Ware Betekenis van die Wet

18 May, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Betekenis van die Wet

Matteus 5:17-26

Vanoggend praat ons oor die Wet, en onmiddellik rys jou hare, want dit is één ding waaroor ons nie eers wil dink nie. Tóg is daar ook diegene vir wie dit van uiterste belang is. Wanneer ons hierdie gedeelte lees, kom jy agter dat hier ook twee sake is wat in gedurige spanning is. Aan die een kant sien ons hoe Jesus klem lê op die kleinste besonderhede van die Wet, en aan die ander kant weer sê Hy dat dit nie rêrag gaan oor die klein besonderhede nie, maar oor die globale wese van die Wet. Op die oog af is dit twee teenstellings, maar as jy mooi kyk, is die twee stellings in totale harmonie met mekaar.

Soms is dit nodig om ‘n wet te maak om ‘n sekere gesindheid by iemand te kweek, en dikwels moet hierdie wet wreed afgedwing word om die gedagte tuis te bring. Ek het my kinders van kleins af ’n liefde en verantwoordelikheid teenoor die natuur probeer aanleer. My dogter, Anita, was nog maar baie klein toe ons eendag met die motor ry, en sy ‘n lekkergoedpapiertjie by die venster uitgooi. Sy het goed geweet van die “wet” dat ‘n mens nie rommel strooi nie. Ek hou stil en sê vir klein Anitatjie dat sy maar moet uitklim, die ent pad terug loop en die papiertjie gaan optel. “Wreed!” sou jy dalk sê. Maar dit het gewerk, want sy het dit nooit weer gedoen nie. Op ‘n harde manier moes sy leer dat jy nie met die natuur mors nie, en vandag het sy ‘n groot liefde vir die natuur. Op daardie stadium was dit vir haar ‘n wet wat sy moes nakom, anders het sy straf gekry. Nou, jare later, het sy die waarde van die wet besef. Dit is nie maar net ‘n sinnelose wet wat onderhou móét word om Pa gelukkig te hou nie, maar dat sy besef dat as sy rommel strooi, dan bemors en vernietig sy die natuurskoon waarvoor sy lief is.

Die Wet is ‘n baie omstrede onderwerp. Ek dink ek het dalk al ‘n paar mense se koppe deurmekaar gemaak met stellings oor die Wet. Per geleentheid het ek geskryf dat dit gladnie nodig is om die Wet te onderhou nie, want God se genade alleen is genoeg om my te red. Ek is deeglik geroskam oor hierdie stelling! By ’n ander geleentheid skryf ek weer dat ‘n mens juis die Wet móét onderhou. Dit doen ek uit dankbaarheid vir God se genade. Daaroor is ek óók met die borsel bygekom, want geen mens kan ooit die Wet volkome nakom nie, en boonop: wat word dan van die genade? Op die oog af is hierdie twee groot teenstellings wat lynreg teenoor mekaar staan, maar as jy mooi gaan kyk, dan sê hulle presies dieselfde ding. Wat Jesus oor die Wet sê lyk met die eerste oogopslag ook na reuse teenstellings, maar lees jy mooi tussen die lyne, sien jy dat daar geen teenstelling is nie, maar dat die volle waarheid agter die Wet en die volheid daarvan eintlik hier verskuil lê.

Nou moet ek dit net eers beklemtoon dat dit baie gevaarlik is om ‘n versie uit die Bybel te lees en daaruit gevolgtrekkings te maak. Jy kan baie maklik ‘n totaal verdraaide boodskap uit die Bybel kry! Elke versie moet gelees word in die konteks waarin dit staan. Dikwels is dit nodig om ‘n hele hoofstuk of selfs meer te lees om die volle omvang van ‘n spesifieke versie te verstaan. En dan moet dit getoets word aan die groot boodskap van die Bybel. Hierdie is een van daardie gedeeltes wat eintlik in sy geheel gelees moet word. Inderdaad is dit deel van ‘n preek wat Jesus gelewer het, en ‘n mens kan mos nie net ‘n enkele sinnetjie uit ‘n preek neem en daarvan sin probeer maak nie. Om praktiese redes is ons egter genoodsaak om hierdie preek oor ‘n paar dae te behandel, en dus moet al die dagstukkies wat hieroor handel eintlik as ‘n eenheid gelees word.

Wanneer Jesus sê dat die Wet baie nougeset nagekom moet word, dan verduidelik Hy wat Hy eintlik bedoel. Die eerste voorbeeld wat Hy gebruik is die wet wat sê dat jy nie mag doodslaan nie. Toe ek vir Anita gesê het dat sy nie papiertjies mag rondgooi nie, het dit eintlik gegaan oor natuurbewaring. Die papiertjie-storie was maar net ‘n voorbeeld.

Net so, verduidelik Jesus dat die doodslaan-wet maar net ‘n voorbeeld is, en dit gaan eintlik baie dieper. Dit gaan oor ‘n liefde vir jou medemens, want as jy hom beledig of slegsê of ‘n wrok teenoor hom koester, dan is dit net so goed of jy slaan hom dood. Dit gaan eintlik oor jou gesindheid teenoor jou medemens, want as jou gesindheid reg is, sal jy hom mos op geen manier probeer skade berokken nie. As jou gesindheid teenoor jou onredelike baas reg is, sal jy hom nie “Die Vark” noem teenoor jou mede-werknemers nie. En wanneer daar die spot gedryf word met iemand, sal jy opstaan vir sy goeie naam as jy werklik vir hom omgee.

Eintlik gaan dit nog véél dieper. Later verduidelik Jesus dat dit nie ‘n negatiewe “jy mag nie” gesindheid moet wees nie, maar eerder ‘n positiewe, aktiewe uitleef van liefde moet wees. Meer hieroor ‘n bietjie later.

Die vraag is dus wat hierdie “omgee” en “gesindheid” dan nou eintlik beteken? Daaroor sal ons oor die volgende paar dae gesels.

Gebed:

Here, leer my asseblief om U Wet uit te leef soos U dit van my vra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026