Handelinge 14:12-20
“Zeee-us! Zeee-us! Zeee-us!” dreunsing die skare. Paulus voel hoedat dit yskoud in hom raak. Hy sien ook dat van die mense na hom beduie, en dan hoor hy die naam “Hermes”, en dit laat hom benoud voel.
“Barnabas my broer, wat is hier aan die gang?” Hy verstaan nie Likaonies, die plaaslike taal nie. Maar hy voel aan sy bas dat hier iets onheilig besig is om te broei. Ja, natuurlik weet hy van Zeus. Dit is die hoofgod van die Grieke, en Hermes is Zeus se seun en sy woordvoerder. Stadig begin dit tot Paulus deurdring dat hierdie mense dink dat hy Hermes is, omdat hy al die praatwerk doen, en die groot, bebaarde Barnabas is die hoofgod Zeus!
“Nee, nee!” skud Paulus heftig sy kop. “Ons is nie gode nie, ons is maar doodgewone mense nes julle!”
Maar niemand hoor hulle eers nie. En wanneer hy weer sien, dan het die priester van die Zeustempel hom aan die arm beet, en die twee manne word na die stadspoort meegesleur in die rigting van die manjifieke tempel wat net buite die stad gebou is. Daar merk Paulus 'n paar bulle op wat ter slagting gelei word, asook talle veelkleurige blomkranse. Paulus se hart klop in sy keel.
“Hoe stop ons hulle?” skreeu hy bo die lawaai uit vir Barnabas, wat sukkel om uit die maalkolk te kom. Dan dring die besef deur tot die twee manne dat hierdie bulle vir húlle geoffer gaan word. En die blomme is daar om húlle te vereer!
Uit pure frustrasie skeur Paulus sy klere en Barnabas volg sy voorbeeld. As die skare dit sien, bly hulle geskok stil en staar die twee oorblufte manne aan. As iemand nog in aanbidding voor hulle wil buig, spring Barnabas woedend op die man af: “Hou op! Hou asseblieftog net op! Ons is maar net mense!”
“Ja,” beaam Paulus, “ons is doodgewone sterflike mense nes julle! Wat julle hier besig is om te doen is Godslasterlik!” 'n Geskokte stilte sak toe oor die skare. Met 'n bewende stem begin Paulus verduidelik: “Ons.... ons is maar net boodskappers van die Lewende God! Ons bring juis die blye boodskap vir julle dat dit nie nodig is om julleself aan hierdie sinlose gode te onderwerp nie. Laat staan hulle en bekeer julle tot die enigste ware God! Hy is die Een wat die hemel en die aarde gemaak het, én die see met al die diere wat daarin rondswem!”
Nou het hy almal se aandag, en hulle hang aan sy lippe. Hy vertel vir hulle dat hierdie God hulle aanvanklik maar toegelaat het om hulle eie gang te gaan. Maar nou het Hy gekom om hulle te laat deel in die goeie dinge. Ja, inderdaad is dit ook Hy wat reën gee en kos en oeste, ál die goeie dinge van die lewe. En Hy wil hulle gelukkig maak.
Die priesters skud hulle koppe. “Hierdie twee is inderdaad gode!” En dan gaan hulle voort en begin die offers voorberei onder luide protes van Paulus en Barnabas.
Maar dan gebeur daar 'n verdere ding wat so byna-byna die twee manne se sendingdraadjie hééltemal afknip. Die Jode in Antiogië het met die druiwerankie langs verneem dat Paulus en Barnabas in Listra is en dat hulle goeie resultate daar kry. Dan stap 'n klompie van hulle oor na Listra om te gaan keer dat daardie mense nie dalk verval in hierdie “dwaalleer” nie. By Ikonium kry hulle nog 'n klompie versterkings. Met hulle aankoms begin hulle sommer dadelik kwaad stook, veral onder die stad se Jode. Binne 'n ommesientjie is daar al sommer 'n groot skare woedende Jode wat voel dat hulle mislei is.
Wanneer die twee manne agterkom wat aan die gang is, is dit reeds te laat om te vlug. Woedend word hulle met klippe bestook. Paulus is die groot “belhamel” en ál die Jode se woede word op hom gekonsentreer. Paulus steier onder die groot aanslag, totdat hy uiteindelik bewegingloos bly lê, skynbaar morsdood. Woedend sleep die skare sy “lyk” uit die stad uit en laat dit daar lê vir die aasvoëls om sy beendere skoon te vreet.
Bang-bang sluip 'n groepie gelowiges nader wanneer die stof gaan lê het. Hulle kom om Paulus se liggaam te versorg en om hom 'n eerbare begrafnis te gee. Maar dan maak die “lyk” sy oë oop. Pynlik staan hy op terwyl die mense hom oopmond dophou. Dan ruk Paulus hom reg: “Kom, ons het werk om te doen! Ons kan mos nie heeldag hier rondstaan nie?”
En so stap Paulus weer die stad binne, gevolg deur 'n skare van gelowiges wat nuwe moed geskep het. Maar Paulus besef maar ál te goed dat hulle hier nie meer welkom is nie. Die volgende oggend vertrek hulle na Derbe om ook dáár die Evangelie met groot blydskap te gaan verkondig.
Moenie toelaat dat 'n ou klein terugslaggie jou onderkry nie. Vir Paulus sou daar nog vele sulke “terugslae” voorlê. Hierdie verhaal moet my en jou vandag die moed gee om op te staan en maar net voort te gaan om die evangelie te verkondig, selfs wanneer ons daarvoor gekasty word. Ek het sélf al 'n paar harde klappe gekry. Maar jy vergeet sulke dinge gelukkig baie gou!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie kosbare les uit Paulus se lewe. Maak my asseblief sterk om aan te gaan wanneer ek vervolg word vir die Evangelie!