Wanneer die Here Praat

18 August, 2026

1 Samuel 3:1-9

VIDEO | SPOTIFY

In die heiligdom in Silo het dit nie goed gegaan nie. Die ou priester Eli het baie oud begin raak en sy twee seuns, Hofni en Pinehas het al hoe meer goddeloos geraak. Hierdie “kerkleiers” het hulle plig liederlik versuim. In 1 Sam 3:1 staan die aanklag: “Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie.” In vandag se terme sou ons dalk kon sê: “Die dominee het nie meer Sondae gepreek nie.” Hoe verskriklik!

In hoofstuk 2 lees ons dat daar op ‘n dag ‘n man van God by Eli aangekom het met ‘n boodskap van God af. Hoe ironies dat iemand van buite vir Eli, die een wat veronderstel is om met God te kommunikeer, ‘n boodskap van die Here af moet bring! Die ou priester het nie meer God se stem gehoor nie!

Die kêrel kom vertel vir Eli hoe geweldig bevoorreg hy eintlik is, want die Here het hom en sy gesin uitgekies om in Sy diens te staan! Vir geslagte al, van Aäron se tyd af het sy familie die voorreg gehad om namens die volk offers te bring en in te staan vir die volk by die Here. Maar hy en sy twee seuns het alles opgemors! Hulle het op ‘n korrupte manier voordeel getrek uit die offergawes van die volk. Hulle het die Here geminag, en daarom spreek hy nou namens die Here ‘n oordeel uit oor Eli en sy nageslag. Sy twee seuns gaan albei op jeugdige ouderdom op dieselfde dag sterf. Die priesterskap sal boonop van sy familie weggeneem word. Hy sê dat die Here sélf ‘n betroubare priester in Eli se plek sal aanstel, een wat sal doen wat die Here van hom vra!

Dit vra van ‘n priester baie jare se ervaring en opleiding om diens te doen in die heiligdom. Dit is g’n kinderspeletjies om namens die hele volk by God in te tree vir hulle sondes nie. Dan is daar boonop nog dik boeke vol kennis wat jy moet hê van al die moets en moenies wanneer dit by offerandes aan die Here kom. Alles moet een honderd persent volgens die boek gedoen word! Tóg kies die Here nie iemand met jare en jare se ervaring om by Eli oor te neem nie, maar ‘n klein seuntjie met géén ervaring, gesag of geleerdheid nie.

Dit het só gebeur: Klein Samuel het in die tempel geslaap. Eli het in ‘n kamer langs die tempel geslaap. Onthou, as ons hier van die tempel praat, is dit waarskynlik ‘n gebou wat dien as ‘n plek van aanbidding. Dit word nie in die Bybel vir ons beskryf nie en ons kan slegs aannames maak uit wat ons lees. Die eintlike tempel is eers baie jare later gebou.

Daar was ‘n lamp in die tempel wat heelnag moes brand en eers geblus word wanneer dit lig word. Dit was reeds vroegoggend, maar steeds so donker dat die lamp nog gebrand het. Dan hoor klein Samuel iemand wat hom roep. Gehoorsaam spring hy dadelik uit die bed uit en hardloop na Oom Eli. Maar Eli sê hy het hom nie geroep nie. Samuel weet nie mooi wat om hiervan te maak nie, en dan gaan kruip hy maar weer in.

‘n Tweede keer gebeur dit, en weereens spring Samuel op. “Hier is ek Oom Eli, u het my geroep.” En weereens stuur Eli hom weer terug kooi toe met: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”

Samuel verstaan nou gladnie! Hy het Eli tog hard en duidelik hoor roep, en hy het hom op sy naam genoem! Ewe gedweë gaan kruip hy weer in. Skaars het hy egter sy lê gekry of die stem roep hom ‘n derde maal. Wanneer hy by Eli kom, gaan daar ‘n liggie vir die gryse ou man op: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!” Dit kan maar nét die Here wees wat met die seuntjie praat!

Dis só ironies dat Eli, die dienaar van God wat elke dag in die huis van die Here werk, gladnie verwag het dat God óóit met hulle sou praat nie! Het hy só afgestomp geraak dat hy nie meer die Here kon hoor nie? G’n wonder dat die Woord van die Here so skaars was nie!

Voel dit nie soms vir jou asof die Here nie meer met jou praat nie? Dit kan dalk wél wees dat Hy tóg met jou praat, maar dat jy nie meer Sy stem herken nie! Dalk is jy gladnie eers bewus daarvan dat die Here besig is om met jou te praat nie!

Eli het klein Samuel geleer hoe om die Here te dien. Dit het beteken dat hy moes leer hoe om al die rituele uit te voer. Wat hy hom egter nooit geleer het nie, was om in ‘n verhouding met die Here te staan, of om na die stem van God te kan luister nie. Hierdie dinge is baie belangriker as al daardie regte aksies en rituele.

Wanneer Eli na die derde probeerslag vir Samuel sê dat hy vir die Here moet sê: “U dienaar luister”, kom die regte houding uiteindelik uit. Daar is twee baie belangrike aspekte van ons verhouding met die Here wat hier ter sprake is: Om te luister en om te dien.

Vandag praat die Here nie met ons in ‘n hoorbare stem soos destyds met Samuel nie, want ons is in die wonderlike bevoorregte posisie om God se Woord, die Bybel te hê, iets wat hulle nie gehad het nie. Die Heilige Gees praat onder meer met ons deur die Bybel. Maar ons moet ons geloofs-ore instel om te kan “hoor” wat Hy vir ons wil sê. Ons moet die Bybel lees met die regte gesindheid, met ‘n oop gemoed en in afwagting vir dit wat Hy vir ons wil sê!

Gebed:

Here, maak my geloofs-ore oop sodat ek U stem helder en duidelik kan hoor en maak my gewillig om ook te doen wat U vra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026