1 Samuel 10:17-27
Samuel belê ‘n volksvergadering in Mispa. Almal weet waaroor dit gaan, want Samuel het mos belowe dat die Here vir hulle ‘n koning sou gee. Dus is hierdie vir die volk ‘n baie belangrike dag en al die stamme van Israel is daar.
Wanneer die hele volk bymekaar is, gaan staan die gryse ou profeet om hulle toe te spreek. Hy voel nog steeds nie baie gelukkig daaroor dat hy ‘n koning vir hulle moet aanstel nie. Die Here het nou wél vir hom gesê dat dit nie vir hom as rigter is vir wie die volk verwerp het nie maar vir God, die enigste ware Leier van die volk. Maar dit maak hom éérs seer as hy dink dat hulle dié God wat hulle gered het verwerp het.
“So sê die Here, die God van Israel,” begin Samuel baie plegtig, terwyl jy ‘n speld kan hoor val. “Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het. Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel.”
Tot dusver was Israel regeer deur ‘n Teokrasie, dit beteken dat God Koning was oor Israel. Hy het regeer deur gebruik te maak van verskeie rigters wat leiding moes neem. Die vraag is, of God dan nie goed regeer het nie, want dit het dikwels maar bitter droewig gegaan met hierdie volkie.
Die antwoord is eenvoudig: God het goed regeer, maar die volk het so dikwels afgedwaal dat hulle keer op keer slegte dinge oor hulleself gebring het. Talle male lees ons in die Rigtertydperk dat die volk alwéér in afgodery verval het. Wanneer hulle die keer hulle volle vertroue op God geplaas het, het Hy die mees asemrowende wonderwerke laat gebeur om hulle te red. Hy het hulle geloof versterk en die ongelowige vyand gewys dat Hy die enigste ware God is en dat Hy almagtig is.
Die Israeliete het egter bitter gou weer vergeet, want die sensuele afgodediens van die ander volke het tóg só aanloklik gelyk!
Die tyd het egter nou aangebreek om vir die volk ‘n wêreldse koning te gee. Hierdie koning, Saul, is op hierdie stadium alreeds deur Samuel gesalf op God se bevel, maar die salwing is streng geheim gehou. Die enigste twee wat hiervan geweet het, was Samuel en Saul.
Die probleem is egter nou, dat Samuel nie sommer vir die volk kon sê dat hy besluit het dat Saul die koning is nie. Selfs al sê hy dat God vir Saul verkies het, sou dit steeds nie baie lekker afgaan nie. Hy sou dus iets anders moes doen, maar dit sou beteken dat hy God ten volle hierin moes vertrou. “Die koning gaan nou aangewys word deur die lot te werp,” verklaar Samuel. Hiermee is almal gelukkig want sodoende sou die persoon regverdig aangewys word. Boonop sou almal aanvaar dat dit alleen deur God se wil is wat hy aangewys word.
Die urim en timmum word te voorskyn gebring. Hoe presies hierdie steentjies gewerk of gelyk het, kan ons vandag maar net raai. Al wat ons weet is dat deur die gooi daarvan, dit ‘n positiewe of negatiewe beslissing op bepaalde vrae sou gee.
Die eerste vraag was, uit watter van die twaalf stamme die nuwe koning sou kom, en die lot het geval op die stam van Benjamin. Tweede moes die familie bepaal word, en hier het die lot, waarskynlik na ‘n lang, uitgerekte eliminasieproses geval op die familie van Matar. Nou het die sirkeltjie al nouer begin trek.
Kis se asem slaan skoon weg en sy hart gaan staan amper toe sy gesin aangewys word. Nou kom die laaste stap om te bepaal watter een van Kis se seuns die eer te beurt sou val om koning te word. En nou weet ons mos al dat dit op Saul sou val, want so het God dit mos bepaal.
Toe Saul egter gesoek word, is hy skoonveld. Na ‘n lang soektog kry hulle die lenige, skaam jongman waar hy tussen ‘n klomp pakgoed wegkruip. Wanneer hy na vore gebring word, staan hy soos ‘n paal bo water bokant al die manne uit.
“Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” Samuel wys na Saul, en skaam-skaam tree hy na vore.
“Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!” juig almal hom toe. Wel, eintlik het nie álmal so entoesiasties gejuig nie, want ‘n klomp manne was bitter ontevrede met die keuse: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” het hulle snedig gevra. Saul het dit gehoor maar hy het gemaak asof hy dit nie hoor nie.
Samuel is nog gladnie klaar nie. Hy stel die reëls op vir die verhouding tussen die volk en die koning en teken dit op in ‘n boekrol. Dit moes die volk beskerm teen magsmisbruik maar dit gee die koning ook sekere regte.
Die vraag vandag is: wie is koning in jou lewe? Ons antwoord baie maklik: “Natuurlik God!” Maar dit is nie so eenvoudig nie want selfs in die ernstige gelowige se lewe is daar dikwels ander dinge wat koning speel. Dit kan geld wees, jou werk, stokperdjie, sport..... Ja, inderdaad kan dit selfs die kerk wees! As sekere rituele of belangrike dinge só groot raak dat dit belangriker is as jou verhouding met die Here, dan flikker die rooi ligte! Dalk is jy so besig met die werk van die Here, dat jy nie by die Here van die werk uitkom nie!
Kom ons maak God weer waarlik Koning van ons lewe!
Gebed:
Here, ek wil U liefhê en dien met alles in my! Ek begeer dit dat U weer waarlik die enigste Koning in my lewe sal wees!