Die Ark is Gebuit!

20 August, 2026

1 Samuel 4

Samuel speel ‘n belangrike rol in vanoggend se verhaal, alhoewel sy naam nie eers vermeld word nie.

Eintlik begin die verhaal reeds by gister se storie, waar die Here vir Samuel die opdrag gegee het om vir Eli die boodskap oor te dra van die Here se oordeel oor Eli en sy nageslag. En dan word die jong seun Samuel se heel eerste profesie presies nét so bewaarheid!

Dit het só gebeur: In die boek Rigters, wat afgespeel het net voor Samuel, lees ons van die Filistyne wat hierdie arme Israel soveel hoofbrekens gegee het. Kyk maar net wat het hulle met Simson gedoen! Nou raak hierdie éinste Filistyne vir die hóéveelste keer haaks met die Israeliete, en daar breek ‘n oorlog uit.

Israel trek vir die sóveelste keer alweer aan die kortste end en die Filistyne met hulle gevorderde wapentuig knou hulle liederlik af. Nie minder nie as vierduisend van hulle manskappe sneuwel! Vir Israel is dit ‘n gevoelige slag!

Die manne sit koppe bymekaar en vra vir mekaar waarom dit met hulle gebeur het. Die gevolgtrekking wat hulle maak is dat dit alles die Here se skuld is! Hy is nie by hulle nie, dus verloor hulle!

“Nou kom ons gaan haal Hom dan!” besluit die manne.

Die verbondsark was die simbool van God se teenwoordigheid by Israel. As hulle dus die verbondsark saam met hulle op die slagveld het, sal God mos ook daar wees, want dis mos waar Hy bly! As hulle die Here by hulle op die slagveld het, sal hulle wen! Só het hulle geredeneer. Dus laat kom hulle die priesters met die verbondsark. Hofni en Pinehas, Eli se twee seuns was ook saam met die priesters wat die ark op die slagveld moes besorg.

In Israel se laer gaan daar ‘n reuse kreet op wanneer die ark daar aankom, want nou het die Here daar aangekom! Terselfdertyd gaan daar ‘n gekerm op by die Filistyne, want hulle het al te doene gehad met hierdie God van Israel. Hulle besef sommer dadelik dat hulle nou gedoem is. In plaas daarvan dat hulle die hasepad kies, soos enige regdenkende Filistyn sou doen, besluit hulle egter dat hulle maar hulle dood tegemoet sou gaan. Hulle sou maar ‘n kans vat en teen die Israeliete en hulle God gaan veg!

Maar dan gebeur die verrassende: téén alle verwagtinge in, wen die Filistyne die geveg. Hulle loop skoon dwarsoor die Israeliete en verpletter hulle ten spyte van die teenwoordigheid van die Verbondsark. Dertigduisend Israeliete sneuwel daardie droewige dag.

Dis egter nie al nie: die ondenkbare gebeur en die Filistyne buit die verbondsark! Natuurlik is die priesters wat die ark moes versorg, almal doodgemaak. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas was ook daar. Die twee sterf saam met die ander priesters.....

En toe begin dinge interessant raak!

Die handjievol Israeliete wat ná die bloedige geveg oorleef het, spat uitmekaar en hardloop huistoe. Een van hulle kom in Silo aan. Daar tref hy die gryse ou Eli aan waar hy in spanning op sy stoel sit en wag vir enige nuus uit die slagveld. Hy is bitter bekommerd oor die verbondsark, want hy het gevoel dat dit nie reg was dat die ark na die slagveld geneem moes word nie. Die ark behoort mos in die heiligdom!

Wanneer hy die man sien aangehardloop kom, begin sy hart sommer wild klop, want aan die man se houding kan hy dadelik sien dat hy die draer van slegte nuus is. Die mense van Silo hardloop die boodskapper tegemoet, en begin dadelik kerm as hulle hoor wat gebeur het. Die gekerm bereik Eli se ore, en dan wéét hy dat daar ‘n tragedie afgespeel het.

Uiteindelik kry Eli die boodskapper onder oë en die man vertel hom: “Jou twee seuns het op die slagveld gesneuwel!”

Natúúrlik is dit ‘n skok vir Eli, maar hy het dit verwag. Samuel het mos vir hom gesê dat dit sou gebeur, en só ook die man van God. Maar dan laat bars die kêrel die bom: “En die Filistyne het die verbondsark gebuit!”

“Die verbondsark van God!” ruk dit deur Eli. “Nee! Nee, nie dit nie!” Die skok van die nuus oor die ark is vir Eli só groot, dat hy agteroor val van sy stoel af en sy nek breek. Eli se dood is die tweede deel van Samuel se profesie wat waar word.

Maar daar is meer: wanneer Pinehas se swanger weduwee die tragiese nuus van haar man se dood en van die ark hoor, is die skok só groot dat sy nét daar inmekaar trek en in kraam gaan. Sy noem haar seuntjie Ikabod – “Waar is die eer?”

Die boodskap van hierdie droewige verhaal is baie duidelik: Moenie God probeer manipuleer nie! Die Israeliete het probeer om die Here te dwing om hulle ‘n oorwinning te gee deur die ark na die slagveld te neem.

Ons kan God nie dwing of manupileer nie! Op géén manier nie!

Die vraag is: wat help dit dan nog dat ons bid en van God iets afsmeek? Die Here wil júís hê dat ons bid, want daardeur erken ons ons totale afhanklikheid van Hom. Maar dan moet ons terselfdertyd baie goed besef dat alles, álles slegs genade is! Ek kan nie die Here se “arm draai” deur mooi dinge te doen nie. Om byvoorbeeld hierdie dagstukkie te skryf, is harde werk. Maar ek kan nie daarmee God se guns wen nie. Ek doen dit slegs uit dankbaarheid vir wat Hy alrééds vir my gedoen het!

Gebed:

Dankie Here, vir alles wat U vir my gedoen het. Ek wil U dien Here, maar ek verwag nie guns daarvoor nie. U genade is vir my genoeg!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026