Markus 12:13-17
Jerusalem, en veral die tempel begin nou een te veel raak vir Petrus. ‘n Paar dae gelede was dit nog baie lekker om die tempel te kon bewonder, en hy het hom verlustig in al die dinge wat daar aangaan, maar nou begin die verkeer te kwaai raak, en dit maak hom senuweeagtig. Kort-kort is daar iemand wat sy Meester probeer vastrek met strikvrae. Hy weet nie hoe die Rabbi dit regkry om elke keer uit die slagyster te kom nie. Netnou nog was dit die spul kerkleiers wat wou weet waar sy Meester Sy gesag vandaan kry. Petrus lag in sy mou as hy terugdink hoe hulle daar druipstert weg is. Sy meester het hulle slagyster meesterlik gefnuik! Petrus ril as hy dink wat hulle volgende kan beplan.
Dan ís dit ook weer nét sulke tyd! Doelgerig kom die bondel manne op hulle afgestap, onmiskenbaar Fariseërs, vergesel van ‘n paar van daardie halfgebakte Herodiane. Daardie spul irriteer hom grensloos! Hulle probeer hulle alewige wette op almal afvorseer. Waarmee gaan hulle Jesus vanoggend kom konfronteer?
“Meneer, ons weet dat U iemand is wat U mening eerlik uitspreek.”
Petrus bars amper uit van die lag. Sulke mooi woorde het hy nog nooit uit ‘n Fariseër se mond gehoor nie! Die heuningkwas word omtrént mildelik geswaai! Maar hulle is nog nie klaar nie.
“U is getrou aan die waarheid en so maak U die wil van God bekend.”
Petrus kan sy ore amper nie glo nie! Wat het in die manne gevaar? Hulle kan tog sékerlik nie ernstig wees nie? Hulle het nog nóóit ‘n goeie woordjie vir Jesus gehad nie! Waarom nou skielik al die komplimente?
“Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal?”
Petrus verstar! Hy het gewéét dis te goed om waar te wees! Hier kom ‘n lelike strik! “Pasop Meester, hulle wil U in ‘n lokval lei!”, wil Petrus nog waarsku, maar dan onthou hy hoe Jesus nog elke keer daardie soort van strikvrae baie slim omseil het.
“Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?”
Petrus se oë dwaal na die groepie Herodiane wat saam met die Fariseërs gekom het. “Die verraaiers! Hulle ondersteun die Romeinse oorheersing!” Nou stoom Petrus behóórlik, nou verstaan hy waarom die walglike Herodiane hier saam met die Fariseërs is! As Jesus hierdie vraag verkeerd antwoord, gaan hulle Hom nét daar en dan aankla by ou Herodus. Addergebroedsels! Skelms! Petrus voel-voel so na sy swaard. Binne in hom kook dit. Hierdie spul witgepleisterde grafte probeer elke toertjie in die boek om sy Meester uit te vang!
“Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.”
“Dan het Hy sowaar die ding sien kom!” dink Petrus verlig. “Maar wat sou Hy dan nou met ‘n muntstuk wou doen?”
Maar dan kom Jesus se volgende vraag as Hy ‘n muntstuk in die hand het: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Almal stem saam dat dit die keiser s’n is, ongetwyfeld. “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hóm toekom!”
Petrus se mond hang oop oor Jesus se briljante antwoord. “Nou waarom het ek nie daaraan gedink nie?” Hy moet hom inhou om nie weer hardop van die lag uit te bars as hy die slim manne se verslae gesigte sien nie. Hulle weet nie wat hulle getref het nie, die wind skoon uit hulle seile! “Dit sal hulle beslis ‘n les leer!”
Vir die Joodse volk was die hele kwessie van belasting wat hulle elke jaar aan die Romeine moes betaal, ‘n groot pyn. En wat die sakie nog seerder gemaak het, is die munte wat hulle moes gebruik. Joodse muntstukke het nie ‘n afbeelding van ‘n persoon op gehad nie. Hulle kon egter nie hierdie munte gebruik vir belasting doeleindes nie. Hulle was verplig om die Romeinse Denarii te gebruik, ‘n silwer muntstuk met die keiser se kop op die een kant, met die inskripsie: “Tiberius Caesar Augustus, seun van die goddelike Augustus.” Op die agterkant van die munt was ‘n vrouefiguur met ‘n kroon, septer en palmtakke. Vir enige toegewyde Jood was hierdie munte iets afgryslik, want dit het die tweede gebod oortree! Die Selote, ‘n Joodse terroristebeweging, het botweg geweier om enige vorm van belasting te betaal. Die Fariseërs het wél die belasting betaal, maar nie sonder om baie duidelik hulle misnoë te kenne te gee nie!
Wanneer Jesus die Fariseërs antwoord, sê Hy eintlik vir die manne dat daardie munte die keiser se eiendom is. Deur belasting daarmee te betaal, gee jy eintlik net dít wat aan die keiser behoort vir hom terug.
Maar dan voeg Jesus dadelik by, dat daar ‘n ander baie belangrike saak is wat jy nie mag vergeet nie: Gee óók aan God wat aan Hóm behoort! Hier het Jesus op ‘n paar seer liddorings getrap, want hulle Godsdiens het oor die wet en oor hulleself gegaan, sonder om God se wil waarlik in ag te neem!
Vandag vra Hy ook van my en jou om aan Hom te gee wat aan Hom behoort. Nee, en dit beteken nie nét jou geld nie, maar jou tyd, jou lewe, jou álles! Hy vra dus dat ons waarlik deel moet word van Sy Koninkryk en om ons dissipelskap uit te leef vir Hom.
Gebed:
Here, Ek staan vandag skuldig voor U as ek moet bieg dat ek nie waarlik aan U gee wat U toekom nie. Help my om my dissipelskap waarlik uit te leef.