Matteus 4:18-22
“Ek wonder wie’s dit daai? Ek het hom nog nie vantevore hier gesien nie!” Die negentienjarige Johannes se skerp ogies sien sommer dadelik die Vreemdeling raak wat op die strand aangeloop kom.
Ouboet Jakobus lig sy oë van sy werk om die visnet reg te maak: “Nee, ek ken hom nie.” Die net het nogal erg beskadig met laasnag se visvangsessie “Los nou daai vreemdeling Johannes, hierdie net moet regkom voordat ons vanaand uitvaar. Toe, bring jou kant!”
Maar Johannes is nie tevrede nie: “Dis nie dalk daai Een waarvan my Rabbi gepraat het nie?”
Johannes het ál sy spaartyd by die Doper gespandeer. Hy het letterlik aan die lippe van hierdie rowwe profeet gehang. Johannes het homself eintlik gesien as ‘n dissipel van die Doper en hy het gewens dat hy óók eendag so sou kon preek vir die mense.
Johannes se aandag is vanoggend gladnie by sy werk nie en kort-kort kyk hy op om te sien wat die vreemdeling doen. “Jakobus, hy staan nou met Simon en Andreas en gesels!”
Jakobus kyk op. Hulle twee vissersvriende staan nog halflyf in die water, besig om ‘n treknet in te sleep en dit lyk asof die vreemdeling diep in gesprek is met hulle, waar hy op die strand staan. “Arme Simon-hulle het seker laasnag niks gevang nie, dié dat hulle nou hier op die strand moet probeer om ietsie in die hande te kry!”
“Johannes!” bulder Pa Sebedeus. “Watse gedroom is dit hierdie? Toe, toe, die nette moet klaarkom! Hou op ginnegaap!”
Johannes skrik hom yskoud. Pa Sebedeus is ‘n befoeterde ou man! Dis seker van hom wat hy en boetie Jakobus hulle humeur geërf het. Oorhaastig begin hy weer werk aan die stukkende net. Maar sy gedagtes bly by daardie Vreemdeling. As hy dit waag om skelm op te kyk, sien hy dat Simon en Andreas hulle net in hulle skuit gegooi het. Nou is hulle in ‘n druk gesprek op die strand met die vreemdeling.
Johannes vrek van nuuskierigheid, maar hy moet konsentreer om die net reg te knoop, anders kry hy met Pa se skerp tong te doene. As hy weer opkyk, is hy net betyds om te sien dat Simon en Andreas reguit na hulle skuit toe aangestap kom, vergesel van die Vreemdeling.
Die Man wink vir hom en Jakobus om af te klim. Hulle spring van die skuit af, en dan tref die Man se sagte woorde hom: “Volg my!” Johannes wil nog beduie na Pa Sebedeus wat hulle staan en aangluur. Maar dan sê die Man iets wat hom totaal onkant vang: “Kom saam met My, Ek sal julle vissers van mense maak!”
Dan herken Johannes Hom: Hy ís die Een van Wie Johannes die Doper gepraat het! Op daardie oomblik wéét Johannes dat hy hierdie Man se vriendelike uitnodiging net eenvoudig nie kan, nie mág weier nie. Hy praat met sovéél gesag, sovéél oortuiging dat Johannes en Jakobus albei onmiddellik instem. ‘n Briesende Pa Sebedeus word oorhaastig gegroet, en dan stap die vier manne saam met die Vreemdeling.
Johannes hou sommer dadelik van hierdie Man. Hy is vriendelik en met ‘n innemende geaardheid. Sy naam is Jesus en hy kom van Nasaret af. Daar het Hy gewerk as ‘n ambagsman. Maar Sy eie mense wou Hom nie meer daar hê nie. Hulle het Hom uit die dorp gejaag omdat Hy hulle die waarheid vertel het. Hulle het selfs probeer om Hom dood te maak, by ‘n krans probeer afgooi! “Maar Ek is nie kwaad vir hulle nie. Ek het hulle vergewe!” lag Hy. Toe het Hy besluit om Hom hier in Kapernaum te kom vestig. Simon wou weet of Hy nou hier Sy ambag kom voortsit? Sy antwoord was dat Hy eintlik as ‘n soort-van ‘n Rabbi hier kom werk. Maar Hy was baie vaag oor presies wat Hy werklik kom doen.
Baie gou leer die vier manne dat Hy ‘n besonderse groot kennis van die Woord het. Soos wat hulle aanstap, vertel Hy hulle allerhande dinge van die Woord wat hulle nog nooit regtig begryp het nie. Nou is dit asof daar ‘n splinternuwe lig vir hulle opgaan!
Dit was ook nie lank nie, of ‘n paar nuuskierige mense kom stap saam met hulle om te luister na al die wonderlike wyshede wat hierdie Jesus vertel. Johannes kry groot respek vir Hom. Hy is inderdáád ‘n volwaardige Rabbi! Hy praat met selfs nóg meer gesag wat die Rabbi Johannes die Doper praat!
Met ‘n glimlag op sy gesig dink Johannes terug aan die tyd toe hy as jong seun aan die voete van ‘n Rabbi moes sit. Daardie man was baie slim en hy het groot respek vir hom gehad, al het die man dikwels goed gesê wat Johannes gladnie kon verstaan nie. Maar die wysheid van hierdie Rabbi Jesus oortref syne by verre!
Kom ons - ek en jy raak óók só opgewonde oor Jesus soos Johannes. Kom ons hang aan Sy dierbare lippe om alles van Hom te leer. En dan gaan doen ons met volle oorgawe wat Hy van ons vra!
Gebed:
Here, Ek wil U volg met volle oorgawe. Ek wil ook ‘n visser van mense wees soos daardie vier vissermanne!