Dit is bibberkoud in Pietermaritzburg as die haan kraai, dáárdie beroemde haan wat net eenmaal ‘n jaar soveel konsternasie veroorsaak. Die skoot klap, en die massas kom in beweging. Die voorste klompie is binne minute los voor die groot bondel. Die agterste klomp maal vir ‘n tyd lank nog rond voordat hulle in beweging kan kom, want die skare van deelnemers aan die Comrades marathon is oorweldigend. Wanneer die voorlopers al in Durban oor die wenstreep seil, sukkel die agterhoede steeds om van Pietermaritzburg af weg te kom.
Wat die Comrades so ‘n interessante wedloop maak, is nie die voorste atlete wat dit uitspook om die wenplek nie, maar die doodgewone mense wat in die bondel hardloop, en veral die agterhoede wat fanaties probeer om tog maar net die eindpunt betyds te behaal. Om die mense dop te hou wat deurdruk ten spyte van die moordende opdraendes, krampe, totale uitputting en seer voete, is soms hartverskeurend. Om te sien hoe sommige atlete die arena binnestrompel op hulle laaste bietjie kragte, net om te moet sien dat die wenstreep wat vir hulle wink eenvoudig te ver is, ruk jou aan die hart. En as twee ewe-uitgeputte mede-atlete ’n arme kêrel wat inmekaar gesak het met die wenstreep in sig dan ophelp, en ten spyte van hulle eie probleme nog dra tot by die eindstreep, dan kan jy nie die trane keer nie!
Die geloofslewe is ook ‘n wedloop, dikwels ‘n Comrades-tipe wedloop. Vir sommige is dit baie belangrik om met onderskeiding oor die eindstreep te kom, vir ander slegs om die wedloop te voltooi. Sommige gee halfpad moed op, en haal nooit die eindstreep nie. Net soos die Comrades, is die lewenswedloop nie maklik nie. Dit verg ure en weke en maande se voorbereiding om te kan inskryf. ‘n Nuwe Christen val mos nie sommer in by alles in die gemeente nie! Hy begin eers deur te leer waaroor die geloof nou eintlik gaan. Ernstige geloofsvrae takel jy eers wanneer jy sterk genoeg staan in die geloof om dit te kan hanteer. Jy begin eers by die klein, maklike wedlopies en maak jouself só sterk vir die groot een. Wanneer jy dan die dag in daardie groot lewenswedloop begin hardloop, moet jy besef dat daar talle terugslae op jou gaan wag. Jy moet voorbereid wees daarop, maar jy moet besef dat dit alles deel van die wedloop is. Wat is die Comrades sonder die moordende berge? Net so is daar moordende berge op jou geloofspad - hulle móét daar wees!
Moet dus nie moedeloos raak as daar vir jou swaar tye in jou lewe kom nie. Siekte, finansiële terugslae, vervolging oor jou geloof, mense wat in jou pad kom staan en jou verhoed om dinge te doen - hierdie is alles maar net berge op die pad van jou lewenswedloop. In daardie lig is hulle nie meer ‘n onoorbrugbare hindernis nie, maar ‘n uitdaging wat vir jou wag om oorwin te word.
Stel jou die prentjie voor: ‘n Kêrel spring die Comrades weg met ‘n rugsak op sy blaaie. Daarin is ‘n bottel wyn, ‘n lekker groot Bloubul-biefstuk, ‘n braaitang, houtskool, braairooster en ’n driepootpotjie vir die pap. En om darem nou ’n lekker atmosfeer te skep wanneer hy halfpad gaan piekniek hou, sy kitaar. Lagwekkend? Inderdaad! Hy sal daardie Comrades nooit óóit voltooi nie! In die lewenswedloop is dit net so moeilik om deel te neem as jy met ‘n spul bagasie hardloop. “Laat ons elke las van ons afgooi”, sê die Hebreërskrywer, “ook die sonde wat ons so maklik verstrik.” Hoe minder sonde jy met jou saamdra, hoe makliker word die wedloop! Dis net logies!
Hy sê verder dat ons die wedloop met volharding moet hardloop. As ‘n man al na ‘n paar kilometer vir homself sê dat dit heeltemal te swaar is, gaan hy baie gou uitval. Ek ken gelowiges wat so uitgeval het in die lewe! Moenie dat dit met jou gebeur nie. Byt vas. Kners op jou tande en druk deur!
Maar op jou eie is dit totaal onmoontlik: “Hou die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof,” benadruk die Hebreërskrywer. Dit is van uiterste belang. Ja, dit is die groot troos in hierdie wedloop: Jesus is van die begin tot die einde daar om ons by te staan. Wanneer ons struikel is Hy daar om te keer dat ons nie val nie, en wanneer die opdraendes net eenvoudig te swaar word, is Hy ook daar om ons aan die hand te vat en die steiltes uit te trek. Solank ons Hom nooit uit die oog verloor nie, sal ons die wedloop suksesvol voltooi.
Bly volhard soos atlete, dis God wat die wedloop bepaal. Daar’s ‘n skaar verlostes wat wag om die baan dat ons almal die wenstreep sal haal.
Hou die oë op Jesus, ons Vriend ons Verlosser ons Heer. Vir die vreug daarna het Hy smarte verdra. Hy begin en versterk ons geloof.
Gebed:
Dankie dat ek ook in die lewenswedloop mag deelneem Here. Ek besef dat ek baie swakhede het, en daarom vra ek dat u my hand asseblief styf vashou sodat ek die wedloop suksesvol kan voltooi.