1 Tessalonisense 1:1
Dit was vroeg in die somer van die jaar 50nC. toe Paulus en Silas, vergesel van die jong kêrel, Timoteus in die Griekse hawestad Tessalonika, die hoofstad van Masedonië aankom. Dit was ‘n besige handelsentrum op die 7 000 km lange Syroete, die hoofroete tussen Rome en Ooste. Hulle doel was baie eenvoudig: soveel mense moontlik in die stad moes die verlossingsboodskap van Jesus hoor en aanneem. Sy strategie was om eers die Jode te bearbei want hulle het alreeds 'n agtergrond oor God gehad. Aangesien Paulus ‘n gerespekteerde Fariseër en leermeester was, kon hulle toegang tot die plaaslike sinagoge kry en daar preek vir drie weke. Dit het goed gegaan en ‘n paar Jode kom selfs tot bekering! Maar dit was eintlik die Grieke en veral ‘n klomp vooraanstaande Griekse vrouens wat aan hierdie sendelinge se lippe gehang het!
Toe die Jode sien hoe die Grieke reageer, het hulle afgunstig geraak en ‘n slinkse plan beraam om van Paulus ontslae te raak. Hulle het ‘n paar leeglêers omgekoop om ‘n opstand te bewerkstellig. Skaars drie weke na hulle aankoms moes Paulus en sy geselskap vlug vir hulle lewens!
Timoteus en Silas het in die omgewing by Berea agtergebly terwyl Paulus verder na die stad Atene gegaan het. Maar die bloedjong gemeentetjie van Tessalonika het maar deurentyd in sy gedagtes gebly. Sou hulle geloof staande kon bly? Van Atene gaan hy na Korinte waar hy ‘n brief skryf aan die gemeente in Tessalonika. Hy wou nie hê dat hierdie gemeentetjie sommer moes verdwyn en dat die waarhede wat hy hulle geleer het, vergete sou gaan nie! Dis baie merkwaardig dat ‘n jong gemeente, wat net uit jong gelowiges bestaan en slegs vir 3 weke geestelike leiding ontvang het, bly voortbestaan en selfs floreer!
Paulus besluit om vir Timoteus na Tessalonika te stuur met sy brief. Liewe Timoteus, half Joods, half Grieks, maar ‘n wonderlike toegewyde gelowige en vriend! Natuurlik sou Timoteus, soos gewoonlik nie skroom om terug te gaan na daardie vyandige stad nie. Inderdaad was Timoteus se lewe nie sonder uitdagings nie. Omdat sy pa ‘n Griek was, was Timoteus natuurlik nooit besny soos die ander klein Joodjies nie. Paulus het moeilikheid sien kom, want onbesnede kon hy Timoteus nooit in ‘n sinagoge invat nie, en die arme Timoteus moes toe mooitjies maar op sy tande byt terwyl Paulus die pynlike operasietjie uitvoer in sy tuisdorp, Listra. Maar daarna was Timoteus gereed om enige sinagoge aan te durf! ‘n Paar jaar later sou Paulus nog vir Timoteus na Efese stuur om te dien as herder van daardie gemeente.
Paulus het baie lief geword vir die mense van Tessalonika! Hy begin sy brief skryf namens hom en sy twee kollegas: “Paulus en Silvanus en Timoteus, aan die gemeente van Tessalonika in God, ons Vader, en die Here Jesus Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.”
Paulus se gedagtes dwaal: Hoeveel het hy en sy twee metgeselle nie al deurgemaak nie! Saam kon hulle ‘n bruisende bediening tot stand bring in verskeie stede. Natuurlik was dit slegs moontlik deur die wonderlike krag wat die Heilige Gees hulle gegee het! Maar saam moes hulle ook al ‘n paar keer vlug vir hulle lewens, veral wanneer die Jode hulle sin gekry het! En dan was daar die keer toe Silas saam met hom opgesluit was in die kerker. Hy onthou nog hoe seer hulle lywe was nadat hulle gegésel was, en hoe hulle daar in Filippi se tronk vasgeketting was. Toe hulle nie kon lê van die rou sere aan hulle lywe nie, het hulle maar begin sing. Dit het immers die pyn verdryf. Later het hulle twee se vrolike lofliedere dwarsdeur die skrikwekkende nag weergalm deur die hele tronk. En toe, die asemrowende wonderwerk toe ‘n engel hulle kom bevry het. Hy het die kettings gebreek en die tronkdeure oopgegooi. Paulus glimlag as hy dink aan die tronkbewaarder se vreesbevange gesig. Ware staatmakers, Silas en Timoteus!
Natuurlik kom Silas al ‘n baie lang pad saam met Paulus. Selfs nog voor die eerste sendingreis plaasgevind het, het die ringkoppe in Jerusalem vir Silas saam met Paulus en Barnabas na Antiogië gestuur om dinge daar te gaan uitsorteer.
Ware vriende, wat bereid is om saam met jou te staan deur dik en dun, is goud werd! Dit is hemels om te weet dat daar iemand is wat sy lewe vir jou sal opoffer, en enigiets vir jou sal doen – onselfsugtig! Die vraag is egter of ek en jy bereid is om dieselfde vir iemand anders te doen. Dit gaan nie in die lewe oor die goeie vriende wat jy het nie, maar of jy sélf ‘n goeie vriend vir iemand is. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van wat ‘n goeie vriend behoort te doen. Hy het absoluut alles in die lewe opgeoffer om die evangelieboodskap tot stand te bring. Hy was bereid om reuse skares mense te trotseer om mense gesond te maak, kos te gee, te leer. Vir Sy twaalftal binnekring-manne het Hy Hom afgesloof, om hulle te leer en op te lei vir hulle groot lewenstaak. Toe Sy intieme vriende Hom verlaat, weggehardloop en selfs verloën het, het Hy steeds Sy liefde vir hulle behou. Hy het verder gegaan en Sy lewe op die grusaamste moontlike wyse gegee sodat hulle kon lewe. Wat doen ek en jy?
Gebed:
Here, dankie vir wonderlike vriende deur my lewe, maar veral dankie vir wat U vir my gedoen het. Here, maak my asseblief ‘n goeie vriend!