2 Korintiërs 12:1-10
In die boek Daniël lees ons hoedat daardie profeet by verskeie geleenthede in ‘n vervoering geraak het en dan die mees asemrowende dinge gesien en ervaar het. Daniël se eerste visioen begin met ‘n stormwind wat oor die see waai. Dan sien Daniël vier diere wat uit die see opkom. Daarna hy sien weer ‘n hofsitting wat plaasvind en in die laaste bedryf sien hy ‘n persoon wat op die wolke aankom en tot koning gekroon word. Maar daar is ook engele in sy vervoering, en een van hulle kom verduidelik vir Daniël waaroor dit alles gaan.
Ek het al ook die voorreg gehad om met ‘n persoon te kon gesels wat ‘n naby-doodse ervaring gehad het, waar hy ‘n kykie in die hemel gekry het. Hy het die hemelpoorte oop gesien, en hy het die heerlikheid van die hemel ervaar. Sy tyd was egter nog nie daar nie, en hy is teruggebring. ‘n Mens wil die vraag vra of hy (sy gees) fisies daar in die hemel was? Of was dit dalk net ‘n visioen wat die Here vir hom gegee het? Ons sal nie weet nie, maar vir hom was dit ‘n werklikheid! Daar is talle soortgelyke verhale…..
Paulus vertel ook van sulke ervarings wat “’n man” gehad het. Hy verwys eintlik na homself, maar hy kan nie met sekerheid sê of hy werklik fisies weggevoer was na die “derde hemel” en of dit net ‘n gesig of visioen was nie. Dit maak in elkgeval nie eers saak nie. Volgens Joodse opvattings was daar sewe hemele, onder meer die wolkehemel, sterrehemel en die derde hemel, wat die woonplek van God en die verlostes is. Die derde hemel sou dus dui op die teenwoordigheid van God. Sou sulke verhewe ervarings van Paulus ‘n verhewe Christen maak? Hy het immers ‘n geesteservaring beleef wat min mense beskore is! Paulus beklemtoon dit egter dat hy dalk wél daarop sou kon roem, maar dit maak hom niks beter as enige ander mens nie. En net om hom daaraan te herinner dat hy nie kan spog met sy ervarings nie, skryf hy in vers 7 dat hy ‘n “doring in die vlees” gekry het. Hy sê, dit is soos “’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan!”
Daar is al baie bespiegel oor watter soort doring hierdie kon wees. Dit was heel waarskynlik die een of ander gesondheidsprobleem, moontlik iets te doene met sy oë. Telkens sien ons dat hy sy briewe slegs onderteken, en dan “in groot letters”, omdat hy baie sleg sien. Iemand het deurgaans ál sy briewe vir hom geskryf terwyl hy dikteer. Dit was moontlik nog die nagevolge van sy Damaskuservaring, toe hy vir ‘n paar dae blind was. Dit kon dalk ook iets anders wees, soos malaria of ‘n spraakgebrek of epileptiese aanvalle. Dit kon selfs die nagevolge wees van ‘n besering, moontlik tydens een van die vele kere wat hy gegésel is. Alles is egter slegs bespiegelings. Wat ons wél weet is dat hierdie doring in die vlees ’n voortdurende lyding was wat hom weerhou het van enige selfverheffing.
Driekeer het Paulus gebid dat die Here die doring van hom moet wegneem. Die Here het nie sy doring weggeneem nie, maar aan hom die krag gegee om daarmee saam te leef. Hy herinner Paulus daaraan dat Sy genade vir hom genoeg is en dat Sy krag júís in Paulus se swakheid na vore kom! Die seëninge wat God ons skenk in Jesus Christus is voldoende in voorspoed sowel as teëspoed. God se krag word juis sigbaar wanneer ons swak is en geheel en al afhanklik van Hom is. Hoe minder ek op my eie vermoëns en krag steun, hoe meer word die krag van God sigbaar! Die krag van Christus is deel van Paulus se lewe. Sy swakheid is juis die rede waarom hy die krag van Christus so kennelik ondervind.
Daarom besef Paulus dat hy nie in verset moet kom teen sy swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede nie. Dit alles ondervind hy juis ter wille van Christus. As hy self op sy swakste is, kom die krag van Christus op sy sterkste na vore. Eers toe hy geleer het om nie op eie krag staat te maak nie, het Paulus die krag van Christus wat deur hom werk, ontdek.
Dalk sit jy vanoggend met so ‘n “doring in die vlees”, en jy wonder waarom jy dan so “gestraf” moet word. Vra die Here biddend vir ‘n antwoord. Paulus het dit gedoen, en die Here se antwoord was duidelik dat dit hom plat op die aarde moes hou sodat hy nie dalk hoogmoedig sou raak nie. Jou antwoord kan dalk iets heeltemal anders wees. Kyk maar hoe gebruik die Here dikwels erg gestremde mense om ander te inspireer. Die afgelope paar jaar het ons etlike gestremde atlete gesien wat heel bo uitgestyg het, en selfs kon meeding teen atlete wat liggaamlik normaal is. Die borrelende lewensvreugde van ‘n meisie met spierdistrofie, vasgevang in haar rolstoel, is ‘n inspirasie vir die hele wêreld. En wat van die jong man wat ‘n paar jaar gelede Kilimanjaro uitgeworstel het in sy rolstoel? In sy “patetiese” toestand het hy gevorder tot waar ek dit beslis nie sal waag nie! Hy dra die boodskap uit dat ons verby ons probleme moet kyk en die uitdagings wat die lewe ons bied vierkant in die oë moet kyk. Jy onthou sekerlik nog die swemkampioen met net een been en die langafstand atleet wat die Comrades aangedurf het op krukke? Nie eers gepraat van ons geliefde sanger, Mathys Roets nie! Wát ‘n inspirasie! Alles dorings wat mense laat blom.
Paulus se doring moes hom nederig hou. Ons dorings het dalk ‘n totaal ander doel. Aanvaar die dorings met vreugde!
Gebed:
Here, daar is ook dorings in my lewe - my gebed vandag is dat U my aanvaarding sal gee!