1 Petrus 2:11,12
Dit was bitter nuus wat hy vanoggend gekry het: hy moet sy goedjies pak en loop. Waarheen? By wie sal hy dié slag gaan aanklop vir ‘n heenkome? Die lewe is bitter onregverdig hier in die vreemde! Toe hy destyds hierheen getrek het, was alles so rooskleurig vir hom voorgestel as ‘n land sonder armoede en hongersnood, waar geld in die strate afrol, en waar mense vrolik is! Ja, daardie mense, so het hy sommer gou agtergekom, is nie uitlanders soos hy nie, maar burgers van die land! Uitlanders het géén regte nie. Niks!
Hy was baie bly toe hy kort na sy aankoms in die land blyplek kon kry as ‘n bywoner op ‘n stukkie grond. Eers het hy gedink dat die eienaar baie goedgunstig was om hom die verblyf aan te bied, maar baie gou moes hy uitvind dat daar ‘n verskuilde agenda was, en dat hy hom vodde moes werk vir daardie man! En dít net vir die voorreg om in ‘n ou lendelam gehuggie te kon slaap! Om eiendom te koop en so jou eie potjie te krap, was totaal buite die kwessie. Dit was géén uitlander beskore nie!
En toe kom daardie verskriklike dag, toe ‘n klomp jong skarmunkels – almal goed besope - hom een aand getakel het en hom pimpel en pers geslaan het en hom beroof het van al sy swaarverdiende geldjies. Die hof wou nie eers na sy storie luister nie, want “uitlanders het geen regte nie!” Al wat nou oorbly vir hom, is om hom maar te gaan versuip in die wilde hoernes van die afgodstempel, en hom só oor te gee aan sy begeertes! Of dalk moet hy maar net eenvoudig maak soos hierdie spul maak. As hulle met hóm goor kan wees, moet hy hulle dalk wys hoe góór hy met húlle kan wees!
Die beskrywing hier bo klink wreed en bitter onregverdig. Dis egter wat dikwels op vreemdelinge in ‘n land gewag het in Petrus se tyd. Vreemdelinge kon nie op eiendomsreg, politieke regte of enige vorm van geregtigheid aanspraak maak nie, en daar was dikwels wreed teen hulle gediskrimineer. Die heidense regering het totaal ander waardes gehad as dié waaraan hulle gewoond was, en die amptenare was hulle uiters onsimpatiek. Dan was daar natuurlik boonop daardie verleidelike tempels waar jy jou sorge kon gaan versuip.
Petrus het geweet waardeur hierdie arme mense moes gaan, en dat dit maklik was om moedeloos te raak of om handdoek in te gooi en maar te maak soos die ander maak. Daarom maan hy hulle om nie aan hulle “ liggaamlike begeertes” toe te gee nie. Ons kan dit ook jou “natuurlike geaardheid” noem, wat sou beteken dat as ander mense jou moeilikheid gee, jy jou natuurlike instink sal volg en die man op sy plek sit. “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand!”, klink natuurlik mos billik, is dit nie? As ‘n ou my beledig, dan gaan ek mos nie stilsit en hom maar sy sê laat sê nie? Ek gaan hom terugkasty met ‘n vurige tong! En wat van ons moderne siekte: padwoede? As iemand onverskillig voor jou inswaai, gee jy hom ‘n vulgêre vinger, blaas op jou toeter en laat hom presíés verstaan wat jy van sy padmaniere dink. Om iemand in eie munt terug te betaal, voel vir jou reg.
Moenie! Dit verwoes jou eie lewe! As jy kwaad met kwaad vergeld, word dit naderhand ‘n bose kringloop waarvan jy nie kan ontsnap nie, en jy gaan sélf die onderspit delf. Inderdaad veroorsaak hierdie woedeuitbarstings stres en hoë bloeddruk!
Baie mense voel vandag dikwels asof hulle vreemdelinge is in hulle eie land. Daar word gediskrimineer teen hulle in alle fasette van die lewe. Grondhervorming is ‘n bitter kwessie, veral as dit jou erfgrond is waar jou oupa en jou grootjie geboer het, en nou word dit van jou weggeneem. Jy het geen reg meer daarop nie. Mense verloor hulle werk op grond van hulle velkleur. Op sportgebied word die beste sportsterre dikwels uitgesluit as gevolg van wie of wat hulle is en nie oor wat hulle kan doen nie.
In ander Afrika-lande is sake selfs nog véél erger, en baie mense daar leef in die grootste vrees. Jou natuurlike reaksie teenoor enige sulke soort van diskriminasie is woede en verwyt. Petrus sê egter in vers 12 presies wat ons te doen staan: jy moet jou aanhou goed gedra, al gebeur wát ookal. Moenie toegee aan jou natuur nie maar lewe voorbeeldig, al word jy ookal soos ‘n misdadiger behandel. Die dag sal kom dat die mense wat so teen jou diskrimineer sal erken dat hulle ‘n fout gemaak het, al is dit eers op die dag van afrekening voor die regterstoel van God. En boonop, wat het Jesus gesê van die ander wang draai en die tweede myl loop?
Dalk sit jy self vandag sonder ‘n huis van jou eie, of jy kry swaar omdat jy ander mense se genadebrood moet eet. Moontlik word daar bitterlik teen jou gediskrimineer. Moenie moedeloos word nie! Vir God is jy kosbaar! Hy wil jou gebruik in jou omstandighede!
Gebed:
Here, gee in my ‘n gees van verdraagsaamheid, en gee my asseblief die krag om staande te bly en volgens U wil te leef in liefde ten spyte van wat enigeen teenoor my doen!