Handelinge 9:32-49
Die vervolging van gelowiges in Jerusalem maak vir Petrus baie bekommerd: “Hoe lank sal ons dit nog hier kan uithou?” wonder hy. Dit is veral daardie fanatikus, Saulus wat sy hare laat regop staan. Daardie man sal enigiets doen om van Jesus se volgelinge ontslae te raak.
En dan onthou hy skielik Jesus se woorde aan hulle: “Julle sal My getuies wees in Jerusalem en Judea sowel as Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.” Het dit nie dalk nou tyd begin word dat hy uit Jerusalem begin wegbeweeg nie?
En so gebeur dit dan dat Petrus op 'n dag die pad vat en na die ander dorpe rondom Jerusalem gaan om die Blye Evangelie van Jesus te verkondig. Al verder en verder kring sy reise uit, totdat hy later maar selde in Jerusalem is.
En so ver as wat hy gaan verneem hy van die vervolging wat daagliks in felheid toeneem. Talle volgelinge word in die tronk gestop bloot vir die feit dat hulle in Jesus glo.
Op 'n dag kom iemand uitasem by Petrus aangehardloop: “Stefanus is vermoor!” hyg hy dit uit.
“Wat het gebeur?” Petrus voel sommer hoe die lamheid hom beetpak. Hy het gehoor dat Stefanus in hegtenis geneem is. 'n Uitgesproke jong man daardie, wat nie bang was om sy sê te sê voor enigeen nie. En vol van die Heilige Gees! Hy was een van die sewe diakens wat hy en sy maats 'n tyd gelede aangestel het.
“Hulle het hom verhoor, en toe is hy gestenig,” vertel die kêrel wanneer hy sy asem begin terug kry. “Ek was by gewees, en ek kon nie my trane keer nie toe ek hoor hoedat hy die Here gesmeek het om sy stenigers te vergewe.”
“Hoe ver sal hulle nóg gaan met hierdie vervolging?” wonder Petrus.
“Dis daardie Saulus wat agter alles sit,” vertel die kêrel verder vir Petrus, “hy was persoonlik daar om toe te sien dat Stefanus gestenig word.”
Ten spyte van hierdie verskriklike terugslag, gaan Petrus ongestoord voort om die Evangelie al verder en verder te verkondig. En so kom hy in Lidda aan, 'n dorp in die westelike deel van Palestina naby die hawestad Joppe.
Daar gaan 'n fluistering rond: “Het jy gehoor van daardie fanatikus Saulus? Hulle sê dat hy tot bekering gekom het!”
“Nooit! Dis mos gans onmoontlik! Ek is séker dit is net 'n slenter om gelowiges op te spoor!” Petrus skud sy kop – hy weet nie so mooi nie....... Maar daar is eers 'n baie dringender saak wat sy aandag verg. Hy staan by die bed van 'n man met die naam Eneas. Die inwoners van Lidda het hom hierheen laat kom, want hulle het gehoor dat hy mense kan genees, en Eneas lê al vir agt jaar vasgeklooster aan sy bed nadat hy verlam geraak het.
Vol verwagting kyk Eneas smekend na Petrus.
“Eneas,” sê Petrus vol vertroue, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”
Onmiddellik voel Eneas die krag in sy dooie bene invloei. Hy spring uit die bed en maak soos Petrus beveel.
Die nuus van Eneas se wonderbaarlike genesing versprei soos 'n veldbrand, en binne minute is die héle dorp daar. Talle mense van die dorp asook van die Saronvlakte kom tot geloof in Jesus as hulle met hulle eie oë hierdie wonderwerk aanskou.
In die hawestad Joppe, nie ver daarvandaan nie sterf 'n vrou met die mooi naam Tabita, ook bekend as Dorkas. Sy het baie harte aangeraak met haar liefdevolle werk in die gemeenskap. 'n Boodskap word na Petrus gestuur om haar te kom begrawe.
Petrus haas hom na Joppe en wanneer hy by Tabita se huis kom, tref hy 'n klomp huilende weduwees daar aan. Hulle neem hom na die bokamer waar haar lyk alreeds gewas en mooi uitgelê op 'n bed lê. Die weduwees kom staan snikkend rondom Petrus: “Kyk,” wys een van die huilende vroue vir Petrus 'n pragtige kledingstuk, “sy het dit gemaak. Sy was só goed vir ons. Sy het altyd vir ons klere gemaak.”
Die vroue is troosteloos, want Tabita se dood is vir hulle 'n reuse verlies. Petrus stuur al die vroue uit en dan gaan kniel hy by Tabita se bed en bid innig en vra die Here om asseblief hier in te gryp. Dan staan Petrus op, draai na die lyk op die bed en vol vertroue sê hy: “Tabita, staan op.”
En dan gebeur die wonderwerk: stadig maak die lyk haar oë oop. Sy kom regop en sit op die bed. Petrus vat haar hand en help haar om op te staan. Dan roep hy die huilende weduwees om te kom kyk: Tabita staan springlewendig voor hulle!
Talle mense kom in Joppe tot geloof in Jesus, en Petrus word deur Simon die leerlooier genooi om by hom oor te bly. Hier kan Petrus nie gou weggaan nie, want hier is baie werk!
Moenie dink dat wonderwerke by Jesus of selfs die apostels opgehou het nie. Vandag gaan dit steeds voort, en ek het persoonlik al talle wonderwerke beleef. Maak net jou oë oop daarvoor.
Gebed:
Here, dankie vir al U wonderwerke wat daagliks my pad kruis. Maak asseblief my oë oop daarvoor!