Vrugte van Dankbaarheid

23 June, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrugte van Dankbaarheid

Kolossense 1:3-8

VIDEO * OUDIO

Daar heers ‘n verwoede stryd op die rugbyveld. Die Willebeeste bemeester die bal uit die losskrum en dan staan Gert gereed om daardie bal agter die doellyn te gaan plant. Die probleem is dat hy nie die bal het nie. Dié kosbare voorwerp is stewig in Piet se greep waar hy hom probeer loswurm van sy opponente. “Piet, hier Piet! Gooi hom vir my asseblief!” soebat Gert.

Dan slinger Piet die bal vir Gert. Dankbaar kyk Gert sy spanmaat in die oë: “Dankie ou Piet man, ek wag al héél middag om die bal te kry. Dankie dat jy my die eer gee om die bal te kan hanteer, ek waardeer dit opreg! Jy is ‘n vriend duisend!”

Absurd! Lagwekkend! So speel ‘n mens mos nie rugby nie? Lank voor Gert nog sy “dankie” kon uitspreek was hy al plat geloop! Jy sê nie dankie aan jou spanmaat tydens ‘n rugbywedstryd nie, want elkeen doen mos maar net sy plig! Dis immers wat van hom verwag word. Opregte dank kom alleen God toe.

Die gesinslede van die Midde Ooste van 2000 jaar gelede het ook nie gewoonlik vir mekaar dankie gesê nie. Daar was die gesin absoluut álles en ál die gesinslede was afhanklik van mekaar. Hulle het allerhande dinge vir mekaar gedoen, sonder dat daar ooit “dankie” gesê is, want dit word verwag dat dinge natuurlik sal gebeur. Dieselfde het ook gegeld vir groter groepe, ‘n familiegroep, stam of selfs volk.

As ‘n gemeente reg funksioneer, het elke gemeentelid sy taak - iets wat hy met passie verrig. Dan is daar dus geen nodigheid vir ‘n oor en weer se dankiesêery nie. Dán moet jy vir God dankie sê dat Hy die gemeente so aan die brand hou sodat hulle produktief funksioneer. Dit is dan ook die rede waarom Paulus nie vir die mense in die gemeente dankie gesê het nie, maar eerder Gód gedank het vír die gemeente, vir hulle geloof en liefde vir medegelowiges wat só ooglopend was.

Dat daar probleme in die gemeente was, is nie te betwyfel nie, want Eprafas het juis kom hulp soek by Paulus oor hierdie probleme. Paulus het egter nie met die deur in die huis geval en hulle beskuldig van allerhande ongerymdhede nie. Hy moes eers die reg verdien om met hulle te mag praat. Hy het vir die gemeente verduidelik dat hulle, net soos hy deel was van God se Evangelie wat regoor die wêreld geblom het. Daarna het hy aansluiting gekry by hulle liefde en geloof en toe beskryf hy wat nou eintlik gebeur wanneer die Evangelie verkondig word. Dit is soos vrugte aan ‘n boom, vrugte van liefde en geloof. Die vraag is: waar kom die vrugte vandaan? Dit begin by die wortels waarsonder die vrugte nooit sal kan bestaan nie. Ons kan dit beskryf as God se genade.

Hoe werk Paulus se argument?

In vers 4 noem hy dat hulle geloof en liefde het op grond van die hoop, wat natuurlik spruit uit die Evangelie wat hulle gehoor het. Die Evangelie het egter nie net na húlle gekom nie, maar dit het regoor die wêreld versprei en dit blom en dra vrugte. Die oorsprong van dit alles is egter die genade van God. Dít is die pad wat die Evangelie loop.

Geloof en liefde bestaan uit ‘n vertikale sowel as ‘n horisontale verhouding. Geloof is vertikaal, oftewel vertroue in Jesus omdat jy met jou hele hart aanvaar het wie Hy is en wat Hy gedoen het en steeds doen. Op die horisontale vlak werk jou geloof deur in liefde na mede-gelowiges uit te reik. Dit is nie ‘n emosionele soort liefde nie, maar ‘n vrywillige verpligting om vir mekaar om te gee, nét soos wat dit gebeur binne ‘n gesin, waar ouers en kinders vir mekaar omgee. Natuurlik gee die Heilige Gees jou die krag hiervoor, want uit jou eie is dit onmoontlik!

Daar is egter ‘n uiters belangrike element nodig om te kan glo en liefhê, naamlik Christelike hoop. Hierdie hoop is nie iets wat onseker is nie, maar dit staan vas as een van God se onfeilbare beloftes. Ja, natuurlik weet jy nie wanneer dít gaan gebeur waarop jy hoop nie, maar dát dit gaan gebeur is ‘n absolute sekerheid! God waarborg dit immers! Dit is dáárom dat Paulus sê dat die hoop in die hemel bewaar word.

Wat gebeur as iemand aageraak word deur die Evangelie? As ons na die natuur kyk, sien ons dat wanneer jy ‘n saad plant, begin dit groei en dit dra uiteindelik vrugte en dit versprei. Presies dieselfde gebeur met die Evangelie. Wanneer dit in iemand se hart geplant word is die uiteinde dat dit groei, vrug dra en versprei. Dit is, terloops, nie die predikant/pastoor se taak om die Evangelie te versprei nie, maar elke gelowige s’n. Paulus sê vir die gemeente in Kolosse, dat dit regoor die wêreld gebeur en dat dit nie anders moet wees in hulle gemeente nie. Dan praat hy direk ook met jou en my, want dit moet ook nie anders wees in óns gemeente nie. Elke gelowige het die taak om vrug te dra van liefde wat in ons lewens blom en om die Evangelie te versprei.

Die vraag is: doen ons dit ooit?

Gebed:

Here, maak my en my gemeente asseblief vrugbaar, en gee vir ons die vuur van U Heilige Gees in ons harte om die wonderlike Evangelie van Jesus uit te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026