Galasiërs 4:8-20
Paulus is ‘n desperate man. Die vals leer wat die gemeente in Galasië aanhang rus bitter swaar op sy arme oorlaaide skouers, en hy probeer alles in sy vermoë om hulle tot ander oortuigings te bring. Nou loots hy ‘n hartroerende, emosiebelaaide oproep om hulle te probeer oortuig dat hulle verkeerd is. Dit is totaal onverstaanbaar dat hulle hierdie verkeerde leer probeer aanhang!
In vers 8 sê hy dat hulle voorheen die slawe van “nikswerd afgode” was. Hulle het ‘n godsdiens aangehang waar hulle gebind was aan allerhande reëls en rituele om hierdie sogenaamde gode van hulle te probeer gelukkig hou. Hulle moes offerandes bring en allerhande rituele uitvoer volgens die priesters se voorskrifte, en dit alles vir gode wat absoluut niks vir hulle kon doen nie.
Toe bring Paulus hulle die boodskap van God se verlossing. Hulle hoor die blye nuus dat Jesus hulle kan vrymaak van hierdie verskriklike slawerny van afgode. Hulle aanvaar die aanbod wat Jesus hulle bied, en die slawekettings disintegreer. Hulle is vry!
Maar wat doen hulle dan? Hulle gaan staan en leen hulle ore uit vir dwaalleraars wat hulle wysmaak dat hulle nou ál die ou Joodse wette moes nakom. Dis immers soos wat dit gedoen móés word! En nou is hulle van vooraf weer slawe, hierdie slag slawe van die wet! “Ek is bevrees, al my harde werk aan julle was dalk tevergeefs!” huil Paulus. Hy is moedeloos.
Hoe is hulle slawe van die wet? In Paulus se eie woorde: Hulle het verval in ‘n spul “minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” (v. 9). In plaas daarvan dat hulle hulle geloof in Christus vry uitleef, moes hulle nou konsentreer om tred te hou met die Joodse feeste en rituele. Die Joodse Godsdienstige kalender het duidelike voorskrifte gehad wat nougeset nagekom moes word. Dit moes op presies die regte datum gevier word, en daar was dikwels ‘n hewige gestryery onder die Jode oor watter datum nou eintlik die regte een was. En dan was daar die voorskrifte oor wat presies moes gebeur op elke geleentheid, soos byvoorbeeld van suurdeeg waarvan die laaste krummeltjie uit die huis uitgegooi moes word. En die liewe Sabbatswette wat so verskriklik pynlik nagekom moes word. Daar was dosyne reëls en regulasies om te verhoed dat jy nie per ongeluk iets doen wat nie veroorloof was op ‘n Sabbat nie!
Die arme mense het hulleself so verstrengel in die moets en moenies, dat Godsdiens vir hulle ‘n pyn geword het. Hulle het so baie tyd spandeer om die wette te onderhou, dat hulle nooit by die ware Godsdiens kon uitkom nie.
Paulus herinner die gemeente daaraan hoe hartlik hulle hom aanvanklik ontvang het, en die wonderlike liefde wat hulle aan hom bewys het. Ja, hier het hulle nog waarlik hulle Godsdiens uitgeleef soos God dit graag wou hê. Paulus was op daardie stadium siek, maar hulle het hom ontvang asof hy ‘n engel van God was (v. 14). In daardie jare was siekte dikwels gesien as demoniese besetting, en van so ‘n persoon het hulle weggebly. Maar ten spyte daarvan het hulle Paulus met ope arms ontvang.
Maar nou? Paulus sug baie swaar want hulle dwaling het hulle selfs van hom vervreem. “Het ek dan julle vyand geword?” huil hy.
Ons wil die tong klik en sê: “Foeitog, die arme mense!” Ons is só bly dat ons nie vasgevang is in die Joodse wette nie. Ons moet egter baie versigtig wees dat ons nie in presies dieselfde strik trap as hierdie arme mense van Galasië nie! Dit is so maklik om te verval in Godsdienstige wette en rituele. Dis geestelike slawerny! Dalk is jy verbaas, maar so dikwels word daar vir ons allerhande geestelike reëls voorgehou wat ons slaafs moet navolg. Dit kan dinge wees wat vir ons belangrik geword het in ons geestelike lewe, maar wat van geen waarde is nie. Neem ‘n voorbeeld: iemand organiseer ‘n vas-tydperk, en nou word jy ingeboelie om daaraan deel te neem. As jy dit nie doen nie, voel jy baie skuldig, dus doen jy dit. Nee, daar is niks verkeerd met vas nie. Dit kan baie heilsaam wees, maar as jy dit uit dwang doen, is dit geestelike slawerny. ‘n Ander goeie voorbeeld is hierdie verpestelike Whatsapp boodskappies met die opdrag dat jy dit binne tien minute aan tien ander mense moet stuur. Doen jy dit nie, dan skaam jy jou vir die evangelie! Kom ek sê dit reguit: As jy vir my so ‘n boodskap stuur, maak nie saak hóé mooi die boodskap is nie, beland dit dadelik in die asblik! Ek weier om van myself ‘n godsdienstige slaaf te maak! Jesus het my vrygemaak!
Kom ons lewe as ware vrygemaakte kinders van God, vrygekoop deur Jesus. Baie, baie duur gekoop! Hy het Sy lewe gegee vir ons vryheid. As ons dit nie gebruik nie, minag ons Hom.
Gebed:
Here Jesus, U het my vrygekoop. Help my asseblief om daardie wonderlike vryheid uit te leef volgens U wil.