1 Korintiërs 3:1-4
Jesus het eenmaal gesê dat ons weer soos kindertjies moet word in ons geloof. Ons moet dus soos kindertjies onvoorwaardelik glo. Dit is baie waar, en dit is presies waar jou geloof behoort te begin. Ons moenie alles eers wil bevraagteken en die heelal probeer verstaan voordat ons glo nie. Dit is egter nie waar jou geloof moet bly nie. Jy móét ook groei en grootword!
‘n Kind gaan deur verskillende stadiums van grootword. Eers is dit die baba wat totaal afhanklik is en niks vir homself kan vermag nie. Hy kan ook niks anders as melk drink nie, want hy kan net eenvoudig nie vaste kos hanteer nie. Soos wat hy groter word, begin sy liggaam vaste kos te hanteer, en weldra eet hy enigiets wat voorkom. Selfs die honde se kosbakke word gereeld gestroop! En as hy in die tuin kom, verorber hy grond, krieke en enige kriepiekrôlie wat binne sy bereik kom.
Algehele onverantwoordelikheid is gewoonlik die tiener se kenmerk. Boonop sy totale gebrek aan kennis, terwyl hy dink dat hy ál die kennis in die wêreld besit! Sy maats is die een dag beste pêlle, en die volgende dag wil hulle mekaar vermoor. Verliefdheid en jaloesie is die alledaagse. Verskriklike onsekerheid en tegelykertyd ‘n oormate selfversekerdheid.
Die een ding van ‘n kind wat van uiterste belang is, is dat hy nie durf stagnant bly nie. Daar móét altyd ‘n groeiproses wees, anders is daar baie groot fout. ‘n Klein babatjie drink melk, en dit is natuurlik. Hy kan egter nie daar bly nie, en as hy nie later begin vaste kos eet nie, gaan sy liggaam nie die nodige krag, spiere en beenvorming kry nie. Ek het ‘n mamma geken wat haar seuntjie van 5 jaar oud steeds geborsvoed het. Dit is onnatuurlik, en daardie kind moes lankal gespeen gewees het!
Paulus gebruik hierdie beeld van ‘n kind wat opgroei baie effektief, want nét só werk jou geestelike lewe. Wanneer iemand die dag tot geloof kom, kan jy nie vir hom ingewikkelde filosofiese boeke gee om te lees en hom bombardeer met allerhande doktrines en kwelvrae nie. Nee, hy moet die eenvoudigste Skrifwaarhede inkry, iets wat vir hom ‘n vaste basis gaan gee om sy geloof op te bou. Soos wat ‘n jong gelowige se geloof begin sterker word en vorm aanneem, moet hy weldra begin om vaste geestelike kos in te kry. Al kan hy nie alles verwerk nie, begin hierdie kos sy geestelike spiere en bene te bou.
Ek hoor onlangs ‘n baie interessante verduideliking van waarom daar deesdae so baie jong kinders is met tipe 1 diabetes: dit is omdat hulle té higiënies grootgemaak word. Hulle kry nie die geleentheid om hondekos, tuingrond en krieke te eet nie! Daardie “slegte” dinge bou ‘n kind se immuniteitstelsel, en leer die liggaam watter kieme gevaarlik is. As hy nie daaraan blootgestel word nie, kan dit gebeur dat die liggaam sy eie organe, veral die pankreas vir “kieme” aansien en dit aanval en vernietig. Dan word hy ‘n diabeet!
Op dieselfde wyse moet jong gelowiges ook blootstelling kry aan die “verkeerde” dinge, sodat hy kan leer om te onderskei. Versoekings wat oor jou pad kom, leer jou om die regte keuses te maak, en soms is dit dalk ook nodig dat jy jou vingers verbrand om te leer wat kan seermaak.
Daar móét ‘n gedurige groei in ‘n gelowige se lewe plaasvind. As jy na jare steeds op die “melkbottel” is, dan is daar baie groot fout. Nét so moet die stadium van eksperimenteer met allerhande dinge ook verby gaan, en jy moet vir jouself kan uitmaak wat reg en verkeerd is. Ook die kinderlike dinge van jaloesie, twis, afguns en rugstekery, wat so dikwels deel is van ‘n opgroeiende gelowige se lewe, moet verbygaan en plek maak vir geestelike volwassenheid.
In 1 Kor. 3:3 gooi Paulus die beskuldiging na die Korintiërs: “Julle is nog wêreldse mense!” Die probleem is dat wanneer jy die dag wedergeboorte beleef, sleep jy nog ‘n spul bagasie saam met jou van jou ou wêreldse lewe. Hoe gouer jy daarvan ontslae kan raak, hoe beter. Maar baie gelowiges klou krampagtig vas aan die ou lewe, net soos wat ‘n kind soms vasklou aan sy troetelkombersie totdat die ding naderhand net toiings is. Ma moet dit gewoonlik met geweld by hom afneem en verbrand, anders grawe hy hom weer uit!
Die vraag is: wat gebeur as jy die dag geestelike volwassenheid bereik het? Sit jy dan behaaglik terug en sê: “Ek het ge-arriveer?” Nee beslis nie, want dan begin die lewe éérs! Iemand wat nie eet nie, verwaarloos sy liggaam. Net so moet ek as volwasse gelowige, gereeld goeie gesonde geestelike kos inkry om my geestelik gesond te hou. En soos jou liggaam gereelde oefening nodig het om fiks te bly, so het jy geestelik ook gereelde oefening nodig, anders stagneer jy, en jou geestelike spiere word pap. Maar hieroor kan ons dik boeke skryf!
Gebed:
Here, help my asseblief om geestelik gesond te leef en gereeld te bly groei!