Handelinge 9:1-9
Damaskus - sal hy ooit Damaskus kan vergeet? Nee, hy wíl dit nóóit, óóit vergeet nie, al was dit so 'n traumatiese ervaring!
Alles het begin daardie middag laat net voordat hulle die stad sou binnegaan - hy en sy medewerkers, om die aanhangers van Jesus daar te gaan jag. En toe gebeur daardie geweldige ding: 'n verblindende lig, amper soos 'n weerligstraal kom skielik uit die helderblou hemel en tref Saul tussen die oë. Almal saam met hom het die lig op hom sien straal en baie bang geword. Almal het onmiddellik besef dat dit die lig van God is. Saul het soos 'n dooie op die grond neergeval.
Die volgende oomblik kom daar 'n stem uit die hemel: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
Bewend van angs vra Saul: “Wie is U, Here?”
En dan kom die antwoord wat Saul yskoud laat inmekaarkrimp van angs: “Ek is Jesus,” sê die Stem. “Dit is vir My wat jy vervolg.” Die hele geselskap saam met Saul sien wat gebeur en hoor die stem uit die hemel. Hulle staan daar, stomgeslaan, sprakeloos en bewend van angs. Dan vervolg die Stem: “Staan op, gaan na die stad toe. Dáár sal vir jou gesê word wat om te doen.”
Die volgende oomblik is alles weg en Saul lê op die grond, sy hande styf gekramp oor sy oë. Haastig storm die manne nader en help hom op sy voete. As hy sy oë probeer oopmaak, tref die volgende skok hom. “My oë! My oë!” kerm hy. “Ek kan niks sien nie! Ek het blind geword!”
Almal skarrel om hom te help, maar niemand weet mooi wat om te doen nie. Wanneer Saul begin kalmeer, maal die woorde van die Stem uit die hemel oor en oor en oor in sy kop: “Waarom vervolg jy My? Waarom vervolg jy My?” Stadig begin dit tot hom deurdring dat dit God is wat met hom gepraat het. “Gaan na die stad, Saul.......” hoor hy weer die opdrag.
“Kom manne, julle moet my help asseblief. Ek moet dadelik na die stad toe gaan.”
En so word die blinde Saul Damaskus binnegelei. In Reguitstraat kry hulle 'n gastehuis wat aan 'n sekere Judas behoort, en daar kry hulle vir Saul blyplek. “Julle kan maar teruggaan na Jerusalem. Los my hier,” beveel Saul hulle. Baie teësinnig vertrek hulle terug na Jerusalem om daar aan die hoëpriester te gaan verslag doen oor die tragiese ongeluk.
Drie dae lank lê Saul op sy bed. Drie volle dae en nagte bring hy deur in gebed. Hy verstaan gladnie wat met hom gebeur het nie. Al wat hy weet is dat dit 'n ingryping van die Almagtige God is. Hy is deurmekaar, en aanmekaar vra hy vir die Here wat aangaan? Maar dit voel asof hy teen die plafon vasbid. “Waarom vervolg jy My, Saul?” weerklink net die hele tyd deur sy verwarde gemoed.
“Maar Here, ek het dan gedink dat ek die regte ding doen?” is sy verweer, terwyl bitter trane van berou oor sy wange stroom.
Stadig begin daar 'n prentjie in sy verwarde gedagtes vorm. “Was ek nie dalk al die tyd verkeerd nie?” wonder hy. Maar dan wil hy sy dade probeer regverdig uit die Skrif. Die Woord sê tog baie duidelik dat daar slegs één God is en dat jy Hóm alleen mag aanbid. En hierdie mense wou dan van Jesus 'n God maak!
Dan kom die gedagte in sy binneste op: “Wat van die Messias, Saul? Is Hy nie God nie? En was hierdie Jesus nie dalk die Messias nie?” Nou is Saul éérs totaal verward! Jesus kon tog nie die beloofde Messias wees nie, want Hy het dan nie die volk gered van die Romeinse juk nie!
“Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” hoor hy weer die stem. “Ek is Jesus, dit is vir My wat jy vervolg.”
Saul is oortuig dat die stem uit die hemel die stem van God was. En as Hy sê: “Ek is Jesus,” dan is Jesus mos God! Nou is Saul nóg meer verward, en die trane stroom van vooraf oor sy wange. Hy weier om enigiets te eet of te drink. Hierdie ding móét hy eers met God uitspook.
'n Aangrypende verhaal. Maar is dit nie dikwels ons eie verhaal nie? Ek onthou nog baie goed dat ek 58 jaar gelede óók gedink het dat ek die Here wáárlik volg. En toe word my borreltjie een nag gebars, en ek moes uitvind dat dit nooit die geval was nie! Ek was sélf ook verward. Maar danksy wonderlike vriende wat my op die eerste treë van navolging van Jesus gehelp het, kon ek baie gou my voete vind.
Saul was op die punt om die eerste tree na ware geloof te gee. Maar daarvoor het hy óók iemand nodig gehad om hom te help om daardie stap te neem.
My vraag aan jou vanoggend is, waar staan jy op hierdie oomblik? Dink jy dat jy besig is om die Here te dien op jou eie manier? Of het jy al by daardie punt gekom waar jy séker is dat jy waarlik 'n kind van God is? Dikwels het selfs kerkmense nie daardie sekerheid nie. Dis nie 'n skande nie, maar dit kan beteken dat jy dalk nie die ewige lewe het nie. As jy vandag nie seker is nie, kontak my asseblief vandag nog by louis@dagstukkie.co.za of stuur ‘n WhatsApp aan 082 771 4925. Of gesels dringend met jou leraar. Moenie uitstel nie, more mag dalk nét te laat wees!
Gebed:
Here, ek bid vir elkeen wat hierdie dagstukkie lees en nog nie 'n oorgawe aan U gemaak het nie!