesus aan dans, hierdie woorde onthou? Johannes wil huil. Hy sien hoe sy Meester na Sy dood ry. Daardie manne gaan Hom beslis nie weer laat wegkom nie! Tóg ry Jesus gedweë die stad binne, soos ‘n Lam ter slagting gelei. Johannes verstaan dit gladnie. Hoe kan Hy so willens en wetens reguit in die slagyster inry?

“Hosanna!” Die skare is histeries! “Hosanna! Gee nóú verlossing! Hosanna! Hosanna!” Dit weergalm teen die stadsmure wat al nader kom. Dit is presies wat Jesus op pad is om te gaan doen - Hy gaan om verlossing te bewerkstellig! Maar dit is totaal anders as wat hierdie mense verwag.

Die gebeure daar voor Jerusalem se trotse stadspoorte, ruk ons vandag aan die hart, net soos wat dit vir Johannes geruk het. “Kon die Vader nie maar net verlossing gegee het nie? Waarom moes Jesus nou juis so verskriklik ly?” Dalk kon Hy, maar dan was dit goedkoop en afgewater. Ons verlossing het verskriklik duur gekom. God se genade is nie goedkoop nie, en juis dáárom vra dit van jou en my om ons dankbaarheid met passie uit te leef. Jesus was bereid om die volle pad te stap. Hy was bereid om doelbewus in die put vol adders in te klim om ons te red. Die skrikwekkende is dat Hy presies geweet het waarvoor Hy Hom inlaat!

Gebed:

Here, dit ruk in my, en ek kry diep seer as ek dink aan U groot offer vir my. Ek wil U dien, Here, met alles wat in my is, omdat ek so dankbaar is vir wat U vir my, sondaar, gedoen het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Intog
15 October, 2026
Diensbaarheid
14 October, 2026
Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026