Die dagstukkies is 'n inisiatief van Ballito Gesinskerk se Evangelisasie span en word geskryf deur Louis Nel.
 
Gratis E-boeke     -    BROODKRUMMELS  -  Ballito Gesinskerk
  

Het Jy MY Lief?

11 December, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het Jy MY Lief?

Johannes 13:31-38

VIDEO | LUISTER

Moeder Theresa is deur die wêreld gesien as ‘n ikoon van diensbaarheid en liefde. Sy is vereer met ‘n Nobel Prys, die hoogste eer wat enigeen kan kry. Maar as ons na haar lewe gaan kyk, dan is dit eintlik ‘n vaal bestaan van harde werk en swaarkry. Sy het daagliks te doene gehad met die armstes van armes. Haar maer, verrimpelde gesig was beslis nie dié van ’n filmster nie. In haar lewe was daar absoluut géén glorie nie!

Wanneer Jesus vir Sy dissipels sê dat Sy tyd van verheerliking aangebreek het, dan moet ons ook hierdie heerlikheid in perspektief stel. In menslike terme sien ons ‘n verheerliking as glans en glorie en alles wat blink. By ‘n gala-aand is almal uitgedos in die mooiste en duurste klere, en die edelstene skitter soos die sterre. Die verheerliktes word net mooi dinge toegedig, al is hulle soms vrot van binne. En die kroon wat hulle ontvang, mag dalk pragtig lyk en glorie uitspel, maar dit is ook maar bitter verganklik en hol.

Jesus se verheerliking werk totaal anders: ‘n Nag van angs in Getsemane, waar Hy bloed sweet en worstel met God, lui Sy verheerliking in. Dan word Hy liederlik verraai, verkoop vir ‘n handjievol muntstukke deur een van Sy vertrouelinge. Hy word gevange geneem en voor die hof gedaag, ‘n hof waar valse getuienis voor Hom geslinger word. Die vriend waarop Sy hoop gevestig is om die uitgestuurdes te lei, verloën Hom in sy grootste uur van nood!

Ja, dit was maar die begin van Jesus se verheerliking. Dit sou nog baie erger word, want Hy sou gespot word; hulle sou op Hom spoeg en Hom slaan; hulle sou Hom van bakboord na stuurboord stuur! Die hoogtepunt van Jesus se verheerliking sou aanbreek wanneer die soldate ruwe spykers deur Hom teen die vloekhout vaskap, en waar Hy daar sou hang as die bespotting van die ganse wêreld. Daardie plek is bedoel slegs vir die slegste van misdadigers. Is dit verheerliking? Baie meer nog: dit is LIEFDE!

Nie alleen is hierdie grusame gebeure ‘n verheerliking vir Jesus nie, maar ook vir God almagtig. Want hierin kry die grootste liefdesdaad van alle tye gestalte. Watter pa sal bereid wees om sy enigste seun, die een wat hy liefhet, te laat offer op ‘n grusame wyse sodat slegte mense gered kan word? Abraham was wel bereid om sy enigste seun Isak te offer, maar dit was vir God, en dit was baie edel. Nogtans het hy nooit tot die daad oorgegaan nie. Wanneer God dus Sy enigste Seun, die Een wat Hy liefhet ter slagting stuur om geoffer te word, en dit sodat slegte mense wat Sy vyande is, gered kan word, kan Hy alleen bekroon word met die hoogste eer en verheerliking wat daar moontlik is. En Jesus, wat Hom vrywillig aan hierdie grusame marteling en vernedering onderwerp, móét net eenvoudig hiervoor verheerlik en vereer word met die hoogste eer denkbaar. As Moeder Theresa ‘n Nobelprys kon kry, hoeveel te meer nie Jesus nie!

Alles kom eintlik neer op liefde. Soos reeds gesê, was dit die grootste liefdesdaad van alle tye. En dan kom Jesus, en Hy verbind hierdie liefdesdaad ook aan ‘n nuwe gebod aan Sy dissipels: “Julle moet mekaar liefhê.

“Aag, maar dis dan al ‘n ou gebod”, sou ons dalk wou sê, want uit die Ou Testament leer ons dat ons God moet liefhê en ons naaste soos onsself. Maar die liefde waarvan Jesus hier praat, is baie dieper as dit. “Soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Hoe lief het Jesus hulle? So lief, dat Hy bereid was om die verskrikking van die kruis te trotseer vir hulle. En natuurlik geld dieselfde vandag ook vir my en jou! Hoe lief het ek en jy ons medegelowiges? So lief dat ons selfs die ergste marteling sal deurgaan vir hulle?

Hierdie soort liefde het eintlik nie eers die tien gebooie nodig nie, want outomaties sal jy nie iemand anders se eiendom vat of hom doodmaak of seermaak nie. Dit sal tweede natuur wees om niks sleg van hom te sê nie. Maar hierdie liefde is nog véél dieper: Wanneer Paulus die liefde besing in 1 Kor 13, dan is dit die soort liefde waarvan Jesus hier praat.

Ons sê baie maklik dat ons Jesus so liefhet, dalk ook ons medegelowige en medemens, dat ons bereid is om enigiets te doen. In teorie is dit maklik, maar wanneer dit in die praktyk kom, dan raak dit ‘n totaal ander storie. Ja, selfs die grote ou Petrus, die Rots, die een met die sleutels van die Koninkryk, moes dit uitvind op die harde manier. “Ek sal my lewe vir U aflê!” sê hy vol selfvertroue vir Jesus. Maar dan moet Jesus hom hard neerbring aarde toe, want voor daardie droewige nag verby sou wees, sou die einste Petrus nie minder nie as drie keer vir Jesus verloën het. “Ek sal my lewe vir U aflê!” Werklik?

Petrus was werklik lief vir Jesus. Sy optrede het dit egter nie rêrag gewys nie, en hy het hard geval. Nogtans het Jesus hom steeds lief, en ons sien ná Jesus se hemelvaart hoedat Hy vir Petrus optel en sterk maak deur die Heilige Gees. Die vraag aan elkeen van ons is of ons Jesus waarlik liefhet? Hoe groot en sterk is ons liefde vir Hom, en hoe groot is ons liefde vir ons medegelowige?

Gebed:

Here, my liefde vir U en my medemens skiet so ver tekort. Hef my op, asseblief Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Het Jy MY Lief?
11 December, 2025
God se liefde in die Psalms
10 December, 2025
Die HERE is My Herder
9 December, 2025
Hoe Wyd is God se Liefde?
8 December, 2025
Onverganklike Liefde
5 December, 2025