Water uit die Rots

4 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Water uit die Rots

Eksodus 17:1-7

VIDEO | OUDIO

Inderdaad was God se genade baie groot oor hierdie volk. Elke oggend met dagbreek lê die kos voor hulle deur - afgelewer direk uit die hemel! Maar die Beloofde land het ook vir hulle gewink, en hulle moes begin aanskuif - nie ‘n maklike taak met drie miljoen mense nie en nog boonop hulle vee. Hulle het van plek tot plek begin trek, maar die een groot probleem in die woestyn is natuurlik water. Vir só ‘n groot klomp mense asook hulle vee was daar elke dag miljoene liter water nodig. En natuurlik maak die versengende hitte van die woestyn die situasie tien keer erger. Ons kan onsself nie indink wat die omstandighede moes wees nie. Ons sit dikwels in lugverkoelde kantore met 'n koffiemasjien wat gereed staan vir die oomblik as jy ‘n lafenissie nodig het!

Moses trek met die Israeliete tot by ‘n plek met die naam Refidim. Teen hierdie tyd het hulle geleer dat hulle gehoorsaam moet wees en doen wat God vra. Dit het hulle natuurlik op die harde manier geleer! Dus trek hulle wanneer God so beveel. Wanneer hulle egter by Refidim kom, verwag hulle dat hulle nou beloon sou word vir hulle gehoorsaamheid en dat hulle weereens ‘n oorvloed water daar sou kry. Maar dit gebeur nie. En nou is hulle woedend. “Gee vir ons water om te drink!” skree hulle op Moses. Hulle het nie die beloning gekry waarop hulle gehoop het nie en nou moet die arme Moses dit weer ontgeld! Indirek baklei hulle egter eintlik met God en Moses is maar net die tussenganger.

Die Israeliete se woede vlam só hoog op dat Moses vrees vir sy lewe en hy vrees dat hulle hom enige oomblik sal stenig en met klippe doodgooi. Sy leierskap is onder verdenking. Die ironie van die saak is dat die Israeliete met hulle beskuldigings teen Moses en God, eintlik besig was om hulle eie ongeloof en ongeduld tot uiting te bring. Hulle was nie bereid om te wag op God se uitkoms nie. Hulle het wel gehoorsaamheid aangeleer, maar steeds het die vertroue in God totaal ontbreek.

Is dit nie soms ook maar hoe ek en jy reageer nie? “Ek het dan só hard gebid dat die Here my dit of dát sou gee, en ek het só goed gelewe, maar Hy het dit nie gegee nie. God is onregverdig!” Het jy dit al gesê? Of dalk gedink? Ek het!

Vir Moses was daar slegs een uitweg - hy moes met God praat. En hy het presies net dít gedoen want waar anders kon hy tog enige raad vandaan kry? “Wat moet ek met hierdie volk aanvang Here?” het hy moedeloos gebid. Nou het hy rêrag nie meer raad met hulle nie.

En dan antwoord die Here hom: “Loop voor die volk verby en neem die leiers van Israel saam.” Die Here verseker vir Moses dat Hy persoonlik daar teenwoordig sal wees wanneer Moses voor die rots by Horeb gaan staan. Ten aanskoue van al die volksleiers moet hy met die kierie wat hy nog al die tyd gebruik sedert sy eerste ontmoeting met God, daar by die brandende doringbos, teen die rots slaan.

Moses is platgeslaan deur die ongeloof van die Israeliete. Na alles wat gebeur het, vra hulle sowaar: “Is die Here ooit nog by ons?” Hoe kan hulle vir een oomblik twyfel? Al die wonderwerke wat gebeur het sedert die Here hom na Egipte gestuur het - sê dit steeds vir hulle niks? Hoe kan hulle so ‘n vraag vra en dit terwyl hulle elke dag God se teenwoordigheid kan sien in die wolkkolom wat steeds by hulle is? En daardie vuurkolom snags? Is dit nie al genoeg bewys van God se teenwoordigheid nie? En wat van die manna en kwartels? Elke dag voorsien Hy direk uit die hemel. En hulle vra: “Is die Here ooit nog by ons?” Maar vandag gaan die Here vir hulle onteenseglik bewys dat Hy hier in hulle midde is.

Stadig stap Moses na die rots, gevolg deur ‘n groot aantal leiers. Voor die rots gaan hy staan. Al kan hy God nie sien nie, weet hy dat die Here God Almagtig op daardie rots staan hier vlakvoor hom - God het immers vir Hom gesê dat Hy daar sou wees, en Moses glo dit met sy hele hart. Dramaties swaai hy sy kierie en slaan teen die rots. Die volgende oomblik stroom die water uit die rots, hier reg in die middel van die dorre woestyn. Genoeg water spuit uit die rots om drie miljoen Israeliete en hulle vee water te gee. Hy was steeds daar en Hy het nie van hulle vergeet nie, al wou die Israeliete God se teenwoordigheid bevraagteken.

Baie jare later het Jesus by ‘n put gesit iewers in die dorre wêreld van Samaria, en Hy het aan ‘n soekende vrou lewende water gegee wat stroom sonder ophou. Ek en jy het vandag toegang tot daardie selfde lewende water wat jou dors vir ewig les.

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan weet dat U elke oomblik by my is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026