Luister en Doen

19 August, 2026

1 Samuel 3:10-21

Klein Samuel het, gehoorsaam aan Oom Eli, weer op sy bed gaan lê en met groot afwagting geluister vir die stem van God. En hy is beslis nie teleurgestel nie, want skaars het hy gelê, of hy hoor weer die stem na hom roep: “Samuel, Samuel!”

“Praat, Here, u dienaar luister!” antwoord hy opgewonde.

Dan antwoord die Here die jong seun: “Kyk, Ek gaan iets doen in Israel wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. Op daardie dag sal Ek teenoor Eli alles vervul wat Ek oor sy huis aangekondig het, van die begin tot die einde.” Met kloppende hart luister Samuel hoedat die Here vir hom ‘n opdrag gee om ‘n bitter onaangename boodskap aan die gryse Oom Eli te gaan oordra.

Samuel moet aanhoor dat die Here al by ‘n vorige geleentheid ‘n oordeel oor Eli en sy familie aangekondig het. Eli het sékerlik genoeg tyd gehad om dinge reg te stel, maar hy het dit nie gedoen nie. Nou gaan die Here daardie oordeel oor hom voltrek, want hy het báie goed geweet van die dinge wat sy twee seuns aangevang het, en hy het niks daaraan gedoen nie. Eintlik was dit daardie twee seuns wat ‘n vloek oor Eli se familie gebring het met hulle walglike optrede.

Die Here sluit die boodskap wat Samuel vir Eli moet oordra, af met hierdie ontstellende woorde: “Daarom lê Ek 'n eed af teenoor die huis van Eli: Die sondeskuld van Eli se huis sal vir ewig nie versoen kan word deur slagoffer en graanoffer nie.

Samuel het op sy bed bly lê met ‘n kloppende hart: “Hoe moet ek óóit hierdie verskriklike nuus aan Oom Eli breek?” Dis nog donker en hy speel vir tyd, dus lê hy maar nog. Hy sal wel aan ‘n manier dink om die nuus ‘n bietjie sagter te maak. Hy probeer verder slaap, maar die slaap ontwyk hom.

Wanneer dit begin lig word, staan Samuel op en begin met sy dagtaak. Hy gaan maak die deure van die tempel oop maar hy bly ver van Oom Eli se kamer af weg want hy is bang. Maar Eli hoor die gewerskaf en dan roep hy vir Samuel nader: “Samuel, my seun!”

Met kniekoppe wat onbedaarlik teenmekaar klap, loer hy skugter by die ou priester se kamer in. Hy sal maar die boodskap sag maak en al die ergste goed weglaat, besluit hy. Maar Eli neem die wind skoon uit sy seile. Die ou priester het seker maar verwag wat na sy kant toe sou kom, en hy wou dit makliker maak vir die outjie, dus is sy eerste woorde aan Samuel hard en op die man af: “Jy moet elke dingetjie vertel! God sal jou straf as jy iets vir my wegsteek.”

Samuel het nie ‘n keuse nie, en dan kom hy uit met die hele sak patats. Woord-vir-woord herhaal hy alles presies soos wat die Here dit vir hom gesê het. Hy bewe soos ‘n riet, want hy het verskriklike goed vir die ou man gesê en hy verwag dat sy kop enige tyd afgebyt gaan word. Samuel begin onbedaarlik huil. Hy is eintlik nog maar net ‘n jong seuntjie, en nou moet hy al sulke verskriklike boodskappe oordra! Oom Eli gaan hom beslis verskree!

Die reaksie wat Samuel kry, is verrassend, om die minste te sê. Bedaard en sonder veel emosie antwoord Eli: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.” Eli het dit verwag – hy het gewéét!

Hierdie was die bloedjong Samuel se eerste groot vuurdoop. En hy het dit met vlieënde vaandels geslaag!

Die oomblik toe die seun leer om na die Here te luister en te doen wat Hy sê, begin dinge gebeur. In die volgende vers lees ons: “Samuel het grootgeword. Die Here was met hom en het nie een van sy woorde onvervuld gelaat nie.”

Wat ‘n ommekeer! In die begin van die hoofstuk het ons gelees dat die woord van die Here selde gehoor was. Nou gebeur presies die teenoorgestelde! Waarom? Het die Here nou weer besluit om te praat?

Nee, inderdaad was dit gladnie die geval nie. Omdat Eli en sy seuns so ver van die Here af weggedryf het, was hulle nie meer bruikbaar om die Woord uit te dra nie. Daar was niemand om vir die volk te kon sê wat die Here sê nie. Wanneer ‘n verkondiger van die Woord voor ‘n gemeente gaan staan, behoort sy eerste woorde te wees, “So sê die Here:” Eli en sy seuns kon dit nie doen nie, want daar was géén verhouding tussen hulle en die Here nie.

Samuel het egter ‘n verhouding met die Here. Hy is bereid om te luister wat die Here vir hom sê en terselfdertyd is hy bereid om te doen wat die Here van hom vra. Dit maak die kanaal oop vir kommunikasie. Nie alleen kan Samuel die boodskap van God aan Eli oordra nie, maar weldra leer hy om dit ook aan ander mense en uiteindelik die volk oor te dra. Die gevolg? “Die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel betroubaar was as 'n profeet van die Here.” Nee, die Here was nie weg nie, maar deur Samuel het Hy sigbaar geword.

Die vraag is of ek en jy die Here sigbaar maak aan ander mense deur ons gehoorsaamheid en gedrag?

Gebed:

Here, maak my gewillig om te luister en veral om te doen wat U vra sodat U deur my optrede sigbaar kan word!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026