2 Timoteus 4:14-22
Dikwels voel ek en jy baie bitter oor dinge wat mense ons aangedoen het of dalk omdat hulle die saak van die Here skade berokken het. Partymaal is dit mede-gelowiges wat die pad byster geraak het en in die proses mense seergemaak het. Hoe tree jy op teenoor sulke mense? Ek het al soveel hartseer gesien van persone wat seergemaak is, verwerp is deur ouers, mishandel is deur ‘n eggenoot ens. Hoe hanteer jy sulke liefdeloosheid?
Paulus sluit sy testament af met ‘n paar sulke hartseer sake. Dit was gebruiklik dat ‘n testament in antieke tye afgesluit word met reëlings oor optrede teenoor teenstanders. So byvoorbeeld lees ons in 1 Kon. 2:1-8 van Dawid toe hy op sy sterfbed gelê het en sy testament aan sy seun Salomo verduidelik het. Joab, een van sy vertrouelinge het uit magsug wreedaardig moord gepleeg en Salomo kry opdrag om hom en Semeï tereg te stel. Die seuns van Barsillai moet egter beloon word ten spyte van hulle laakbare optrede.
In Paulus se testament is daar óók twee verskillende soorte optredes teenoor mense wat hom kwaad aangedoen het en sodoende die bediening benadeel het. Oor sommige bid hy dat die Here hulle sal vergeld vir hulle dade terwyl hy oor ander bid dat die Here hulle dade nie sal toereken nie.
Wanneer bid jy dat die Here iemand sal straf en wanneer bid jy vir vergifnis? Is dit reg van my om te mag bid dat die Here iemand sal vergeld vir sy dade? Ongelukkig gee Paulus nie veel detail wanneer hy oor Aleksander die kopersmit praat nie, maar ons kan aflei dat hy nie noodwendig vir Paulus persoonlik leed aangedoen het nie. Hy het egter die prediking baie skade berokken! In vers 15 skryf Paulus baie beswaard: “Hy het ons prediking heftig teengewerk!” Sulke dinge durf nie geduld word nie en as die saak van God skade lei, veral wanneer iemand dit willens en wetens aktief doen, dan mag ons nie stilbly nie! Sulke dinge verg dat ons moet optree. Hy waarsku dan ook vir Timoteus om baie versigtig te wees vir hierdie gevaarlike man en sy gebed is dat die Here hom sal vergeld vir dit wat hy gedoen het.
Aan die ander kant het ons mense wat vir Paulus persoonlik baie seergemaak het. Hierdie is mense op wie hy sy vertroue geplaas het om hom by te staan tydens sy uitmergelende hofsaak. Hy het gedink hulle is sy vriende, maar hulle het net eenvoudig verdwyn toe sy nood die grootste was! Dis ‘n gróót seer, maar hoe tree Paulus op teenoor hulle? Hy bid dat die Here hulle sal vergewe!
Dikwels word ons baie seergemaak deur mense. “Ek sal nie weer met hom praat nie!” het ek al dikwels ‘n gelowige hoor sê. As dit is hoe jy voel, dan vra ek dat jy dalk net vir ‘n rukkie gaan sit en bepeins oor al die kere wat jy die Here nog soveel méér seergemaak het deur jou eie sonde! Hoeveel keer het jy Hom nie al verloën nie? Hoeveel keer in jou lewe het jy nie al geluister hoedat iemand ‘n bespotting maak van die heilige Naam van God en dan maak jy asof jy dit nie hoor nie? Soveel kere in my eie lewe het ek die Here al bitterlik teleurgestel. Uit Sy groot, groot genade het Hy nog elke keer gekom en my vergewe. In Jesaja 1:18 belowe die Here: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu”. Hy vergewe volkome en Hy dink nie weer aan die sondes nie. Ons bid: “Vergewe ons ons sondes, soos ons ook diegene vergewe wat teen ons sondig.” Jesus het ons immers só leer bid. Maar doen ons dit? Is ek en jy bereid om iemand te vergewe wat my te na gekom het? As ons ernstig is oor ons geloof, sal ons nooit, óóit met ‘n wrok in die hart rondstap nie en sal ons bereid wees om sélf volkome te vergewe!
In die slot van sy treffende testament vergeet Paulus totaal van die dinge wat sy teenstanders hom aangedoen het en hy maak geloofsuitsprake oor sy vertroue op God. Wat hulle betref, laat hy dit in die Here se hande. Wraak en vergelding kom hom immers nie toe nie! Sy vertroue stel hy op die Here, want van Hom alléén kry hy sy krag. Selfs wanneer sy prediking deur mense benadeel word, kom dit steeds tot volle reg omdat God hom hierin bystaan.
Paulus het volle berusting oor sy naderende dood, want die Here het hom uit die “bek van die leeu” gered. Moontlik nie fisies uit die "bek" van die wrede Nero nie maar wél uit die kake van 'n véél wreder "leeu", Satan! Paulus vestig sy hoop op ewige waardes, want die Here sal hom uit die mag van die grootste vyand ruk en hom na Sy hemelse Koninkryk neem!
Vir oulaas stuur Paulus groete aan die liewe mense wat vir hom deur die jare so dierbaar was: Priscilla, Akwila en al die ander wat hulle álles gegee het vir die Koninkryk van God. En nou gee hy die aflosstokkie vir Timoteus aan. Dit rus op hierdie entoesiastiese jongman se skouers om die wedloop voort te sit en te voltooi. Timoteus het dit inderdaad gedoen! En nou? Nou is die stokkie in jóú hande. Wat gaan jý daarmee maak?
Gebed:
Here, gee my asseblief krag en wysheid om die wedloop wat Paulus en Timoteus gehardloop het te voltooi. Ek wéét dat die oorwinnaarskroon vir my wag!