Voorberei vir die Dood

14 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voorberei vir die Dood

Matteus 26:1-16

‘n Uiters bekommerde Johannes sien daagliks hoedat Jesus se einde naderkruip. Geruime tyd al probeer die Joodse leiers op enige denkbare manier om Hom vas te trek, maar elke keer word hulle planne in die wiele gery. Hulle is gefrustreerd tot die dood toe. Één stukkie troos vir Johannes, is egter dat hy wéét dat die laaste sê aan Jesus behoort. Alleen Hý kan bepaal wanneer Hy gereed is vir daardie verskriklike dag. Ja, by verskeie geleenthede het Hy vir die dissipels gesê dat Hy sou sterf en dat Hy aan die haat van die Joodse leiers oorgelewer sou word. Hy was egter vaag oor presies wanneer dit sou gebeur. Nou maak Hy egter ‘n uitspraak wat Johannes se bloed laat stol: “Oor twee dae word Ek gekruisig!”

Die masjienerie word tot Johannes se groot ontsteltenis in werking gestel om Jesus om die lewe te bring. Hy is nooit onkant betrap nie, trouens Hy het Sélf die proses geïnisiëer want die tyd daarvoor was nou ryp! Dit maak natuurlik van die Joodse rolspelers ‘n laer orde, want hulle planne kan alleen werk as dit by God se groot plan inpas.

Dis verwarrend! Wanneer is dit die mens se eie slim plannetjies en wanneer is dit God se groot raadsplan? En as ons sê dat Gód die besluit geneem het, sou dit dan die Joodse leiers onskuldig maak? Dit was mos God se besluit, was dit nie?

Baie beslis nie, want hierdie spul het lankal hulle bose planne agtermekaar gekry. Dit plaas egter hulle planne binne ‘n baie groter raamwerk, want terwyl hulle besig was om onheil te stook, het God juis hulle boosheid gebruik tot heil van die ganse mensdom. Hoe ironies, dat God se groot verlossingsplan uitgevoer was deur menslike moordplanne, en alhoewel daardie rolspelers nie maar blote marionette in God se hand was nie, het God tóg die laaste sê in die saak gehad.

Dit moet vandag vir ons ‘n wonderlike troos en bemoediging wees, veral in die tyd van verskrikking waarin ons vandag leef. God is oneindig meër vindingryk as mense, en Hy word nooit onkant gevang nie. Ja, inderdaad laat Hy alle menslike planne, of hulle nou sleg of goed is, vir Hóm werk. Dit laat ons as gelowiges die hele debakel oor staatskaping en die afgryslike korrupsie tot in die hoogste gestoeltes wat ons land knel, in ‘n ander lig sien. Ja, natuurlik is dít wat hulle doen verkeerd! God laat dit egter toe met ‘n rede, en daarom hoef ek nie woedend te reageer daarop nie. Ek vertrou God dat alles sal uitwerk volgens Sy groot raadsplan!

Jesus se verwysing in hierdie gedeelte na die Paasfees, koppel direk Sy dood daaraan, en dit verwys subtiel na Jesus as die Paaslam wat vir die sondes van die volk geslag word.

In skrille kontras met die Joodse leiers se moordplanne, sien ons ‘n vrou wat onbaatsugtig haar liefde aan Jesus bewys deur haar kosbare olie op Jesus se kop uit te gooi. Die dissipels is verontwaardig, want hoeveel arm mense kon nie dalk kos kry as hierdie olie verkoop sou word nie. Ons kan dalk hulle verontwaardiging verstaan. Daar steek egter eintlik iets veel dieper in hulle reaksie: hulle kon steeds nie vrede maak met Jesus se dood nie. Hulle word direk ook by Sy dood betrek.

Dalk was hulle onwillig om die volle pad van Jesus se lyding saam met Hom te stap. Inderdaad sien ons dit duidelik wanneer hulle Jesus totaal in die steek laat in Sy donkerste nag. Wanner Jesus sê dat die armes altyd by hulle sal wees, wil dit amper skok! Dit maak nie sin nie! Jesus sê egter hiermee, dat armoede wél altyd sal bestaan en dat Hy nie vir hulle Utopia op aarde beloof nie. Hy beklemtoon dit egter dat, alhoewel die liefdesgebod vir jou naaste uiters belangrik is, die gebod om God bo alles lief te hê inderdaad die eerste gebod is. Maar dit gaan eintlik veel dieper, want hiermee wil Hy ook sê dat Sy kruisdood die grootste enkele gebeurtenis in die geskiedenis van die skepping is. Hierdie vrou se salwing plaas júís die stempel op hierdie groot gebeurtenis van Sy kruisiging.

Jesus se uitspraak oor die tyd van Sy dood sit nie alleen die Joodse leiers aan die gang nie, maar ook vir Judas. Wat die presiese beweegredes vir sy besluit was, kan ons maar net raai. Matteus sê dat dit gierigheid was. Was hy dalk teleurgesteld omdat hierdie Messias nie aan sy verwagtinge voldoen het nie? Jesus het hulle nie verlos van die Romeinse juk, soos hy en baie ander Jode verwag het nie. Was hy bang omdat die enigste strooihalm waaraan hy nog kon vasklou, besig was om te kwyn?

Die feit is: God het selfs Judas se verraad gebruik in Sy raadsplan. Dawid het dit immers in Psalm 41:10 voorspel! Judas word daarom pertinent “een van die twaalf” genoem. Ons moenie Judas veroordeel nie, dit gaan eintlik oor óns! Jesus se verraad en verloëning word vandag vir ons realiteit. Petrus het daardie nag ontken dat hy Jesus ooit ken. As ek sou stilbly wanneer God se heilige Naam misbruik word, doen ek presies dieselfde as Petrus en Judas……..

Gebed:

Here, hou asseblief my oog gevestig op Jesus wanneer dit lyk of die golwe van die verskrikking van geweld my gaan verswelg.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026