Johannes 13:1-17
Petrus glimlag behaaglik as hy hom op die sagte kussing neervlei. Dit gebeur maar baie selde dat hulle die geleentheid kry om saam by 'n tafel te lê en eet. Die groep van dertien lê heerlik uitgestrek rondom die lae tafel wat kreun van die kos.
Petrus frons - iets ruik nie baie lekker nie. Hy kyk so skuins af na Matteus se voete wat hier reg onder sy neus nesgeskrop het. Daai paar voete het dringend 'n skrop nodig! Hulle moes tóg maar 'n slaaf gekry het om hulle voete te kom was! Maar vir sulke luukshede is daar nie nou geld nie! Ja, gewoonlik is dit maar die arme vrou in die huis wat hierdie grillerige takie kry as daar nie 'n slaaf is nie, maar vandag is hier nie eers 'n vrou nie!
Petrus wonder - dis mos die persoon met die héél laagste status wat die voorreg kry om hierdie onaangename takie af te handel. Hy loer na die twee broers, Johannes en Jakobus wat reg oorkant hom hulle lêplek gekry het. "Beslis nie dáái twee nie!" Hy wil-wil hom net weer vererg vir die twee arrogante vente wat mos wil dink dat hulle beter as die res is!
Matteus roer weer sy voete en nou kom die klankie baie erg deur! Petrus verloor skielik skoon sy eetlus!
Petrus skrik amper as Jesus skielik hier links van hom opstaan. Hy kyk vraend na Jesus. Die manne se oë volg almal vir Jesus as Hy na die hoek stap waar 'n waskom en 'n beker water staan. Hy bind 'n handdoek om Sy middel en dan gooi hy die beker water uit in die waskom.
Matteus skop teen Petrus se arm: "Wat maak hy?" fluister hy vir Petrus.
"Nee, ek weet ook nie....."
Dan snak die manne na hulle asems as hulle besef dat hulle Rabbi beplan om die manne se voete te was! Dit word net eenvoudig nie gedoen nie!
Die jongste van die groep, Johannes is eerste aan die beurt. Hy is maar bra onwillig dat die Meester sy voete was en hy voel verskriklik ongemaklik. Daarna volg sy broer Jakobus, die twee Judasse, Filippus en Bartolomeus.
Petrus se oë rek al groter hoe nader dit na sy beurt kom. Die sweet begin hom onwillekeurig aftap. "Ek kan mos nie toelaat dat Jesus mý voete was nie? Dis nie betaamlik nie!"
Wanneer dit by Petrus se beurt kom, weier hy soos ‘n steeks donkie: “Nooit in der ewigheid nie, Here! Ek sal dit nóóit toelaat nie!”
Ai tóg! Petrus is soos altyd wéér dwars van die gereg! Hierdie slag het hy gesien hoedat sy Meester verneder word om slaaf te speel en Petrus wil géén deel hê aan sy Rabbi se vernedering nie!
"Petrus, as Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
Petrus skrik hom boeglam! Maar skielik gaan daar vir Petrus ‘n liggie (‘n baie klein liggie!) op. Hy besluit dat as Jesus wou was, dan moet Hy asseblief sommer sy héle lyf was! “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.”
"Petrus, iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.”
Petrus verstaan soos gewoonlik alweer gladnie. Hoekom sou Jesus wil beweer dat hulle gebad is? En hoekom sou Hy sê: “Julle is nie almal skoon nie?” Wat sou Hy daarmee bedoel?
Jesus se handeling het gedemonstreer dat ons, Sy volgelinge se waardestelsels totaal verskil van dié van die wêreld. Eintlik het Hy daardie dag ons waardestelsels totaal omvergegooi! God se liefde en mag lê júís in opoffering en nederigheid. Hier het Hy, die Seun van God, Skepper van die heelal en Opperste Heerser dit prakties kom demonstreer deur sélf Slaaf te word en die nederigste van alle werke te kom doen!
Wat wou Jesus daardie dag vir Sy volgelinge sê?
Eerstens dat die voetwassery simbolies was van ons vuil sondige verlede wat skoongewas word deur Jesus. “As ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie!” Om enigsins deel te kan hê aan Jesus, móét ons toelaat dat Hy ons sondes afwas. Hoe doen Hy dit? Hy het die volle straf gedra vir ons sondes op Golgota. Ons moet hierdie geskenk van vergifnis aanvaar en ons eie maak.
Tweedens moet ons Jesus se voorbeeld navolg. As Hy, wat so hoog bo ons verhewe is, bereid was om die nederigste werk te doen, moet ons ook bereid wees om die minste te wees. Dit is nie maklik nie! Toe Adriaan Vlok destyds Desmond Tutu se voete gewas het, het die wêreld hom uitgelag en gespot. Dit was ‘n bitter vernederende simboliese handeling. Maar daardeur het hy baie rou wonde van oorheersing en baasskap genees.
Ons moet dit baie duidelik besef, dat jou lewe drasties verander die dag wanneer jy Jesus se vergifnis en verlossing ontvang. Dis egter maar net die begin. Hierna moet jy Jesus se voorbeeld navolg - jy kan nie maar gaan sit en ontspan nie! Jesus demonstreer dit dan ook baie duidelik dat een van die maniere waarop ons Hom moet volg, is om ook daardie selfde opofferende diens aan mekaar te bewys soos wat Hy gedoen het. Min gelowiges sien kans vir die “vuil werk” - die dinge wat vernederend is en benede my waardigheid. Hoe ver is ek en jy bereid om te daal sodat Jesus, die Koning, verheerlik kan word?
Gebed:
Here, ek bely dat ek nog so styf vasklou aan my waardigheid. Help my asseblief om U wonderlike voorbeeld na te volg!