Eksodus 6:1-29
Dikwels hoor ons dat jong gelowiges wegkruip agter die feit dat hulle eintlik nog maar uiters min weet van geloofsake. En inderdaad skryf Petrus in 1 Pet. 2 dat sulke jong gelowiges eintlik nog melk moet drink want die harde geestelike kos is vir hulle te taai om te verteer. Hier sien ons egter vir Moses, wat sy lewe lank nie eers bewus was van God se bestaan nie en na ‘n bitter kort “opleiding” die volk se geestelike leier word. Ons redeneer dalk dat hy nou nie juis baie gewillig was nie en ook maar baie teëgepraat het. Maar God gebruik hom, foute en al.
God praat met Moses en vertel hom dat Hy, die Almagtige (El Sjaddai) met Abraham ‘n verbond gesluit het en só ook met Isak en Jakob. In hierdie verbond het God aan hulle beloof dat Hy hulle ‘n groot nageslag sou gee. Inderdaad het dit reeds gebeur, want binne die bestek van ‘n paar honderd jaar het die byna-byna kinderlose Abraham se nageslag aangegroei tot meer as drie miljoen. En hierdie sluit nie eers die nageslag van Esau, Ismael en Abraham se ander kinders in nie! Maar daar was nog ‘n verdere belofte van die land wat aan hulle sou behoort. ‘n Mens wonder maar net: as Jakob nie so lekker gebly het in Egipte nie, of hierdie belofte nie dalk al lankal in vervulling sou kon gaan nie? Hieroor kan ‘n mens baie lang debatte voer!
Nou sê God vir Moses dat Hy nog nooit vergeet het van daardie belofte nie en dat Sy verbond steeds vasstaan! Hy sou steeds die land Kanaän aan Sy volk gee, selfs al is hulle nie eers burgers van daardie land nie. Hy het natuurlik ook die gekerm van die Israeliete gehoor oor die slawe-arbeid wat hulle moet verrig en Hy sal hulle sékerlik daarvan verlos. Verder sê Hy dat Hy hulle aanneem as Sy volk en dat Hy ook vir hulle ‘n God sal wees. Hy sal hulle na die land Kanaän toe neem en Hy sál die land aan hulle gee as hulle eiendom!
Ons moet hierdie beloftes in gedagte hou wanneer ons later in die verhaal sien hoedat die Israeliete te bang is om die land binne te gaan. Die bewoners van die land het vir hulle te groot en sterk gelyk en hulle was gevul met vrees. Hulle het vergeet dat die Here belowe het dat Hy die land vir hulle sou gee en dat die inwoners nie eers ‘n faktor sou wees nie! Uiteindelik leer die geskiedenis ons dat toe Josua die volk die land binnelei, toe val die stede se mure sommer vanself om. God is baie groter en magtiger as wat ons verstand ooit sal kan begryp!
God se verlossingsprogram vir Israel is dramaties - Israel word bevry van sy dwangarbeid en verlos van die verknegting. Hulle word vrygemaak en as volk aangeneem. Boonop kry hulle ‘n eie land.
Nou gaan Moses terug na die Israeliete en hy vertel hulle wat God gesê het. Hulle is egter so moedeloos oor al die harde werk wat op hulle afgeforseer word, dat hulle nie eers na Moses wil luister nie. Hulle blameer hom steeds vir die verknorsing waarin hulle sit.
Maar God het alreeds ‘n nuwe opdrag vir Moses: hy moet terug na die Farao en hierdie slag moet hy vir die Koning gaan sê dat hy die Israeliete moet laat trek uit sy land uit. Nou is dit nie meer net ‘n “piekniek” in die woestyn nie maar die Farao word vriendelik, dog dringend versoek om hulle permanent te laat wegtrek.
Dan begin Moses alweer met sy verskonings: “Ek praat nie juis maklik nie.” en “Die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die Farao dan nog na my luister?” Het die Here dan nie alreeds albei hierdie sake vir Moses opgelos nie? Het Hy nie klaar die welsprekende Aäron gegee om as spreekbuis op te tree nie? Wat is Moses se probleem dan nog? Was Moses dalk sélf al moedeloos? As hy my werknemer was, sou ek dit dalk al ernstig oorweeg het om hom in die pad te steek!
Nogtans is God steeds geduldig met Moses en Hy stuur hom en Aäron wéér na die Farao. Hulle opdrag van God aan die koning van Egipte is om die Israeliete uit Egipte vry te laat. God kan spreekwoordelik met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan en Hy gebruik die hakkelende, onwillige, protesterende Moses om Sy wonderlike doel te bereik.
Inderdaad gebruik Hy juis dikwels swak mense om dinge gedoen te kry. Dit is binne God se magsvermoë om die volk te verskuif na Kanaän met een enkele woord, maar Hy doen dit nie! Hy wil mense gebruik om dit te doen. God werk vandag nog steeds so, en Hy gebruik nog steeds doodgewone mense met al hulle swakhede om dinge te doen vir Sy Koninkryk. Ek en jy val binne die kategorie van mense wat God wil gebruik. Die vraag is of ons ook nes Moses soos ‘n steeks donkie vasskop elke keer as die Here van ons iets vra? Uiteindelik het Moses tóg geleer en later sien ons hom as die rotsvaste een wat God se opdragte uitvoer - maak nie saak wát gebeur nie!
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om te doen wat U van my vra!