Matteus 9:35-10:15
Dag-vir-dag sien Johannes hoedat die skares aangroei. Die mense vertrap mekaar om net naby Jesus te kom. Jesus het een aand vir Johannes vertel hoe bitter jammer Hy hulle kry. Toe sê Hy ‘n snaakse ding, dat die oes baie groot gaan wees. Jesus draai toe na die manne toe en Hy verduidelik vir hulle, om ‘n oes in te samel, is die werk van baie mense. Een man kan dit nie alleen doen nie. Daar is arbeiders nodig wat bereid is om die harde werk in die wind en weer en son te doen. Om te oes is nie maklike werk nie, maar die bevrediging wat dit gee is onmeetbaar groot! Eers het hulle nie mooi verstaan wat Hy bedoel nie, maar toe verduidelik Hy dat Hy eintlik praat van ‘n geestelike oes. Dáár is die bevrediging nog véél groter, en baie gou is jou harde arbeid totaal vergete, wanneer jy die vreugde van ‘n suksesvolle oes geniet.
Vir ‘n tyd lank het Jesus se twaalf geroepe leerlinge nou al dag-vir-dag gesien wat Jesus doen, en gehoor wat Hy sê. As jy egter nie prakties gaan toepas wat jy geleer het nie, beteken dit niks. Die tyd het nou aangebreek dat hulle prakties uitgaan. Maar Jesus stuur hulle beslis nie met leë hande in die veld in nie - Hy het hulle behoorlik toegerus. Hierdie praktiese sessie was egter steeds net ‘n leerskool en eers later, ná Jesus se hemelvaart, sou hulle die bal aan die rol sit om die Evangelie deur die hele wêreld te versprei.
Uiteindelik breek die groot dag aan vir die manne om te gaan toepas wat hulle geleer het. Jesus gee hulle absolute volmag oor onrein geeste en om siekes te genees. Hulle kan met ander woorde direk Jesus se bediening as Sy gesagvolle gesante voortsit!
Johannes en sy maters kry baie spesifieke opdragte om uit te voer. Hulle word slegs na Israeliete gestuur en hulle moet die Samaritane en ander heidennasies vermy. Hulle boodskap aan almal moet wees: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Hulle boodskap móét egter gepaard gaan met die praktiese diens soos om siekes gesond te maak, selfs melaatses te reinig en bose geeste uit te dryf.
Johannes en sy maats is baie opgewonde om op hierdie manier prakties te gaan toepas wat hulle die afgelope ruk van Jesus geleer het. Dis opwindend!
Maar dan wag daar ‘n verrassing op hulle: as hulle dalk gedink het dat dit maklik sou wees, maak hulle ‘n baie gróót fout. Vir ‘n begin verbied Jesus hulle om énigiets met hulle saam te neem. Hulle mag géén geld, ekstra klere, skoene of selfs eers ‘n reissak saamvat nie. En boonop mag hulle géén vergoeding aanvaar van enigiemand vir dit wat hulle doen nie. Klink dit dalk ‘n bietjie onregverdig? Hoe moet hulle dan oorleef?
Nee, dis nie onregverdig nie - Jesus wil hulle ‘n baie belangrike ding leer - totale afhanklikheid van God! Daar op die berg het Hy mos vir hulle gepreek: “Salig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.” Dalk sal hulle dit onthou wanneer hulle iewers in die veld sonder kos of verblyf sit. Of dalk selfs met ‘n paar skoene wat op die pad die gees gegee het. Die ergste is dat wanneer dit gebeur, gaan hulle ook nie hoed in die hand iewers kan bedel om hulp nie. Hulle moet staatmaak op die gasvryheid van die mense wat hulle boodskap hoor. God sal die boodskap wel na iemand stuur, wat op sy beurt weer gehoorsaam sal wees aan God se stem en uit eie vrye wil, sonder dat iemand hom vra, vir die manne sal huisvesting, kos en selfs skoene gee - álles wat hulle nodig het!
Jesus wou dit vir Johannes-hulle baie duidelik stel hoe ernstig die boodskap was wat hulle moes uitdra. Vir diegene wat dit ontvang het, en veral diegene wat hulle gasvryheid gebied het, het die ryke seën van God gewag. Die belofte van die ewige lewe en God se vrede was meer as waarvoor enigiemand óóit kon vra. Diegene wat hulle verwerp het, het egter natuurlik ook die boodskap verwerp. En hulle het die ewige verdoemenis in die gesig gestaar! As teken daarvan moes die manne simbolies die stof van hulle voete afskud.
Ek en jy is ook deel van Jesus se span van “landbouers”. Sommige van ons word nog opgelei, en ons moet tevrede wees om maar bossies uit te trek of water te gee. Ander weer bestuur daardie groot masjiene wat tonne en tonne siele oes. Aan sommige van ons word slegs ‘n ou klein landjie toevertrou wat ons moet vertroetel totdat dit gereed is vir die oes. Sommige het selfs net een enkele ou mielieplantjie om op te pas! Dan is daar diegene wat ‘n reuse land gekry het om te bestuur, waar die oes reusagtig groot is, maar waar die verantwoordelikheid nog baie groter is.
Vind uit waar jou plekkie in Jesus se span is, en gaan sit skouer aan die wiel. As dit moet beteken dat jy opleiding van die een of ander aard moet ontvang, dan beter jy dit doen! Jesus het gesê: “Die oes is groot maar die arbeiders min.” Is dit dalk omdat jóú plekkie steeds leeg is?
Gebed:
Here, dankie dat U vir my die ewige lewe en U wonderlike vrede gegee het. Ek bid vanoggend vir so baie mense wat daagliks die boodskap hoor, maar dit steeds verwerp!