Markus 14:53-65
In die vroeë oggendure, nog lank voordat die haan gekraai het, word Jesus voor die Sanhedrin, die Joodse Raad gebring. Vir ’n begin was hierdie ’n onwettige verhoor, want volgens Joodse regspleging was dit nie wettig om regspraak te lewer in die nag nie, en veral nie om die doodsvonnis op te lê nie.
Die Sanhedrin het bestaan uit 70 lede. Die hoëpriester was die voorsitter. Verder was die Raad saamgestel uit priesteradel (hoofsaaklik Sadduseërs), familiehoofde (verteenwoordigers van vername Joodse families) en Skrifgeleerdes (wat hoofsaaklik Fariseërs was).
Nog lank voordat die verhoor begin het, het hierdie mense alreeds besluit dat Jesus skuldig was. Hulle het slegs één ding in gedagte gehad, dat Hy tereggestel moes word! Hy sou beslis nie ’n regverdige verhoor van hulle kry nie en hierdie “hoogheilige” manne sou selfs so ver gaan om vals getuienis teen Hom in te bring om in hulle doel te slaag. Al wat hulle moes doen, was om ’n aanklag te kry wat Hom skuldig sou bewys. Dit was egter ’n bietjie moeiliker as wat hulle beplan het. Die probleem was dat die getuies wat hulle geroep het nie met mekaar kon ooreenstem nie. Volgens die wet (Deut. 17:6) was dit verpligtend dat getuies eenparig moes wees, anders kon ’n vonnis nie voltrek word nie. En hulle kon mos nou nie teen die wet gaan nie!
Markus sonder een spesifieke getuienis uit wat gelewer was. Volgens hierdie man sou Jesus gesê het dat Hy die tempel sou vernietig, en binne drie dae ’n ander een bou, een wat nogal nie deur mense gemaak sou wees nie. Selfs oor hierdie getuienis was daar nie ooreenstemming nie. Na alle regte was die hoëpriester eintlik verplig om die saak uit te gooi op grond van onvoldoende getuienis. Hy doen dit egter nie, en só oortree hy alreeds die tweede wetlike aspek wat die hof onwettig maak.
Die hoëpriester steur hom egter nie aan die wettigheid van die verhoor nie en gaan net eenvoudig onverstoord voort om Jesus verder te ondervra. Alle wetlikheid word oorboord gegooi om Jesus aan die pen te laat ry.
Dan vra die hoëpriester vir Jesus: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Uit vrees dat hy per ongeluk die Naam van God ydellik gebruik, verwys hy na God as “die Lofwaardige.” Baie wetsgehoorsaam in een opsig, maar in die ander gooi hy die wet totaal by die venster uit!
Jesus antwoord hom reguit: “Ek is!” Ons het gesien dat Jesus regdeur die Markus Evangelie baie versigtig was dat die feit dat Hy die Messias is, nie uitlek nie. Nou maak Hy dit egter openbaar, want nou het die tyd aangebreek om dit af te kondig. Sy lydingstyd het nou ’n hoogtepunt bereik, en die tyd is ryp daarvoor dat almal moet weet dat Hy die Messias is, ook die Joodse Raad. Daarom gaan Jesus voort en Hy vertel vir die hoëpriester baie meer as wat hy werklik wil weet: “Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel."
Die hoëpriester is hewig ontsteld! So erg dat hy sy klere skeur, nes Jakob van ouds toe hy gehoor het dat Josef dood was. Jesus se woorde is vir hom suiwer Godslastering. Vir so ‘n afgryslikheid is slegs een straf goed genoeg: die doodstraf! Natuurlik moet dit eers deur die Romeinse owerheid bekragtig word, want die Joodse Raad is nie by magte om die doodsvonnis te voltrek nie.
Die volle Joodse Raad stem eenparig saam dat Jesus skuldig is en dat Hy die dood verdien. Skuldig? Waaraan? Dat Hy die waarheid gepraat het? Skuldig omdat Hy die Seun van God is?
Die tragiese is dat die sewentig manne wat Jesus verhoor het, almal leiers was en mense wat die Skrifte deeglik geken het. Hulle moes uit die Skrifte geweet het dat slegs die Messias in staat kon wees om die dinge te doen wat Jesus gedoen het. Vir oulaas kon hulle nog hoor toe Hy persoonlik vir hulle in géén onduidelike taal bevestig het dat Hy wél die Messias was. Wat het hulle daarmee gemaak? Nee, hulle het nie in aanbidding voor die Seun van God neergeval nie, maar hulle het begin om Hom te spot. Hulle het ’n bespotting van God gemaak, terwyl hulle terselfdertyd uit respek vir God nie eers Sy Naam hardop wou noem nie! Dit rym nie!
Jesus kon stilgebly het en vir hulle absoluut géén aanklag gegee het waarop hulle Hom kon skuldig vind nie. Hy het dit egter nie gedoen nie, maar gewillig Sy dood tegemoet gestap. Waarom? Omdat dit die Goddelike plan was waarvolgens Sy eie Goddelikheid bekend gemaak moes word aan die mensdom.
Dit was egter nie die enigste rede nie: daar was ’n groot offer wat Jesus moes bring en dit kon slegs gebeur as Hy onskuldig ter dood veroordeel sou word. Daarom gee Jesus hulle genoeg rede om wél die vonnis op te lê. Die offer sou behels dat Hy die straf – die vólle straf – moes dra om te betaal vir die sondes van elkeen wat in Hom glo. Dit sluit ook vir jou en my in. Ja, Hy het alles, álles betaal!
Gebed:
Here, dit wil skree hier binne my, elke keer wanneer ek lees hoe verskriklik onregverdig U Seun, Jesus veroordeel is. Maar dan besef ek dat dit vir my was. Maak my asseblief opreg dankbaar daarvoor!