Hebreërs 12:14-29
Eksodus 19 vertel die verhaal van ‘n volk wat in doodsangs gestaan het omdat hulle ‘n ontmoeting met God gehad het. Moses het die “pasgebore” Joodse volk gelei tot by die berg Sinai. Daar het hy op God se bevel die berg alleen uitgeklim en die volk onder gelaat. God se opdrag aan hom was dat hierdie berg heilig is in God se teenwoordigheid, en dat niemand anders as Moses daar mag opklim nie, of selfs aan die voet van die berg raak nie. Só ernstig was die Here hieroor, dat enigiemand wat dit sou oortree summier doodgemaak moes word.
Hoe skrikwekkend! Miskien het hulle gewonder wat dan nou so spesiaal is aan ‘n berg in die woestyn - dit het maar soos enige ander berg gelyk! Moses kry ‘n tweede opdrag: die mense moes hulle gaan was en skoon klere aantrek sodat hulle simbolies rein voor God kon staan. Nou begin hierdie mense bekommerd raak: wat sou daar vir hulle wag? Wat gebeur as jy die Almagtige God ontmoet? Oor die afgelope tyd was hulle al voorberei met God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom. En dan was daar ook die verbysterende wonderwerk toe die see oopgekloof was vir hulle om hulle te red van die Egiptenare. Nou moes hulle egter vir God van aangesig tot aangesig ontmoet en hulle was bitter bang, want hulle het al so ‘n ietsie van God se almag beleef!
Toe die dag breek op daardie groot dag, word die Israeliete uit hulle vere geskud deur die allerverskriklikste donderslae en ‘n skerp, klaende geluid soos ‘n ramshoring wat al harder en harder word. Toe hulle uit hulle tente storm, sien hulle dat die berg gehul was in ‘n wolk. Weerlig het bonatuurlik geblits. Angsbevange moes hulle sien hoedat rook oral uit die berg begin borrel. Die aarde het geskud, en dit het gevoel asof die einde van die wêreld aangebreek het. Intussen het daardie eienaardige geluid van die ramshoring al hoe harder en harder geword. Die mense het behoorlik gebewe van angs. Wat hier gebeur het was nie maar net die natuurelemente nie - hier was iets verskriklik onnatuurlik aan die gang! Die volgende oomblik was daar ’n verblindende vuur toe God in vuur op die berg neerdaal. Gedurende hierdie magtige skouspel van God se teenwoordigheid, het Hy met Moses gepraat terwyl die volk bibberend van vrees moes toekyk!
Dit moes angswekkend gewees het om so ‘n ontmoeting met God te hê. Selfs Moses, wat talle kere vir God ontmoet het, het gesidder van angs voor God…...
Dit bring ons by ‘n baie netelige saak: hoe kan ek en jy vandag nog met God praat? Durf ons in ons sondige toestand voor Hom, die Almagtige verskyn? Dankie tog! Jesus het alles kom verander. Jesus het vir ons toegang kom bewerkstellig na die Almagtige God, sodat ons vandag in Sy teenwoordigheid mag staan sonder enige vrees!
Maar kom ons begin by die begin: Soos die Israeliete van ouds hulle moes gaan was en skoon klere aantrek, so wil God ook hê dat ons gereinig en skoon sal lewe as ons met Hom ‘n goeie verhouding wil hê. Die Hebreërskrywer se pleidooi is: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook ‘n heilige lewe.” Hierdie sinnetjie is ‘n baie groot mondvol, want om in vrede met my medemens te lewe behels sommer ‘n klomp dinge van my kant af. Daar kan nie ware vrede wees sonder liefde nie. Om vrede te bewerkstellig vra van my baie harde werk, want dit beteken dat ek my moet doofhou as iemand iets sleg teenoor my sê, sodat ek nie daaroor kwaad word nie. Dit beteken dat ek ‘n aggressiewe aanval moet antwoord met liefde en sagtheid, en absoluut opreg wees in my handeling. Dit beteken natuurlik ook dat ek niks sal sê wat kwetsend is teenoor iemand anders nie, want ’n snedige antwoord beteken dat my bedoelings nie waarlik opreg is nie. Om in vrede te lewe is beslis nie vir sissies nie!
Die tweede deel van sy sinnetjie is nóg moeiliker om te handhaaf: om heilig te lewe. Heilig beteken om afgesonder te wees vir God. Dit beteken dat ek van die sonde moet wegbly. Natuurlik is dit menslik totaal onmoontlik om geen sonde te doen nie, maar my lewe moet daarvan getuig dat ek hard probeer, en dit is ál wat God van my vra!
Vir ‘n enkeling is dit ‘n bitter stryd om so alleen teen die sonde te veg, en boonop nog vrede te probeer maak ook. Ons het mekaar daarvoor nodig om mekaar moed in te praat en te ondersteun, net soos wat die atlete gedurende die Comrades Maraton mekaar oor die wenstreep dra. As iemand struikel is die ander daar om hom op te help. Daarom is kerkgroepe so geweldig belangrik, want binne ‘n gemeente is die ruimte geskep vir mense om mekaar te ondersteun. Ek weet dat hier mense is wat vandag hierdie dagstukkie lees wat nie inskakel by ‘n gemeente nie. Ek pleit vanoggend by jou om deel te word van daardie ondersteuningsgroep waar mense vir mekaar omgee omdat Jesus in hulle harte is.
Ja, inderdaad het ons nie vandag nodig om in vrees en bewing voor God te staan nie. Jesus is ons Middelaar, sodat ons sonder enige vrees te enige tyd met God kan praat. Ja, Hy is steeds die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde, maar Jesus het vir ons die Deur geword na Hom. Jesus het Sy kant gebring deur alles te gee om daardie Kommunikasiekanaal te skep - selfs Sy eie lewe te gee en ‘n grusame dood te sterf aan die vloekhout. Sal ek en jy nie ook maar ons kant bring vir Hom nie? Kom ons wys met ons lewens dat ons werklik waardering het vir wat Hy vir ons gedoen het.
Gebed:
Here, dankie dat U vir my die pad oopgemaak het sodat ek vandag vrymoedig met God kan praat. Help my asseblief om ‘n heilige lewe te lei!