Johannes 13:18-30
Die nag is gevul met spannende drama. Die lug is so dik dat jy dit met ‘n mes kan sny! Eers die vreemde voetewassery en Petrus se bitsige reaksie daarop. En nou, as dit uiteindelik rustig raak rondom die etenstafel, laat bars Jesus wéér ‘n bom. Een van hierdie intieme groepie wat die afgelope drie jaar elke oomblik met Hom gedeel het, gaan Hom in die rug steek – verraai!
Die twaalftal het nie ‘n idee waarvan Jesus praat nie. Hulle verdink nie ‘n enkele een van hulle groep nie, nie eers vir Judas nie. Ons wil so graag vir Judas Iskariot as ‘n slegte mens uitkryt. As ons egter na die dissipels se reaksies kyk, sien ons dat hy nie anders as die ander was nie. Hy het meegedoen aan ál die aktiwiteite. Om die waarheid te sê, het hy boonop nog ‘n groot verantwoordelikheid gedra, want hy moes hulle finansies hanteer. Ja, hulle het so ‘n vae suspisie gehad dat hy dalk lang vingers het, maar niemand kon dit ooit bewys nie. Judas Iskariot was ‘n doodgewone dissipel wat saam met Johannes, Petrus en die ander gebid het en aan Jesus se voete gesit en leer het.
Jesus het egter geweet wat diep in Judas se hart gebroei het. Uiterlik het hy dit nooit gewys nie, maar diep in hom was hy bitter ongelukkig. Was dit dalk dat hy soos so baie ander volgelinge van Jesus, Hom gesien het as die Een wat hulle uit die juk van die Romeine sou bevry? Baie teoloë is van mening dat dit wél die geval was. Toe hy sien dat dit nie sou gebeur nie, het hy moontlik verbitterd geraak. Ons kan egter slegs raai wat in Judas se lewe skeefgeloop het. Maar terwyl hulle om die tafel gekuier het, het Judas alreeds heimlik ál sy planne agtermekaar gehad. En Jesus het dit geweet!
“Dit verseker Ek julle: Een van julle sal my verraai!” Jesus is uiters ontsteld wanneer Hy hierdie skok-aankondiging maak. Sovéél liefde het in Sy bediening gegaan! Met soveel liefde en deernis het Hy hierdie twaalf manne opgelei om die wêreld te vertel van God se genade! Hierdie verraad was egter deel van God se raadsplan en hoe hartverskeurend dit ookal was, het Jesus dit so aanvaar.
Dit manne was totaal verslae! Daar kon tog sékerlik nie ‘n verraaier in hulle midde wees nie? Dan stamp Petrus aan Johannes: “Vra ‘n bietjie vir Jesus wat Hy bedoel!”
Johannes het die ereplek langs Jesus aan tafel gehad. “Meester, wie is dit?”
“Die een vir wie Ek ‘n stukkie brood gee.” Met dié skokkende woorde strek Jesus na Judas en gee vir hom die brood. “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”
Judas het summier opgestaan en uitgeloop in die nag in.
Johannes beskryf dat die duiwel in Judas Iskariot ingevaar het, die oomblik toe Jesus hom die stukkie brood aangegee het. Dit laat ons met baie ongemaklike vrae - vrae waarop daar nie maklike antwoorde is nie. Vrae soos, of God dan die duiwel in Judas se lewe ingestuur het?
Die antwoord is bloot: “NEE!” Ons kan eintlik maar net spekuleer, maar vir my lyk dit asof Jesus vir Judas uitgekies het as een van die groep, juis omdat Hy geweet het dat Judas nooit waarlik lojaal sou wees nie. Judas se Messiasverwagting was ‘n politieke motief en God het presies só ‘n persoon nodig gehad om Jesus te verraai. Judas kon dalk al lankal sy ware kleure gewys het, maar vir God was die tyd nog nie reg nie, dus keer Hy die duiwel sodat hy nie vir Judas te gou oorrompel nie. Op presies die regte oomblik, laat God die duiwel toe om sy finale invloed op Judas uit te oefen!
Nóg ‘n vraag wat dikwels gevra word, is of Judas ooit ‘n keuse gehad het? Kon hy nie dalk die regte keuse gemaak het nie? Was hy bloot ‘n pion in God se hand? Nee, ek glo beslis nie dat Judas bloot ‘n pion was wat maar moes maak soos God wou hê nie. Hy het ‘n keuse gehad en hy het die verkeerde besluit geneem! God het egter vooraf gewéét wat Judas se keuse sou wees en juis daarom is Judas gekies as dissipel en nie iemand anders nie.
Daar het stories rondgegaan, dat Judas eintlik die held in die verhaal was en dat hy ‘n “goeie” man was wat God se opdrag moes uitvoer om Jesus te verraai. Daarom moet Judas dus ‘n ereplek kry! Dit is beslis nie wat die Bybel ons leer nie. In die eerste plek sien ons dat die duiwel ‘n invloed op hom gehad het. Boonop was dit deels ook geldgierigheid wat hom gedryf het tot hierdie daad. Hy het dertig silwerstukke hiervoor verdien!
Wat leer ons vandag uit die gebeurtenis? Ek dink die belangrikste is dat ons kan weet dat God in beheer is, selfs deur die ergste situasies. Hy laat die duiwel en Judas toe om hulle bose werk te doen sodat Sy groot raadsplan foutloos sou uitwerk. Ons leer ook dat Hy alwetend is en dat Hy selfs die toekoms ken. Wanneer dinge dus vir ons verlore lyk, is dit nie omdat God beheer verloor het nie, maar bloot omdat daar ‘n groter doel is agter dinge wat gebeur. Hy laat toe dat sekere dinge gebeur omdat dit in Sy raadsplan is. En nee, dit is beslis nie God wat die slegte dinge doen nie! Daardie dinge is die werk van die duiwel!
Gebed:
Dankie Here, dat ek weereens vandag kan besef dat U in volle beheer is, en dat ek daarin kan berus en steeds my volle vertoue op U kan plaas.