Mense stroom na Jesus!

17 September, 2026

Matteus 4:23-25

Toe Johannes sien, begin dit al aand word. Hy skrik hom yskoud: waar het die tyd heen gevlieg? Hy het skoon tred verloor met tyd en plek, en hulle is nou baie ver van Pa Sebedeus se skuit af. Die Oukêrel is seker al woedend dat hulle nog nie opgedaag het vir die nag se visvang nie!

“Ons slaap vannag sommer hier op die strand,” kondig Jesus aan, en hulle begin vuurmaakhout bymekaarmaak vir die nag.

“Maar Rabbi, ek en my broer moet gaan werk! Pa wag vir ons, en ek ken my pa, hy gaan slange vang as ons nie betyds daar aankom nie!” Johannes is ‘n baie bekommerde man. Hy wonder waarom Simon en Andreas so rustig is oor die hele situasie? Dit lyk nie of dit Simon enigsins pla dat sy skuit nie vannag uitgaan nie!

Dan verduidelik Jesus dat hy rustig moet raak. As Johannes Sy dissipel wil wees, moet hy bereid wees om álles op te gee en vir die volgende paar jaar saam met Hom gaan. Hy hoef rêrag ook nie bekommerd te wees oor waarvan hulle gaan lewe nie of waar hulle gaan slaap nie. Daar sal wél vir hulle gesorg word.

Simon stap na een van die vissermanne toe en vra of hy gou sy werpnet kan leen. Tot almal se verbasing kom hy ‘n halfuur later terug met ‘n yslike groot vis, genoeg vir hulle almal.

Die volgende dag is dit Vrydag. Omdat die Sabbat al teen sononder begin, maak hulle al vroeg kamp sodat ál die werk afgehandel is voordat die Sabbat aanbreek. Jesus het gesorg dat hulle net buite ‘n dorpie uitkamp sodat hulle binne ‘n Sabbatsreis van die sinagoge is. Hulle wil die volgende oggend die sinagoge gaan besoek en hulle mag nie verder as 2000 el (900m) loop nie. Teen hierdie tyd het hulle groepie al aangegroei met nóg ‘n paar manne wat besluit het om Jesus te volg.

Vroegoggend stap die groepie manne na die sinagoge toe. Sommer dadelik word Jesus gevra om die woord te voer aangesien Hy mos die een of ander Rabbi is, en dat Hy weet waarvan Hy praat. Die priester rol die groot boekrol voor Jesus oop, en Hy begin daaruit voorlees. Daar sak ‘n doodse stilte neer oor al die manne in die gebou wanneer Jesus van die geskrif opkyk en begin praat. Oopmond, sprakeloos luister hulle na die wonderlike woorde wat uit Sy mond voortvloei. Hy praat met sóveel gesag en wysheid dat hulle nie kan ophou luister nie.

Die volgende oggend is daar al van vroegdag af ‘n klomp mense wat Jesus kom opsoek. Die nuus het baie gou versprei oor hierdie nuwe Rabbi wat so wonderlik kan praat. In die sinagoge word net die manne toegelaat. Nou kom die vrouens ook by, want hulle wil óók mos weet waaroor al die bohaai gaan!

Johannes steek skielik in sy spore vas. Hy skud sy kop om seker te maak dat hy nie droom nie! Skielik het Jesus net voor hom afgebuk na iemand wat baie siek was. Toe Hy die vrou aanraak, was sy oombliklik genees! Nou staan sy blakend gesond hier voor hom! Jy kan duidelik hoor hoe die mense rondom haar hulle asems intrek in ongeloof. “Wat het hier gebeur?!” wonder Johannes.

Skielik is daar nóg iemand met ‘n probleem, en ook sý word genees! Nou is die ark oop! Die nuus versprei soos ‘n veldbrand oor hierdie nuwe “Wondergeneser” en so gou as wat jy sê “Mes!” wemel dit van siekes met allerhande soorte kwale. Johannes se mond hang behóórlik oop - sowat het hy nog nooit aanskou nie! En sy hart swel van trots, want dit is sý Rabbi wat hierdie wonderdade doen!

Maar saam met daardie asemrowende wonderwerke, kom daar nou vir Jesus se dissipels harde werk. Skielik moet hulle nou skarebeheer toepas en siekes begin organiseer. Binne dae stroom derduisende mense na hulle toe. En tussen al die genesings deur, maak hulle Meester steeds tyd om met die mense te praat en hulle allerhande wonderlike dinge te leer.

Dae word weke en weke maande. Hulle bly nooit lank op een plek nie. Hulle loop van dorpie na dorpie en Jesus praat op elke Sabbat in ‘n ander sinagoge. Regdeur die hele Galilea trek hulle totdat daar nie ‘n enkele persoon is wat nie van Jesus weet nie.

Teen hierdie tyd is dit lankal nie meer net hulle vier wat vir Jesus dag-na-dag volg nie. Hulle groepie het nou al aangegroei tot ‘n groot klomp mense. Hulle het hulleself die taak opgelê om oral te help, want elke dag is hier nou al duisende mense wat na Jesus kom luister en veral kom om genees te word van hulle kwale. Nou is dit ook nie meer net die mense uit Galilea nie, maar van oral, Dekapolis, Jerusalem, Judea en selfs mense van oorkant die Jordaan af.

En Johannes het láánkal vergeet van Pa Sebedeus!

Dit moes ‘n asemrowende ondervinding gewees het om saam met Jesus te kon wees. Maar terselfdertyd was dit baie harde werk. Om die Evangelie uit te dra is nie kinderspeletjies nie. Vra maar vir die sendelinge wat dikwels harde bene kou. Maar dit is deur en deur die moeite werd!

Gebed:

Here, ek dink vanoggend aan elkeen wat besig is om in U wingerd te werk. Gee hulle asseblief krag, deursettingsvermoë, liefde en wysheid, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026