Voorberei vir die Dood

11 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voorberei vir die Dood

Matteus 26:1-16

Die finale hoofstuk van Jesus se lewe as mens op aarde het aangebreek. Geruime tyd al probeer die Joodse leiers op enige denkbare manier om Hom vas te trek, maar elke keer word hulle planne in die wiele gery. Hulle is gefrustreerd tot die dood toe. Hulle kon egter doen wat hulle wou, maar die laaste sê het aan Jesus behoort. Alleen Hý kon bepaal wanneer Hy gereed was vir daardie verskriklike dag. Ja, by verskeie geleenthede het Hy vir die dissipels gesê dat Hy sou sterf en dat Hy aan die haat van die Joodse leiers oorgelewer sou word. Hy was egter vaag oor presies wanneer dit sou gebeur. Nou maak Hy egter ‘n uitspraak wat die manne by Hom se bloed laat stol: “Oor twee dae word Ek gekruisig!

Onmiddellik sien ons hoe die masjienerie in werking gestel word om Jesus om die lewe te bring. Hy is nooit onkant betrap nie trouens, Hy het Sélf die proses geïnisiëer toe die tyd daarvoor ryp was. Dit maak natuurlik van die Joodse rolspelers ‘n laer orde, want hulle planne kon alleen werk as dit by God se groot plan inpas.

Dit bring ons natuurlik by die vraag van die verhouding tussen God se raad en menslike planne. Wanneer ons dan nou sê dat Gód die besluit geneem het, sou dit dan die skuld wegneem van die Jode se aandeel? Dit was mos God se besluit, was dit nie?

Baie beslis nie, want hulle het lankal hulle bose planne agtermekaar probeer kry. Dit plaas egter hulle planne binne ‘n baie groter raamwerk, want terwyl hulle besig was om onheil te stook, het God juis hulle boosheid gebruik tot heil van die ganse mensdom. Hoe ironies, dat God se groot verlossingsplan uitgevoer was deur menslike moordplanne, en alhoewel daardie rolspelers nie maar blote marionette in God se hand was nie, het God tóg die laaste sê in die saak gehad.

Dit moet vandag vir ons ‘n wonderlike troos en bemoediging wees, veral in die tyd van verskrikking waarin ons vandag leef. God is oneindig vindingryker as mense, en Hy word nooit onkant gevang nie. Ja, inderdaad laat Hy alle menslike planne, of hulle nou sleg of goed is, vir Hóm werk. Dit laat ons as gelowiges die hele debakel oor staatskaping en die afgryslike korrupsie tot in die hoogste gestoeltes wat ons land knel, in ‘n ander lig sien. Ja, natuurlik is dít wat hulle doen verkeerd! God laat dit egter toe met ‘n rede, en daarom hoef ek nie woedend te reageer daarop nie. Ek vertrou God dat alles sal uitwerk volgens Sy groot raadsplan!

Jesus se verwysing in hierdie gedeelte na die Paasfees, is baie belangrik. Dit koppel direk Sy dood daaraan, en hierdeur word subtiel na Jesus verwys as die Paaslam wat vir die sondes van die volk geslag word.

In skrille kontras met die Joodse leiers se moordplanne, sien ons ‘n vrou wat onbaatsugtig haar liefde aan Jesus bewys deur haar kosbare olie op Jesus se kop uit te gooi. Die dissipels is verontwaardig, want hoeveel arm mense kon nie dalk kos kry as hierdie olie verkoop sou word nie. Ons kan dalk hulle verontwaardiging verstaan. Daar steek egter eintlik iets baie dieper in hulle reaksie: hulle kon steeds nie vrede maak met Jesus se dood nie. Hulle word direk ook by Sy dood betrek.

Dalk was hulle onwillig om die volle pad van Jesus se lyding saam met Hom te stap. Inderdaad sien ons dit duidelik wanneer hulle Jesus totaal in die steek laat wanneer Sy nood op sy grootste is. Wanner Jesus sê dat die armes altyd by hulle sal wees, wil dit amper skok! Dit maak nie sin nie! Jesus sê egter hiermee, dat armoede wél altyd sal bestaan en dat Hy nie vir hulle Utopia op aarde beloof nie. Hy beklemtoon dit egter dat, alhoewel die liefdesgebod vir jou naaste uiters belangrik is, die gebod om God bo alles lief te hê inderdaad die eerste gebod is. Maar dit gaan eintlik veel dieper, want hiermee wil Hy ook sê dat Sy kruisdood die grootste enkele gebeurtenis in die geskiedenis van die skepping is. Hierdie vrou se salwing plaas júís die stempel op hierdie groot gebeurtenis van Sy kruisiging.

Jesus se uitspraak oor die tyd van Sy dood sit nie alleen die Joodse leiers aan die gang nie, maar ook vir Judas. Wat die presiese beweegredes vir sy besluit was kan ons maar net raai. Matteus sê dat dit gierigheid was. Dalk was hy teleurgesteld of bang. Was hy dalk teleurgesteld omdat hierdie Messias nie aan sy verwagtinge voldoen het nie? Jesus het hulle nie verlos van die Romeinse juk, soos hy en baie ander Jode verwag het nie. Was hy dalk bang, want die enigste strooihalm waaraan hy nog kon vasklou, was besig om te kwyn?

Die feit is egter dat God selfs Judas se verraad gebruik het in Sy raadsplan, en dat Dawid alreeds in Psalm 41:10 hierdie verraad voorspel het. Judas word daarom pertinent “een van die twaalf” genoem. Dit het nie sin om Judas te veroordeel nie, want dit gaan hier oor óns! Die verraad en verloëning van Jesus word ‘n baie groter realiteit as wat ons sou wou erken. Petrus kon dit absoluut bevestig, toe hy, die groot dissipel, daardie nag geknak het en totaal ontken het dat hy Jesus ooit ken. As ons byvoorbeeld stilbly wanneer God se heilige Naam misbruik word, dan doen ons presies dieselfde as Petrus en Judas……..

Gebed:

Here, hou asseblief my hand styf vas, en wanneer dit lyk of die golwe van die verskrikking van geweld my gaan verswelg - hou asseblief dan my oog gevestig op Jesus.

 

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026