Lukas 22:63-71
Terwyl Petrus iewers kop onderstebo sit en huil oor alles wat die nag met hom gebeur het, speel 'n ander groot drama af in die stad Jerusalem. Dit was eers 'n ruk later wat ooggetuies hom vertel het van wat daar met Jesus gebeur het. Petrus het in skok geluister na die verhaal van die gebeure wat daardie Vrydagoggend afgespeel het terwyl hy homself gesit en bejammer het!
Nadat Petrus vroegoggend al huilend die nag ingehardloop het, het die soldate steeds dwarsdeur die nag aangehou om Jesus te spot en mishandel. Allerhande Godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.
Jesus het stilgebly en nie ‘n vinger verroer om Homself te verdedig nie. Hy antwoord nie hulle koggelvrae nie. Jesus was besig om die wil en plan van God uit te voer, en Hy het dit Meesterlik gedoen! Ten spyte van Sy benarde situasie (menslik gesproke) was Jesus steeds in volle beheer van wat hier besig was om te gebeur. Sonder dat hulle dit besef het, was hierdie mense besig om presies te doen wat God wou hê hulle moes doen, en só het hulle die eeue-oue profesieë vervul.
Uiteindelik breek die dag, en die Joodse Raad word inderhaas saamgeroep vir Jesus se verhoor. Volgens die Joodse wette kon hierdie verhoor slegs in die dag plaasvind. Dit is ‘n skerp teenstelling met die manier waarop Jesus gevange geneem is. Dit moes juis onder die dekmantel van die pikdonker nag gebeur om te verhoed dat die volk in opstand kom. Die volksleiers gee skynheilig voor dat hulle in die lig wandel, maar hulle duistere dade word in die nag gepleeg.
Op die banke sit hulle ingeryg, al die Skrifgeleerdes en priesterhoofde, manne van die kerk, die volledige “kerkraad”! Hulle gee voor dat hulle God hier verteenwoordig, maar in hulle harte broei daar moord, want Jesus het hulle eer gekrenk toe Hy hulle daar in die tempel veroordeel het.
Dan word Jesus die hofsaal binnegelei, nie as Regter nie, maar as beskuldigde. Hoe ironies: die Regter wat eendag sal sit om die mensdom van alle tye te oordeel, moet nou staan as die aangeklaagde voor ‘n regbank van mense wat sélf skuldig is tot die dood toe.
Vandag moet ons besef hóé uiters belangrik dit is dat ‘n regter absoluut onberispelik moet lewe. Dit is dáárom dat die regter wat 'n tyd gelede gevonnis was oor sy dronkbestuur, die regslui so geskud het. Die vraag was gevra, hoe hy nog kon optree as regter, as hy sélf skuldig bevind was? Hoe durf hy dan ‘n oordeel oor ander uitspreek?
Eintlik kom dit baie nader aan ons eie bas, want so dikwels wil ons oor mense oordeel. Ons skinder en praat oor iemand wat gestruikel het in die lewe en wil dikwels dan sommer die arme mens verdoem. Ons durf dit slegs doen as ons sélf vlekkeloos is, sonder ‘n sweempie van sonde. Géén mens op aarde kan aanspraak maak op só ‘n rein lewe nie! Paulus stel dit onomwonde in Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie!” In Lukas 6:37 waarsku Jesus: “Moenie oordeel nie, en julle sal nie geoordeel word nie.”
Die Raad wil poog om Jesus as ‘n “valse Christus” te bewys, maar Hy omseil hulle pogings elke keer. Hulle vra hom direk of Hy dan die Christus is. “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie!” Jesus kon dit nie beter stel nie.
Maar dit is soos water wat van ‘n eend se rug afloop en steeds probeer die dikvellige “heiliges” vir Jesus uitvang. “Dan ís jy die Seun van God?”
“Dit is soos julle sê: Ek ís!” antwoord Jesus hulle vraag so reguit as wat maar kán.
Op grond van die feit dat Jesus die waarheid gepraat het, word Hy veroordeel. Hulle oordeel is dat Sy aanspraak ‘n leuen is.
En so spreek hierdie manne dan eintlik ‘n oordeel uit oor hulleself, want in Joh. 3:18 staan daar duidelik: “Wie in Hom (die Seun) glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel!” Hoe tragies, dat dit juis die baie Godsdienstige mense is wat nie hulle harte kon oopmaak vir die Seun van God nie.
Gebed:
Here, dankie dat U my oë oopgemaak het, dat ek U kon herken as die ware Seun van God!