Vrede kom!

18 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrede kom!

Miga 4:1-5

Video - Oudio

Dikwels is gedeeltes in die Bybel gehul in misterie - dinge wat ons net eenvoudig nie kan verstaan of verklaar nie. Miga 4:1-5 is een van daardie gedeeltes - nie omdat wat geskryf is onverstaanbaar is nie, maar omdat daar ‘n feitlik identiese deel voorkom in Jesaja 2:1-5. Dit is feitlik ‘n woord-vir-woord herhaling. Het Jesaja hierdie gedeelte van Miga afgeskryf? Of het Miga syne van Jesaja afgeskryf? Moontlik het albei hierdie profete hierdie stuk oorgeneem uit ‘n ander onbekende boek of bron. Niemand weet nie. Daar is natuurlik ‘n ander moontlikheid, een wat menslik totaal onmoontlik klink, en dit is dat beide hierdie skrywers presies dieselfde woorde geskryf het op aandrang van die Heilige Gees. Dit klink onmoontlik! Die kans dat twee skrywers presies dieselfde kon skryf, is nul. Tog is alles by God moontlik. Hoe dink jy het hierdie twee identiese geskrifte tot stand gekom?

Maar waaroor gaan hierdie gedeelte? Vrede! “Daar kom ‘n tyd....” skryf Miga, en dan beskryf hy ‘n skynbaar onmoontlike situasie waar daar volle vrede heers.

Hoe smag mense nie na ware vrede nie! In die geboorteland van Simon van Sirene, Libië, het Moamar Ghadaffi vir baie jare ‘n skrikbewind gevoer. Die uiteinde was dat daar ‘n bloedige burgeroorlog uitgebreek het om vrede te probeer bewerkstellig. In die proses om vrede te verkry, het die wêreld se magte saamgespan en met bomme en vuurpyle vrede probeer los skiet. Hierdie is nie ‘n geïsoleerde geval nie. Regoor die wêreld woed oorloë en mense smag na vrede en om maar net weer ‘n slaggie onder ‘n boom te kan sit sonder die vrees dat jy enige oomblik doodgeskiet gaan word.

Suid-Afrika is ‘n land waar vrede heers, maar selfs hier heers gedurig bloedige stakings en protesoptogte. Daagliks word mense vermoor, verkrag en gewelddadig beroof. Selfs onskuldige kinders word koelbloedig doodgeskiet in bendegeweld! Diegene wat dit kan bekostig, leef agter tralies en met gesofistikeerde sekuriteitstelsels. Jy kan feitlik nêrens heen gaan en maar net ontspan met ‘n kommervrye piekniek nie, want oral is dit gevaarlik! 

Maar Miga sê: “Vrede kom!” Wat ‘n wonderlike vooruitsig! En hierdie is nie maar net ‘n vrede wat van korte duur is nie, dit is ‘n blywende vrede! Jy onthou seker nog hoe politieke leiers van verskeie lande destyds probeer het om vrede te bepleit in Zimbabwe, toe daardie land in sy ergste nood verkeer het. Dit was vrugteloos!

Die vrede waarvan Miga egter praat word nie bepleit of bewerkstellig deur politieke leiers nie, maar deur God. En daarom is dit ‘n vrede wat volmaak is. Ware vrede kan alleen gebeur waar mense God erken as God. Wanneer Hy hierdie vrede bewerk, sal mense weer stroom na die tempel van God. Voor grendeltyd het ek dikwels Sondae gewonder waar al die mense is? Het hulle ooit die behoefte om ‘n erediens by te woon? Is dit dalk die rede waarom ons so gebuk gaan onder on-vrede in ons land? Maar tydens die vrede wat Miga sien, stroom mense in hordes saam om God saam te aanbid.

Wat gebeur wanneer hierdie vrede kom? Wapentuig word totaal oorbodig, en hulle word omvorm om landbou implemente te word. Die ministerie van verdediging raak totaal oorbodig want buurvolke leef nie meer in vyandskap met mekaar nie. Die beeld word geskilder van iemand wat rustig onder sy wingerd sit en ontspan sonder enige kommer. Iemand anders sit weer agteroor teen die stam van ‘n vyeboom. Daar is geen gevaar dat hy van agter aangeval sal word of beroof word nie.

Wanneer ons hierdie idilliese beelde lees, wil ons lag! Leef Miga nie dalk in ‘n Utopia nie? Ons lewe vandag is so presies die teenoorgestelde, en dit voel dan asof dit elke dag net erger raak. Geweld neem elke dag net toe. Wat moet ek as gelowige doen? God kan tog onmoontlik nie teenwoordig wees in hierdie wêreld waar soveel dinge skeefloop en verkeerd gaan nie? Kan ‘n gelowige ooit iets daaraan doen?

Die antwoord is dat ek as gelowige positief sal leef en my nie blind staar teen al die geweld en slegte dinge nie. As elke gelowige maar net die liefde sal uitleef wat Jesus vir ons beskryf het, dan is daar alreeds ‘n helder lig van vrede wat brand. Ek kan iets van God se vrede laat deurskemer deur te leef soos wat God van my vra. Op hierdie manier sal God se volmaakte vrede alreeds sigbaar kan word in die wêreld. Ja, inderdaad sien ons oral hierdie wonderlike vrede deurskemer in gelowiges wat voluit Jesus se liefde uitleef en uitstraal. Gelowiges is toekomsgerigte mense - mense wat vanuit die toekoms lewe. God het ons daardie onbeskryflike hoop gegee van die dinge wat kom, en vanuit daardie hoop kan ons alreeds vandag lewe en ons lewens inrig.

Die hoop wat God ons gee uit die Woord, is genoeg om ons deur die grootste swaarkry en onvrede te dra, want daardie hoop vertel ons van die uiteindelike onbeskryflike lewe aan die voete van Jesus. En daardie hoop is nie maar net iets vaag nie, maar ‘n werklikheid.

Gebed:

Here, ek sien reikhalsend uit na die vrede - die volmaakte vrede wat op my wag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026