Numeri 20:1-13
Moses luister na die gekerm van die volk daar buite, en waar hy dan in die koelte van sy tent in die Sinwoestyn sit, druk hy sy ore toe om die geweeklaag te probeer uitsluit. “Water, ons soek water!” skree hulle, “Ons soek dit NOU!”
“Ons kon nou in die land van melk en heuning gewees het,” sug Moses, “’n land waar water gladnie ‘n probleem is nie.” En dan dink hy terug aan die gebeure die afgelope ruk - van die verspieders wat die land Kanaän gaan verken het, en die heerlike vrugte wat hulle daar gekry het. Josua en Kaleb was baie positief dat hulle die land kon inneem - God is mos aan hulle kant. Maar die ander klomp was bang, en toe sweep hulle die hele volk op om te sê dat dit onmoontlik is. “As ons maar in Egipte gesterf het, of in die woestyn!” het hulle gemor. ‘n Klomp het selfs beplan om ‘n nuwe leier te kies en dan terug te gaan Egipte toe!
Ja, daardie volksvergadering wat toe gevolg het, sal Moses nooit vergeet nie. Josua het hard probeer om die manne te oortuig dat dit ‘n buitengewoon goeie land is - hulle het immers die druiwetros gesien wat hulle saamgebring het! En oor die vyande - “Ons sal hulle maklik verslaan!” het Josua gesê. En wat was die reaksie van die vergadering? Hulle het klippe opgetel om Moses en Aäron dood te gooi!
Op daardie oomblik skrik die volk hulle asvaal toe die magtige teenwoordigheid van God sigbaar word by die Tent van Ontmoeting waar hulle bymekaar was. “Hoe lank sal hierdie volk My almag bly onderskat?” het die Here gevra, “Hoe lank sal hulle bly weier om My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?” En terwyl die Israeliete bibber van angs, sê die Here vir Moses: “Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal ek jou ‘n volk maak, groter as hulle!”
Vir die soveelste keer moet die arme Moses weer pleit by die Here vir hierdie volk, dat Hy hulle asseblieftog nie moet uitdelg nie. “Here, U het tog sélf gesê: ‘Ek, die Here is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding’” En dan sug Moses: “Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in U groot liefde.”
God het Moses geantwoord: “Ek vergewe hulle soos jy gevra het.” Maar dan voeg Hy by dat nie een van hierdie manne wat Hom so bly tart het, die beloofde land sal sien nie. Hulle lyke sal verstrooi lê in die woestyn. Die enigste manne wat die woestyn gaan oorleef is Josua en Kaleb - die twee wat bly vasklou het aan God se beloftes.
Toe die volk hoor wat God se oordeel oor hulle was, het hulle begin trek na die bergland. Al die pad het hulle gekerm en gehuil: “Ons was verkeerd” het hulle gesanik, “Ons wil nou optrek na die land wat die Here beloof het!” Hulle het egter vir Moses en die verbondsark net daar laat agterbly in die kamp. In die bergland het die Amalakiete en Kanaäniete die klomp uitmekaar gejaag, en hulle moes maar weer druipstert terugkom.
“Ja,” dink Moses met ‘n glimlag op sy gesig, “Moenie vir God tart nie!” Soos die slag toe Korag, Datan en Abiram teen Moses in opstand gekom het. Hulle het ‘n klomp manne saam met hulle teen Moses opgesweep. En wat was hulle einde? Terwyl die hele volk toekyk, het die aarde onder die drie manne se tente oopgeskeur, en hulle, saam met hulle gesinne en al hulle besittings is deur die aarde ingesluk. Die Israeliete het al skreeuend in alle rigtings uitmekaar gehardloop uit vrees dat dieselfde lot hulle sou tref.
En nou, waar hy in sy tent sit by Kades, hoor hy alweer die volk kerm. Hy kan dit nie meer vat nie! “Waarom het julle ons na hierdie ellendige plek toe gebring?” hoor hy die volk skree, “Hierdie plek deug vir niks - g’n granate of vye of enigiets nie - en hier is nie eers water nie!” skree hulle. Ja, dis mos alwéér Moses en Aäron se skuld as iets skeefloop. Hulle het alwéér lankal vergeet dat dit húlle was wat verkies het om nie die beloofde land in te gaan nie!
Moses staan op en roep sy broer Aäron: “Kom, ons gaan met die Here gesels.” sê hy. Hulle stap na die Tent van Ontmoeting.
“Vat Aäron se kierie, en gaan praat met die rots.” gee die Here vir Moses opdrag. Met ‘n glimlag tel Moses die kierie op - dieselfde amandelhout kierie wat ‘n tydjie gelede gebot het en selfs amandels gedra het. Wat ‘n asemrowende wonder!
Moses roep die volk bymekaar. Hy is nou siek en sat van al hulle gesanik. “Moet ek en my broer vir julle water uit die rots laat kom?” skree Moses woedend, en daarmee slaan hy met die kierie teen die rots. Op daardie oomblik spuit die water uit die rots - heerlike, vars, yskoue lawende water in die middel van die woestyn.
Toe alles weer rustig is, kom praat die Here met Moses. “Ek is teleurgestel in jou, Moses.” sê die Here vir hom. Hierdie wonderwerk was veronderstel om God se almag aan die volk te bevestig. En wat doen Moses? Hy maak asof dit hy, Moses is wat die wonderwerk laat gebeur, en hy gee nie die eer aan God nie! Ja, Moses het van beter geweet, maar sy woede vir die kermende volk het die oorhand oor hom gekry. “Moses, nie jy of Aäron sal die volk in die beloofde land inlei nie!”
Gebed:
Here, so dikwels wil ek die eer vir myself vat. Vergewe my asseblief, want alle eer kom U alleen toe!