Handelinge 5:17-42
Bo alle verwagting in, groei die kerk met rasse skrede. Die klein groepie volgelinge groei binne 'n baie kort tydjie tot 'n reuse skare van Jesus-aanhangers. Boonop bring wonderwerk op wonderwerk die volk in vervoering. Die Hoëpriester en sy trawante is gevul met afguns en jaloesie! “Hierdie mense moet gestop word voor dit dalk hééltemal te laat is!” Die manne is bitter bekommerd en die tempelwagte word opdrag gegee dat die Apostels in hegtenis geneem word. “Sluit hulle toe, môreoggend sal ons met hulle galle werk!”
Intussen word die volle Joodse Raad bymekaar geroep vir die oggend se belangrike vergadering. Al die leiers van Israel is daar. “Gaan haal hulle,” kry die wagte die bevel van die Hoëpriester. ‘n Rukkie later kom die wagte uitasem terug by die vergadering. Wit in die gesig geskrik stamel hulle: “Hulle is weg!”
“Wat bedoel julle met ‘Weg’?”
“Die tronk is gesluit; die wagte is op hulle pos, maar daar is g’n teken van die Apostels nie! Ons verstaan dit nie! Ons het hulle sélf persoonlik daar toegesluit!”
Wat hulle nie geweet het nie, is dat God ingegryp het. Toe Johannes daardie nag in die tronk wakker word, staan daar ‘n engel by hulle. Voordat hy nog kans kry om te skrik, val die tronkdeure oop, sodat die twaalf manne vry kon uitstap om hulle taak om die Evangelie te verkondig kon voortsit. Dit is die taak van gelowiges om die Evangelie uit te dra, nie die taak van engele nie!
Nog een van die wagte kom, buite weste geskrik, hygend ingehardloop: “Daardie manne wat ons gisteraand toegesluit het staan in die tempel en preek!”
“Gaan haal hulle!” Die Hoëpriester is woedend.
Maar die wagte is onwillig. Hulle protesteer heftig: “Die mense gaan ons doodmaak as ons hulle weer arresteer!” Dit is ‘n bedremmelde groepie wagte wat uiteindelik mor-mor en baie halfhartig instem om die manne te gaan haal. By die tempel aangekom word die Apostels mooi gevra of hulle nie asseblief maar wil saamkom nie, “want die Hoëpriester wil met julle praat,” verduidelik die bevelvoerder.
By die vergadering word die Apostels behóórlik oor die kole gehaal omdat hulle alle opdragte van die Raad verontagsaam het. Johannes en Petrus is immers by die vorige geleentheid ten sterkste belet om ooit weer oor Jesus te praat, en wat gaan staan en doen hulle? Hulle steur hulle nie eers aan die hoogste gesag in Israel nie. Die ganse Jerusalem lê vol van die “snert” wat hulle verkondig! Boonop wil hulle ook nog voorgee dat die Joodse Raad die vark in die verhaal is! Dit is kwansuis húlle wat verantwoordelik was vir Jesus se dood! Hierdie onding moet onmiddellik staak!
Petrus is die een wat weereens na vore tree: “Jy moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” sê hy sonder vrees, want die Heilige Gees gee hom die krag en vertroue. Hy gaan verder en steek sommer ‘n preek af vir die geleerde manne wat daar sit en hom aangluur. Die Joodse Raad is woedend! As hulle kon, het hulle hierdie Apostels nét daar en dan laat doodmaak.
Toe staan Gamaliël op, ‘n man wat ‘n bietjie insig het, en hy stuur die Apostels uit sodat hy met die Raad kan praat. “Kollegas, ons moet baie versigtig wees dat ons nie dalk God teëgaan nie! Ons sal wel gou sien of hierdie dinge van God kom. As dit mensewerk is, sal dit oorwaai. Kom dit egter van God af, kan ons niks daaraan doen nie!”
Weereens word die Apostels geroskam, en belet om verder te praat. Boonop word hulle geslaan, en dan vrygelaat, maar hierdie ou insidentjie het hulle géénsins van stryk gebring nie. Dit spoor Johannes en sy trawante juis aan om die Evangelie met nog groter vuur te verkondig. In sak en as gaan sit? Nooit! Vir hulle was dit ‘n reuse voorreg om te kon ly vir hulle Meester, Jesus.
Die Jehovah’s Getuies verkondig ‘n dwaalleer, maar één ding kan ons by hulle leer, en dit is om jou nie te laat afsit as iemand jou uit die huis jaag nie. As hulle uitgeskel word, stap hulle net eenvoudig na die volgende huis om hulle boodskap te bring. Vir gelowiges moet verwerping en vervolging eintlik as aansporing dien om die Woord met nog groter ywer uit te dra. Ek is sélf al ’n slag of wat uitgevloek omdat ek die Evangelie ongevraagd aan iemand gestuur het. Om te sit en tob en wroeg daaroor is sinneloos!
Die Evangelie word nie deur teenstand en swaarkry ondergekry nie. Die ware lig kan nooit deur die donkerste nag van vervolging of teenstand uitgedoof word nie, daarvoor sorg God self. Hy gee my en jou, Sy kinders die krag en wysheid sodat ons met vrymoedigheid oor Hom kan bly getuig. Soms bewe ons knieë, maar dan verseker die Gees ons dat ons op die Rots staan wat nooit sal bewe of wankel nie.
Gebed:
Here, hou asseblief my oë altyd gevestig op Jesus, my Rots, selfs deur die donkerste tye van vervolging en vernedering, sodat ek met vrymoedigheid van U kan getuig. Gee asseblief vir my die regte woorde sodat ek U heilige Naam altyd hoog kan hou.