Jesus Word Verheerlik

13 October, 2026


Matteus 17:1-8

Vir Johannes-hulle was dit harde werk en baie ontberinge om Jesus te volg. Dikwels moes hulle iewers onder die sterre op die harde grond slaap. Bedags moes hulle skares in toom hou en organiseer. Nogtans was dit alles ‘n reuse “avontuur” saam met die Messias. Maar toe begin hulle met groot kommer toekyk hoedat die donderwolke bokant hulle vorm! Die groot teenstand wat Jesus kry van die kerkleiers, maak hulle benoud. Daar kom al selfs doodsdreigemente! En skielik is dit nag as Jesus vir hulle vertel dat Hy in Jerusalem tereggestel gaan word. Simon is opstandig: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Hy verstaan nie.

Johannes het yskoud geword toe hy hoor hoedat Jesus vir Simon berispe: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Maar toe verduidelik Jesus dat dit nie maklik is om Hom te volg nie. Dit kan soms ‘n bitter moeilike pad wees. Jy kan selfs die dood in die oë staar! Maar die uiteinde is alles deur en deur die moeite werd.

Johannes kon die verdwaasde uitdrukking op Simon se gesig sien! Net ‘n dag of wat tevore nog was hy in die wolke, toe Simon dáárdie belydenis gemaak het dat Jesus die Christus, die Seun van die Lewende God is. Jesus het tóé vir hom gesê dat sy naam van nou af Petrus, die Rots sou wees. Hy het homself al klaar as die leier van die groep begin sien. En nou bring Jesus hom weer hard terug aarde toe.

Maar Simon, oftewel Petrus was nie die enigste wat al ‘n bietjie verhewe begin voel het nie. Johannes het sélf al ‘n bietjie neus-in-die-lug begin raak omdat hy een van die uitgesoektes was. Jesus moes dit agtergekom het, want Hy het dit duidelik gestel dat as hulle Hom wou volg, moes hulle hulleself verloën en Sy kruis dra. Dis nederige werk!

Skaars ‘n week later wink Jesus vir Johannes nader. Hy wou hê dat hy, Petrus en Jakobus saam met Hom teen ‘n berg opklim. Johannes het gewonder waaroor dit gaan, maar Jesus het nie ‘n woord gerep nie. Dit was ‘n verrassing! In doodse stilte het Jesus vooruit geloop. Hulle kon aanvoel dat hier iets baie groot aan die broei was.

Toe hulle bo kom, gebeur die byna onbeskryflike, die gebeurtenis wat permanent in Johannes se geheue ingegrafeer is. Oopmond het hy na sy Meester gestaar, want voor sy oë het Jesus se hele gedaante verander. Sy gesig het geblink, helder soos die son! Sy klere het spierwit begin skitter sodat Johannes skaars na Jesus kon kyk.

Die volgende oomblik het Johannes amper flou geval toe twee hemelse figure uit die niet verskyn het. Onmiddellik het Johannes net gewéét dat hulle die twee reuse uit die ou tyd is, Moses en Elia. Hulle het uit die hemel neergedaal om saam met Jesus te wees. Vir Johannes en die ander twee was hierdie asemrowende verskynsel nét een te veel. Dit was kosbare oomblikke en hulle wou dit vir altyd so bewaar. Hulle wou selfs vir hulle hutte daar bou sodat hulle vir ewig daar kon bly.

Maar hierdie was maar net die begin! Die volgende oomblik was daar ‘n skitterwit wolk bokant hulle, en uit die wolk kom die magtige stem van God: “Dit is My geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Soos dooies het Johannes-hulle op die grond neergeval. Hulle was gevul met angs. So bang is hulle, dat hulle nie eers wou kyk nie. Die Almagtige God het persoonlik met hulle gepraat!

Toe kom raak Jesus aan hulle: “Staan op, moenie langer bang wees nie.” Toe hulle hulle bevreesde oë oopmaak, was alles verby - dit was net hulle drie wat saam met Jesus was…..

Toe hulle daardie oggend van die berg afstap, het hulle ‘n duisend vrae gehad. Jesus het vir hulle mooi verduidelik van Elia en van Sy lyding wat op hande was en dat Hy doodgemaak sou word.

Wat die drie manne daardie oggend aanskou het, is slegs ‘n klein kykie in die toekoms, wanneer Jesus in heerlikheid op die troon sal sit. Die manne het wél die wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het, en by ‘n paar geleenthede het hulle bely dat Hy die Seun van God is. Maar hierdie dinge het nog nie werklik vir hulle behoorlik ingesink nie. Hulle het Jesus so half as vanselfsprekend aanvaar as maar net nóg ‘n Profeet. En dan, vir slegs ‘n enkele oomblik, kry hulle ‘n kykie in die hemel in, en hulle sien Jesus vir wie Hy werklik is, die ware, Lewende God! Moes dit dan nodig wees vir Jesus om Homself op só ‘n wyse te openbaar voordat hulle Hom werklik sou herken?

Ag, ons doen eintlik maar presies dieselfde! Al te dikwels aanvaar ons Jesus maar as vanselfsprekend. Hy is mos maar daar! Hy het so deel van ons alledaagse lewe geword, dat ons Hom nie meer herken as die Ware Lewende God nie. Ek kry dikwels diep seer as ek hoor hoe Christen-gelowiges verkleinerend of alledaags van Jesus praat. Dikwels word daar skertsend of selfs in ‘n grap na Hom verwys, wél in ‘n goeie sin. Maar met sulke soort opmerkings bring ons eintlik vir Jesus af na die vlak van die mens in ‘n slegte of vernederende sin. Ons moet altyd onthou WIE en WAT Hy werklik is. Hy is uiteraard God ALMAGTIG! Hy is die Koning van alle konings, die Skepper van die heelal!

Gebed:

Here Jesus, ek aanbid U as my Koning en my Here en my God. Al die lof en dank en aanbidding kom U alleen toe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026