Naomi wil bars van opgewondenheid, want sy sien duidelik hoe haar plan om Rut en Boas bymekaar te kry begin werk. Die stukkies van die legkaart is besig om een-vir-een in mekaar te haak. Maar sy besef ook baie deeglik dat die stryd nog baie ver van gewonne is. Sy verlang met ‘n seer hart om ook ‘n nageslag van haar eie te kon hê. Sy beny die ander oumas met kleinkinders wat rondom hulle dans. Hoe smag sy na die vrolike stemmetjies van kinders! Dat Rut ‘n Moabitiese meisie is, en dat sy maar net Naomi se “gewese” skoondogter is, maak lankal nie meer saak nie. Hierdie dierbare meisiekind het baie diep in haar hart ingekruip. Sy is nou haar eie, éie dogter!
Maar dit gaan egter vir Naomi nie net oor ‘n nageslag nie. Sy sal ook alles in haar vermoë doen om te sorg dat Rut goed versorg is en dat sy ‘n goeie man kry. En wie is daar nou beter in die ganse Israel as juis Boas! Nou sal sy haar beplanning baie deeglik moet doen, tot in die fynste besonderhede om die plan te maak werk.
Naomi sug swaar - oestyd is nou iets van die verlede! Daarmee saam is hierdie ontmoetings tussen Rut en Boas natuurlik ook iets van die verlede. Maar Naomi het ‘n troefkaart. Sy het nog één laaste kans, en sy beter dit nie laat verbygaan nie. Dis dorstyd! Die oes is klaar van die lande af, en dit beteken dat die gars nou op die dorsvloer verwerk moet word om die graankorrel uit die are te kry. Nou ken sy ook mos vir Boas. Hy gaan baie beslis nie by die huis sit en ginnegaap terwyl sy arbeiders die dorswerk doen nie! Boas gaan daar saam met hulle op die dorsvloer wees, en hy gaan saam met sy werkers swoeg om die graan te wan. Dis harde werk daardie, en die manne kom saans nie eers huistoe nie, hulle slaap sommer daar op die dorsvloer.
Nou reken Naomi dat hierdie mos die ideale geleentheid is vir Rut om vir Boas te “vang”. Naomi lag vir haar eie gedagte, want dit klink beslis baie kras, maar dit is presies wat dit is! Rut moet hom letterlik gaan vang! Maar hoe?
Die hele nag lê Naomi en worstel. Sê nou net iets loop skeef. Rut se goeie reputasie wat sy oor die afgelope ruk opgebou het, is op die spel. Sy het al diep in almal se harte ingekruip, en al die vroue praat net met groot lof van Rut, ten spyte daarvan dat sy ‘n Moabiet is. As iets verkeerd loop, is haar mooi reputasie daarmee heen en al haar harde werk puur verniet. Sy sal uitgekryt word vir ‘n slet!
“Here, God van Abraham en Isak en Jakob, en óók God van Ragab die prostituut, gee my asseblief wysheid om ‘n plan uit te werk,” bid sy, terwyl die trane oor haar wange loop. “U het vir Ragab bewaar toe Jerigo se mure geval het, en U het haar een van ons volk gemaak. Vir U is niks onmoontlik nie! Bewaar asseblief vir Rut! En gee dat Boas reg sal besluit.” En so as ‘n nagedagte bid sy: “Here, ek laat alles in U bekwame hande. My vertroue is in U alleen!” Ek skielik weet Naomi presies wat haar te doen staan.
Wanneer die eerste haan kraai, skud Naomi haar skoondogter wakker. Rut sien sommer dadelik dat Skoonma vanoggend ‘n baie groot ding op die hart het. “Rut, jy moet nou baie mooi luister na wat ek vir jou wil sê. Dit is van lewensbelang!”
Rut se hart klop in haar keel. Iets verskriklik moet verkeerd wees as Naomi só ernstig is so vroeg in die more. “Ma…..?”
Maar sy kry nie eers haar vraag gevra nie. “Jy moet my opdrag uitvoer tot in die fynste besonderheid, want as dinge skeefloop, dan is al ons kanse daarmee heen!” stoomroller Naomi voort.
Rut het ‘n groot vraagteken op haar gesig - hier kom ernstige sake! Sy kry eintlik sommer ‘n knop op haar maag. “Rut, ek het jou vertel dat Boas familie is en dat hy een van ons lossers is. Vandag gaan hulle sy graan dors, en Boas gaan natuurlik ook op die dorsvloer wees. Vandag moet jy die knoop gaan deurhaak! Vandag is die dag dat jy gaan sorg dat Boas jou sal wil hê as sy vrou!”
Dikwels gebeur dit dat daar situasies in jou lewe kom, waarvoor jy net géén raad het nie. Jou eerste reaksie is om te stres daaroor. Bekommernis kom sit op die krop van jou maag totdat jy voel asof jy ‘n maagsweer ontwikkel. Dan begin jy allerhande plannetjies maak, maar wátter kant toe jy ookal beplan, dit raak net erger en erger! O ja, ek was al in sulke situasies, en glo my: dis bitter moeilik!
Die antwoord is eenvoudig. Raak rustig en stel jou volle vertroue in die Here alleen. Bid dan en vertel Hom wat jou bekommernis en angs is. Sê dan vir Hom dat jy glo dat Hy in volle beheer is, en dat jy die situasie waarin jy verkeer aanvaar. Sê ook vir Hom dat jy Hom ten volle vertrou om elke tree deur hierdie situasie saam met jou te stap en jou hand vas te hou. Vra Hom dan om jou geloofs-ore oop te maak sodat jy Sy stem sal herken wanneer Hy jou ‘n opdrag gee, en dat Hy jou die wysheid en moed sal gee om Sy opdrag uit te voer. Dan moet jy net geduldig vertrou!
Gebed:
Here, ek is dikwels so ongeduldig, en ek wil dinge op my eie manier doen. Gee my asseblief volle vertroue in U alleen, en geduld om op U te wag.