1 Samuel 17:17-31
Wanneer Dawid donkeroggend in die pad val om vir sy broers voorrade te neem, is die sakke swaar gelaai. Daar is sestien kilogram gebraaide koring en tien brode om sy broers vir die volgende paar weke aan die lewe te hou, en vir die bevelvoerder van die kamp is daar ook ‘n bonussie: tien kase. Dawid tref gou laaste reëlings met die veewagter, en dan tel hy die swaar vrag op sy skouers. Dit is dertig kilometer tot by die Vallei van die Groot Boom, dus kan hy teen vanaand daar wees as hy wikkel. Met ‘n lied in die hart pak die jong Dawid die moeilike pad aan oor berge en deur dale. Hy wonder darem oor daardie Goliat-gedrog waarvan Pa Isai gepraat het. Kan hy werklik so verskriklik groot wees soos die mense sê? “Aag, dis sommer net praatjies!” besluit Dawid.
Vir ‘n fikse man soos Dawid is ‘n skamele dertig kilometer sommer ‘n ou wandelinkie in die park, ten spyte van ‘n swaar vrag kos. Wanneer hy die middag by die kamp van die Israeliete aankom, is die manne net mooi besig om ‘n linie te vorm op die rant. “Daar is aksie!” bons dit in Dawid se hart. En dan hoor hy die bloedstollende oorlogskreet weerklink, sodat dit eggo deur die klowe. ‘n Gevoel van trots wel in Dawid se borskas op - dit is sy trotse volk wat so skrikwekkend klink. Oorhaastig gaan gooi hy die vrag af by die oppasser en dan hardloop hy na die front toe. Hy wil niks van die opwinding mis nie!
Aan die oorkant van die smal vallei sien Dawid die linies van die Filistyne opgestel staan, gereed om te veg. Dawid sien sommer dadelik dat daardie klomp ‘n goed-georganiseerde oorlogsmasjien is, gewapen tot die tande. Skilde, spiese en swaarde blink in die laatmiddagson waar hulle bankvas staan op die kruin. Dawid se oë soek vir bekendes tussen sy eie mense. En dan herken hy sy drie broers. Opgewonde hardloop hy na hulle toe om hulle te gaan groet, maar die manne lyk nie juis te ingenome met sy besoek nie. “Wat soek die bogsnuiter alweer hier? Dit is ‘n plek vir hardebaarde hierdie!” mompel hulle onder mekaar.
Op daardie oomblik raak dit skielik doodstil in die kamp van die Israeliete. Almal se aandag is gevestig op één plek. Uit die geledere van die Filistyne tree ‘n man na vore, en almal snak na hulle asems. Ja, hulle het hom al vantevore gesien - al tálle kere, maar elke keer laat hy hulle steeds ineen krimp van vrees. Dawid se oë rek: “Dan is dit tóg waar! Dit is die grootste, woesste kreatuur wat ek nog óóit gesien het!” Outomaties tree die manne ‘n paar treë terug - so asof hulle wil wegvlug van die gedrog af.
En dan begin die reus allerhande verskriklike dinge oor Israel sê. Hulle is ‘n papbroekige spul sissies want almal is bang vir hom. Hulle is almal Saul se slawe! Hy het nog baie ander lelike dinge gesê, maar Dawid het lankal nie meer geluister na sy profaniteite nie.
Daardie aand om die kampvuur wil Dawid meer weet omtrent hierdie Goliat-kêrel. “Hy kom net om ons te verkleineer!” sê een van die manne vir Dawid.
“Kyk, die man wat hom gaan verslaan - hy gaan ‘n skatryk man wees!” lag iemand anders.
“Ja, en die koning het nou die dag vir ons belowe dat so ‘n held boonop nog sy dogter as vrou sal kry!”
Dawid het hoeka al ‘n oog op daardie mooi meisiekind wat hy in Saul se paleis gesien het - die een met die mooi, vonkelende oë. Maar nou is daar baie belangriker dinge wat sy gedagtes vul. “Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn dat hy sommer so die leër van die Lewende God kan slegsê? Waarom vat niemand hom aan nie?”
“Boetie, dis nou tyd dat jy jou loop kry, terug na jou skapies toe waar jy hoort. Moenie jou kom staan en inmeng met die dinge van manne nie. Watse vermetelheid is dit van jou om ons hier te wil kom aansê oor wat ons moet doen? Jy is net ‘n klein kwaadstoker!”
Dawid draai seergemaak sy rug op sy broer: “Daardie Filistyn is dit nie werd dat ‘n mens oor hom moedeloos raak nie. Het julle manne dan vergeet dat God met ons is? As niemand anders vir Goliat kans sien nie, dan sal ék hom gaan aanvat!”
Die manne lag diep uit die maag vir hierdie jong snuiter, maar hulle sien dat Dawid baie ernstig is oor wat hy gesê het. En dan staan iemand op en stap ongemerk na die koning se tent toe - “Hiervan móét Saul hoor!”
Waarom is dit dat die Goliat’s van die lewe ons so maklik die skrik op die lyf jaag? Géén Goliat - géén situasie is groter as God nie. Met selfs die afskuwelikste reus wat ons bedreig, kan ons steeds berus want God is in beheer en Hy is groot en almagtig. Ons sing maklik: “Hoe groot is ons God.” Maar bedoel ons werklik wat ons sing? Glo ons waarlik self wat ons sing, of is dit maar net ‘n mooi liedjie met hol woorde?
Gebed:
Here, vanoggend kan ek maar net weer opkyk na U en wéét dat ek veilig is in U hande!