Jona 1:3
Ongemerk begin Jona om die Here uit sy nagtelike gesprek uit te sluit, totdat hy naderhand nét met homself gesels. Van slaap is daar géén sprake nie, want hierdie ding van Nineve oorheers nie net sy gedagtes nie maar sy hele lewe. Hy kry sommer weer koue rillings by die blote gedagte aan die naam van die verskriklike stad. En so gaan dit nág vir nag......
Nineve lê aan die uiteindes van die wêreld - so byna sewehonderd kilometer van sy huis af. Dit is die hoofstad van die magtige Assiriese ryk wat op die oomblik die ganse wêreld oorheers en dis 'n volle maand se reis te voet! Dis boonop gevaarlike wêreld daardie en hy wil nou nie staan en sy lewe én sy loopbaan as profeet in gevaar stel en dit net oor ‘n spul heidene nie!
Van pure uitputting raak Jona uiteindelik aan die slaap, maar nagmerries teister hom. Hy droom van onrein heidene wat hom uitlag as hy probeer preek. Hy droom van miljoene der miljoene mense wat nie wil luister na sy ernstige boodskap nie en hulle maak ‘n bespotting van hom! Hy skrik wakker met sy hart wat dreig om uit sy borskas te spring. Dan wéét hy skielik wat hy gaan doen!
Haastig pak Jona sy nodigste besittings in ‘n sak en hy stap af na die hawestad Joppe toe. “Ek sal daar ‘n skip kry wat my ver, baie ver weg sal neem!” Brom-brom slof hy die stowwerige pad af see toe aan.
By die hawe aangekom lê daar reeds ‘n skip wat byna gereed staan om te vertrek. “Waarheen gaan julle?” wil hy weet.
“Tarsis”, antwoord ‘n matroos hom skor. Jona gril vir die vuil vent, maar hy knyp maar oë toe.
“Waar is hierdie Tarsis?” Die matroos is nie lus vir gesels nie en hy beduie weswaarts. Jona kan aflei dat dit bitter ver moet wees, maklik driekeer so ver as wat Nineve na die teenoorgestelde kant is.
“Dit sal my soos ‘n handskoen pas!” dink Jona hardop. Hy betaal sy reisgeld en gaan maak hom tuis onder in die skip se ruim tussen 'n klomp sakke koring waar niemand hom sal raaksien nie - veral nie God nie! Wanneer die skip teen dagbreek die volgende oggend die hawe verlaat, sak daar ‘n groot vrede oor Jona toe. “Vry, ek is vry!” Sy hart bokspring eintlik van pure opwinding!
Jona se optrede is onbegryplik: Hy, die gerespekteerde profeet wat die almagtige God dien, dink hy kan van God af wegvlug! Onverstaanbaar! Vandag wil ons vir Jona lag, want ons wéét mos dat jy nie vir God kan wegvlug nie. Maar dalk sal ons sy optrede beter verstaan as ons kyk na die algemene opvatting oor gode in daardie tyd. Elke land of streek het sy eie god of gode gehad en daardie god was gebonde aan die spesifieke streek. As jy dus daardie gebied verlaat het, dan het daardie god geen houvas meer op jou gehad nie, want hy het mos agtergebly! Dalk het Jona dieselfde gedink van die Here? Ons sal nie weet nie, maar ons kan maar net raai......
Eintlik is dit egter vandag ook nie so ‘n rare verskynsel nie. Is dit nie maar wat ek en jy dikwels ook probeer doen nie? Ons bely allerhande mooi dinge oor God, soos dat Sy liefde en genade oor ons so onmeetbaar groot is. Verder bely ons van Sy almag en dat Hy oor alles heers, selfs ook oor die Goddelose. En ons bely van God se alomteenwoordigheid, dat Hy absoluut oral gelyk is, ook binne-in ons as gelowiges deur die Heilige Gees!
Ongelukig tree ons egter op asof hierdie dinge nie waar is nie. Ons sê een ding maar leef ‘n ander ding. Dit maak ons ongeloofwaardig en Jona word die simbool van ons eie tekortkominge.
Ons bevind ons dikwels op plekke waar ons nie vir God saam met ons wil hê nie, plekke soos dobbelhuise of dronkneste of dalk selfs erger. Hoe bitterlik bedroef ons nie maar dikwels die Heilige Gees wanneer ons baie lekker “kuier” saam met mense wat nie vir God ken nie. Op sigself is daar niks mee verkeerd nie – Jesus het dit ook gedoen. Dit raak egter 'n probleem wanneer ons onsself laat intrek in gesprekke wat nie die waardes respekteer wat in die Bybel vir ons as riglyn gegee word nie. Dink ons dan een enkele oomblik daaraan dat ons die Heilige Gees in ons het en dat ons Hom ook by hierdie gesprek betrek?
God het vir Jona 'n wonderlike geleentheid geskep om daar in die goddelose vreemde die Here se wonderlike Naam te gaan verheerlik. Maar vir Jona word hierdie einste geleentheid nou 'n verleentheid. God skep net so vir ons ook dikwels wonderlike geleenthede, maar ons verskonings en ongehoorsaamheid maak hierdie geleenthede dikwels vir ons ‘n verleentheid. Wanneer sal ons leer om God op sy Woord te neem? Wanneer sal ons eendag leer om God ten volle te vertrou? Ook in die dinge wat vir ons as 'n Mount Everest voorkom?
Onthou, ons kan nie vir God weghardloop of wegkruip nie. Van Adam se tyd af sien ons dit, toe hy vir God probeer wegkruip het in die tuin.
Gebed:
Here, maak my asseblief elke oomblik van die dag bewus van U heilige teenwoordigheid!