Wanneer Die Haan Kraai......

31 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer Die Haan Kraai......

Markus 14:66-72

VIDEO * OUDIO

‘n Goeie vriend stuur vir my hierdie skakel van Help4Missions en die wonderlike werk wat hulle doen. Kyk gerus daarna. bit.ly/help4m1

Terwyl die tempelwagte en die manne met die stokke en kieries vir Jesus na die huis van die hoëpriester neem, volg Petrus hulle op ’n afstand. Hy kan nie bekostig dat hulle hom nou gaan sien nie. Buiten vir die raserige klomp daar voor by die Meester, is die strate stil en verlate – dit is immers in die vroeë oggendure! By ’n groot huis in die bo-stad kom die stoet tot stilstand. “Dit móét seker die hoëpriester se huis wees!”

Hulle is nou nie te ver van die verfoeilike ou Herodus se paleis af nie. Petrus maak ’n besluit: Hy wil daar binne wees naby sy Meester. Dalk kan hy selfs sien wat hulle met Hom maak. Moontlik kan hy die Meester bystaan.

Die deur staan half oop, en Petrus sluip in. Nou bevind hy hom in die groot binnehof van Kajafas se huis. Vir só vroeg in die oggend is hierdie huis ’n baie besige plek. Oral staan mense rond. In die middel van die hof brand ’n vuur om die oggendkoue ’n bietjie te verdryf en ’n paar manne staan hulleself by die vlamme en warm maak. Die Man van Nasaret, Jesus, is die besprekingspunt by elke groepie. Petrus hou hom maar eenkant – hy ken tóg niemand hier nie. Gelukkig sal niemand hier hóm ook herken nie. Hy is teleurgesteld dat hy nie kan sien wat binne met Jesus aangaan nie. Iemand praat iets van ’n “hofsaak teen die Nasarener.” Maar waaraan kan hulle Hom dan skuldig vind?

Die ure draal stadig verby. Petrus merk dat een van die diensmeisies hom vraend aankyk. Herken sy hom dalk? Hy probeer die doek laag oor sy oë trek, maar dit maak die meisiekind net nóg meer nuuskierig. Petrus se hart krimp ineen as sy reguit na hom toe stap: “Jy was mos ook saam met Jesus, die Nasarener? Ek is séker ek het jou saam met Hom gesien!”

Petrus se mond word kurkdroog: “Nee…. Nee, jy maak seker ’n fout. Ek ken Hom nie! Ek verstaan nie wat jy probeer sê nie...”

As die meisie omdraai, word Petrus yskoud. So byna-byna het hy alles opgemors. Hy sal nou baie versigtiger moet wees dat hulle hom nie dalk herken nie!

Iewers agter die gebou kraai ’n haan dat die nag amper verby is. Vaagweg maak dit iets in Petrus wakker. Uit die hoek van sy oog hou hy die diensmeisie dop. Sy stap terug na haar maats. Hy kan sommer sien dat hulle hóm bespreek, want kort-kort kyk die meisies om in sy rigting. Hy trek die doek nog laer oor sy oë. Hy probeer baie hard wegkruip agter sy stukkie lap.

’n Tweede keer kom die meisie na Petrus: “Jy is verséker een van daardie Man se volgelinge! Die ander sê ook so. Hulle het jou saam met Hom gesien!” Die meisie kyk Petrus reguit in die oë: “Moenie ons om die bos probeer lei nie! So ’n rowwe gesig soos joune vergeet mens nie maklik nie!”

“Nee, julle maak ’n groot fout!” Petrus lag half senuweeagtig, “Julle verwar my met iemand anders. Ek weet nie wie daardie Man is waarvan julle praat nie.”

Die groepie diensmeisies verdwyn genadiglik na binne en Petrus begin meer gerus voel. Iemand stap verby hom op pad na die vuur. Skielik steek hy vas en draai om: “Haai manne! Kyk net wat het ons hier! Jy is mos een van daardie Galileër se maatjies?”

“Nee, nee.....” protesteer Petrus, “ek weet nie waarvan julle praat nie!”

“Ja waarlik!” antwoord iemand by die vuur, “Ek het jou Maandag daar by die tempel gesien! Jy was saam met Hom toe hy die handelaars so uitgesmyt het.” Die ander lag vulgêr. “Nee, nee....” wil Petrus protesteer.

“Man, moenie ons probeer flous nie, ons is mos nie blind nie! Enige aap kan mos sien dat jy ’n Galileër is nes Hy! Al julle simpele Galileërs lyk mos eenders!”

Nou is Petrus woedend: “Kan julle dit nie in julle simpele koppe kry dat ek daardie Man van wie julle praat van géén kant af ken nie!” ’n Paar lelike woorde verlaat Petrus se mond. Hy vloek die manne wat hom so “vals” beskuldig, en hy sweer dat hy, Petrus vir Jesus nog nóóit geken het nie.

Dan kraai die haan weer ....... oorverdowend hard. “Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën, Petrus.” Jesus se woorde van die vorige aand weergalm deur Petrus. Hy draai om en hardloop by die deur uit, die nag in. Rou snikke skeur deur sy bors. “Petrus, hoe kón jy ..... hoe kón jy!” Trane stroom oor sy gesig as hy bid en God om vergifnis smeek. Dat hy willens en wetens so ’n veragtelike ding kon doen!

Agter hom hoor hy die deur oopgaan en dan word Jesus, sy Rabbi en Meester deur ’n spottende skare uitgelei die straat op. Waarheen? Dit weet Petrus nie. Maar hy is séker hy kon sien dat Jesus reguit vir hom kyk, daar waar hy in die donker skuil. En hy is séker hy kon in Jesus se oë lees: “Toemaar Petrus, Ek verstaan.......”

Gebed:

Here, hoeveel maal in my lewe het ek nie ook al soos Petrus U verloën nie. Nes Petrus bid ek ook om vergifnis. Dankie Here, dat U verstaan en dat U my alreeds vergewe het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026