Saul se Vuurdoop

3 September, 2026

1 Samuel 11

Vanoggend se verhaal begin waar die Ammoniete, wat aan die oostekant van die Jordaan bly, onder aanvoering van Nagas, Gilead die landstreek oos van die Jordaan binneval en die stad Jabes beleër. Natuurlik was die inwoners van Jabes doodsbenoud want hulle kon al sien hoe hulle almal uitgedelg word. Dan besluit die stadsvaders dat dit beter sou wees om deur hierdie gedugte vyand onderdruk te wees en selfs aan hulle belasting te betaal, as dat hulle almal hier omkom. “Ons is bereid om met julle ‘n verdrag te sluit,” lui ‘n boodskap wat aan Nagas gestuur word.

Nagas het hierdie beskou as die grap van die jaar: “Op hierdie voorwaarde sal ek dit doen: ek steek elkeen van julle se regteroog uit tot skande van die hele Israel.”

Daarvoor was die inwoners van Jabes egter nie te vinde nie en hulle pleit: “Gee ons asseblief sewe dae kans!” Hulle wou om hulp gaan aanklop by die ander stamme van Israel. Nagas was só selfversekerd, dat hy hulle laat begaan het. Watter soort hulp kon hulle in elk geval mee vorendag kom? Niemand sou hulle kom help nie! Hierdie sogenaamde volk van hulle is so verdeel en deurmekaar!

Saul was op hierdie stadium alreeds koning, maar die volk het steeds as losstaande stamme gefunksioneer. Om die waarheid te sê, was Saul nog baie meer plaasboer as koning. ‘n Groot deel van die Israelitiese stamme wou hom ook nie eers aanvaar as koning nie. Wat sou so ‘n skaam plaasboertjie nou kon doen?

Daar was ‘n goeie verhouding tussen die stamme van Gilead en Benjamin, dus gaan klop ‘n paar manne by die Benjaminiete aan vir hulp. In Gibea, die stad waar Saul gewoon het, vertel hulle van hulle verskriklike dilemma. Die mense van Gibea is verstom oor die verskriklike nuus. Hulle huil saam met die boodskappers, want dit beteken verséker hulle broers in Gilead se einde.

Koning Saul is egter salig onbewus van die drama wat hom afspeel in sy splinternuwe koninkryk. Hy is druk besig met dié dinge waarmee hy hom besig hou, sy pa se boerdery. En so kom hy laatmiddag van die lande af waar hy besig was om te ploeg, en tref die treurmare aan. “Wat is aan die gang? Waarom huil almal so?”

Dan vertel hulle hom die hele storie van die beleg van Jabes en van Nagas se wrede dreigemente. Onmiddellik wéét Saul dat dit vir sulke dinge is waarom die Here die taak van die koningskap op sy skouers gelê het. “Die Gees van God het Saul oorweldig toe hy hierdie woorde hoor, en hy het baie kwaad geword,” lees ons in 1 Sam. 11:6. Saul is hewig ontsteld oor die arrogansie van Nagas. Maar anders as sy landgenote wat maar net uit meegevoel saam huil, is hy bereid om iets daadwerklik te doen aan die situasie. Onmiddellik word al die ander stamme van Israel opgekommandeer om saam met hom op te trek teen hierdie gedugte vyand. Hy stuur ‘n dreigement saam met die boodskappers, dat hulle die gevolge sou dra as hulle nie inval by hom nie.

Tydens Saul se kroning, het Samuel baie duidelik die voorwaardes uitgespel van die regte van ‘n koning, soos dat hy byvoorbeeld die reg het om hulle op te kommandeer vir oorlog. Min het hulle aan Samuel se woorde gesteur. Nou skrik hulle egter groot as hierdie regte in werking tree, en hulle dit aan hulle bas moet voel. Soos een man trek hulle dus in groot getalle op om hulle by Saul aan te sluit.

Saul laat weet vir die inwoners van Jabes dat sy weermag hulle die volgende oggend sou kom bevry. Op hulle beurt laat weet die Jabes-manne weer vir Nagas dat hulle die volgende dag sou oorgee. Nagas het lekker gelag want hy het mos geweet dat niemand die moed sou hê om hulle te kom help nie.

Dit was egter nog donker daardie oggend toe Saul sy verrassingsaanval op Nagas se kamp loods terwyl die Ammoniete nog rustig lê en slaap het. Die magtige leër van die Ammoniete word totaal uitgedelg, en die enkele oorlewendes spat uitmekaar.

Skielik word daar met nuwe oë na hierdie plaasboer-koning, Saul gekyk. “Kom ons maak sommer nóú almal dood wat nie Saul se koningskap wou aanvaar nie!” dreig ‘n paar opgesweepte manne teenoor Samuel, wat die hele geveg met groot belangstelling dopgehou het. Vir Saul is dit egter van groot belang om eerder te vergewe en te vergeet en die volk nóú saam te snoer terwyl almal opgewonde is.

Samuel sien hierdie as ‘n gulde geleentheid om die stempel af te druk op Saul se koningskap: “Kom ons gaan almal na Gilgal en bevestig dat Saul waarlik die koning oor die hele volk is!” Nou weet almal: Saul is nie alleen deur God gekies as koning oor die volk nie, maar hy is ook militêr ‘n uiterste strateeg. Boonop gee hy ál die eer van die oorwinning aan die Here: “.....vandag het die Here redding bewerk in Israel.” (1 Sam. 11:13). En so word hy uiteindelik deur die hele volk aanvaar.

Weereens sien ons dat die Here soms dinge wat baie swaar is vir ons in ons lewe toelaat om Sy plan uit te voer. Jabes moes gebuk gaan onder die beleg sodat Saul se koningskap bevestig kon word. Ons sien dus God se hand raak wanneer die ongeluk of probleme ons tref. Daar mag dalk ‘n baie groot doel daaragter wees. In Habakuk 3:17-18 het die profeet immers gesê, dat al tref al die rampe hom, sou hy nogtans jubel in die Here!

Gebed:

Here, ek jubel in U, selfs al tref die ongeluk my! Help my ook asseblief om in te sien dat U soms swaarkry toelaat sodat U groot plan tot uitvoer kan kom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026