Nehemia 9:1-37
Die ou omie – ek kan (gelukkig) nie meer onthou wie hy was nie – het vererg gekyk hoe ons kinders skerts en vrolik lag en grappies maak. Sy frustrasievlakke oor ons uitbundigheid het al hoër gestyg, totdat hy uitgebars het: “Toe, staak nou daai lawwigheid! Van lekker lag kom lekker huil!” Ons was skoon afgesit, en druipstert het ons weggesluip om ‘n ander plek te soek waar ons in vrede kon vrolik wees!
Die ouer garde sal seker nog die nagmaalsgeleenthede van weleer onthou. In my jongdae het dit darem al ‘n bietjie afgekoel van die weeklange nagmaal uit Oupa se tyd. Dit was darem “net” ‘n naweek. Alles het Vrydagaand begin by die “voorbereidingsdiens”, ‘n stroewe geleentheid waar daar baie ernstig gesels was, veral met die jong manne op ons spoorwegdorpie. Hulle was maar ‘n stoute klomp en die dominee het hulle hard oor die vingers getik! Saterdagaand was dit nóg ‘n “donker” verootmoedigingsdiens. Sondagoggend was dit Nagmaal en Sondagaand het “nabetragting” gevolg, wat dikwels maar nét so ‘n droewige affêre was!
Maar dis eintlik die Nagmaal wat my die diepste getref het. Daardie jare het die dominee en die kerkraad swart pakke klere gedra, meeste manelpakke. Dominee het ook ‘n pikswart toga gedra met swart tosseltjies. Snaaks dat hulle klere vir my ékstra swart gelyk het op die Nagmaalsondag as die kerkraad presies om negeuur die konsistoriedeure weerskante van die hoë kansel oopstoot en gewyd-stadig die kerk instap. Dominee het ekstra lank staan en bid by die onderste trappie van die kansel. Daar het ‘n ongemaklike stilte in die kerk gehang, en as iemand gekug het, het almal versteurd omgekyk na die skuldige!
Die preek was dan gewoonlik een van daardie swael en vuur preke wat jou verskriklik skuldig laat voel het, en die hele diens was een groot pyniging. Wanneer die nagmaal uiteindelik bedien word, was dit ‘n lang, uitgerekte affêre, waar party mense eers lánk gebid het voordat hulle die beker na die volgende persoon aangee. En ons kinders? Ons was totaal uitgesluit. Ons moes maar net daar sit en kyk wat die grootmense doen! Nagmaal was ‘n marteling!
Die Versoendag was in Nehemia se tyd só ‘n somber dag waar almal rouklere aangetrek het, gemaak van growwe bokhaar. As teken van verootmoediging het hulle grond op hulle koppe gestrooi, en hulle het gevas en belydenis gedoen van hulle sowel as hulle voorouers se sondes.
Dit is vreemd dat hierdie dag plaasgevind het ná die vrolikheid van die huttefees. Later was dit egter wel vóór die huttefees gehou, wat meer sin gemaak het.
Weereens het die geleentheid gepaard gegaan met Leviete wat uit die Wet van God vir die mense voorgelees het. Die mense het hulle voor God verootmoedig en voor die Here gebuig om só belydenis van hulle sonde te doen.
Daarna het sewe Leviete die verhoog betree en ‘n lang, aangrypende lied gesing. Dit het begin as ‘n loflied aan God oor al die wonderlike dinge wat Hy deur die jare vir die volk gedoen het. Dit gaan oor in ‘n lied van boetedoening om vergifnis te vra vir die manier waarop hulle van God weggedwaal het.
Wat wil hierdie gebeurtenis vir die latere lesers van die boek, en óók vir ons vandag sê?
Dit beklemtoon die noodsaaklikheid dat ‘n gelowige jou lewe aan die eise van God moet meet! Toe jy die dag Jesus se verlossing ervaar het, beteken dit nie dat jy nou wetteloos kan lewe nie – jou sondes is mos nou vergewe en jy kan maak soos jy wil!? Nee! Dit beteken dat jy júís nou gaan probeer om so ver moontlik volgens God se wil te leef. Daarom is dit nodig dat ons van tyd tot tyd introspeksie sal gaan doen om te sien of ons steeds op koers is.
Sonde is beslis nie ‘n geringe saak nie! Dis só gewigtig dat dit dikwels die geskiedenis bepaal! Tóg maak baie gelowiges dikwels sonde af as ‘n nietigheidjie. Hierdie gedeelte uit Nehemia se boek moet elke gelowige aanspoor om onsself te sien in die lig van God se Woord sodat ons kan wegkom van die liederlike wurggreep van sogenaamde “goedkoop genade” en voluit kan leef as vrygemaakte burgers van die Koninkryk van God!
Ek het begin met die nagmaal van weleer, en ek sal graag wil afsluit met die nagmaal van vandag. Ek dank die Here dat die nagmaal ‘n totale handomkeer beleef het sedert my kinderjare. Vandag het dit steeds ‘n element van verootmoediging in, want sékerlik moet ek weet dat God se genade beslis nie goedkoop genade is nie. Hy het dúúr betaal vir my verlossing, en daarom móét ek ook my kant bring. En so dikwels skiet ek ver tekort. Maar dan is die nagmaal ‘n fees vol vreugde om weereens God se groot liefde, genade en opoffering te kan ervaar! En boonop is álmal ingesluit, selfs die kinders!
Gebed:
Here, ek staan skuldig voor U, want ek slaag dikwels nie daarin om te leef soos U van my verwag nie. Dankie vir die verlossing wat U so duur vir my gekoop het! Ek wil so graag leef volgens U wil en tot U eer!