Vrees

5 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrees

1 Johannes 4:13-18 asook Psalm 116

VIDEO | OUDIO

Was jy al ooit rêrag bang in jou lewe? Daagliks hoor jy van rooftogte en van die verskriklike angs waarin die slagoffers dikwels verkeer.

‘n Paar jaar gelede het ’n kêrel ‘n ander soort angs beleef toe hy deur ‘n leeu aangeval is. Die boere het ‘n leeu gejag wat ‘n klomp van hulle beeste gevang het. Dit het al begin skemer raak toe die leeu skielik op een van die manne afstorm. Alles het bitter vinnig gebeur maar hy kon ‘n skoot skiet. Dit het egter nie die leeu gestuit nie en die dierasie het op hom gespring en hom begin verskeur. Desperaat het hy die leeu se slagtande van sy kop en nek af probeer wegkeer met sy arms. Sy spoorsnyer het uiteindelik, na ‘n stuk of vyf geweerskote daarin geslaag om die leeu dood te skiet bo-op die erg-gewonde man. Die pyn en vrees wat die arme man moes deurmaak was skrikwekkend!

Die verhaal laat my dink aan my Tant Ann. Sy was maar ‘n wilde entjie mens en toe die manne eendag besluit om te gaan jag in die Laeveld, wou sy opsluit saam. Sy was maar ‘n jong meisie en die wêreld was woes en wild, nie lank na die Boere Oorlog nie. Uiteindelik het sy haar sin gekry en sy is saam op die ossewa waarmee hulle die jagveld in is. Vanaf Machadodorp was dit etlike dae se ry om in die Laeveld te kom, maar uiteindelik het hulle kamp opgeslaan in die wildernis.

Een aand sit hulle langs die kampvuur na ‘n harde dag se jag. Een van die manne tel sy geweer op om dit skoon te maak, gereed vir die volgende dag se jag. Maar toe doen hy die ding waarteen alle jagters gewaarsku word: hy maak nie seker dat die geweer veilig is nie. Die volgende oomblik gaan daar ‘n skoot af. Die loodkoeël tref ‘n stuk yster, ontplof en skram weg en Ann word getref in die bobeen deur hierdie stuk warrelende lood!

Skielik is alles in rep en roer. Ann se been bloei verskriklik. Die koeël het feitlik al die vleis van haar bobeen weggeblaas en hier sit hulle dae weg van enige beskawing. Hoe lank dit hulle met die ossewa geneem het om haar tot by die spoorlyn te bring, weet ek nie maar ek kan my indink deur watter verskriklike pyn sy moes gaan op die stampende ossewa deur die onherbergsame bosse. Ek kan maar net dink watter vrees haar beetgepak het terwyl sy met die verskriklike wond worstel om te bly leef!

Uiteindelik is sy per trein na ‘n hospitaaltjie in Barberton. Die verhaal het egter ook ‘n ander sy: Ann se versoek aan haar reisgenote was dat hulle vir haar geestelike liedere sou sing. Natuurlik het almal geglo dat sy enige oomblik die emmer sou skop en deur die trane was dit bitter moeilik om noot te hou. Maar Ann het saamgesing en haar liedere was vrolik en opgeruimd, ten spyte van al haar pyn en lyding. Uiteindelik het dit duidelik geword dat dit nie Ann was wat angs beleef het nie maar haar familie saam met haar. Selfs in haar jeugdige ouderdom was sy nie bang vir die dood nie.

Ja, sy het oorleef om die verhaal persoonlik vir my te kon vertel en sy het stokoud geword!

Wat maak dat ‘n mens in sulke nagmerrie-omstandighede nie bang is nie? Alleen as jy geloofsekerheid het, kan jy deur die skrikwekkendste omstandighede steeds vreesloos bly. Nee, natúúrlik kan jy dit nie vermag uit jou eie krag en uit jou eie “vaste geloof” nie. Dit is die Heilige Gees wat in jou is wat jou daardie krag gee om staande te kan bly.

Elke mens is vir iets in die lewe bang. Sommige mense wil doodgaan van vrees vir ‘n spinnekop al is hy ook hóé onskuldig. Vir ander mense is dit die donker of pyn of hoogtes. Die grootste vrees wat mense egter beleef is vir die dood. Wat wag daar anderkant? Wat gaan gebeur met jou die dag as jy doodgaan? Baie mense wil gladnie eers daaroor dink nie, want die blote gedagte is té skrikwekkend. En met reg ook so want in die Bybel word die oordeel van God baie grafies beskryf as ‘n geween en ‘n gekners van tande. Daar is die verskriklike verterende vuur van die hel en die pyn wat daarmee saamgaan en dít terwyl jy nie kan doodgaan nie, maar net aanmekaar die pyn moet verduur - dag na dag - vir ewig!

Nogtans leer Johannes vir ons dat God liefde is en dat Hy niemand wil straf nie. Daar is egter ‘n voorwaarde, dat jy moet glo in Jesus Christus, die Seun van God. God se liefde kom tot volle openbaring wanneer jy hierdie vryspraak van Hom beleef in Jesus. Dan, sê Johannes, hoef jy absoluut niks te vrees nie, want die grootste vrees, die oordeelsdag, is uit die weg geruim.

Ek en jy hoef dus nie meer bang te wees vir die oordeel van God nie omdat die volmaakte liefde die vrees uitdryf. Nee, liefde is nie volmaak op grond van die een of ander prestasie wat ons behaal het nie, maar bloot omdat God dit self deur Sy Gees in ons wakker maak en in stand hou. En dit maak dat jy soos Tant Ann vrolik kan sing in die skadu van die dood!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag nie bang hoef te wees vir die oordeelsdag nie. Dankie dat U my vrygespreek het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026