Verbondstekens

27 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verbondstekens

Genesis 17:9-27

In die vorige dagstukkie het ons gehoor van die verbond wat God met Abraham gemaak het. Ons het gesien dat God aan Abraham ‘n groot nageslag beloof as deel van die verbond, en ook die land Kanaän as sy eiendom. Verder het Hy belowe om vir Abraham ‘n God te wees. Om dit te bevestig, gee God hom ’n nuwe naam: Abraham. Hy vra egter van Abraham lojaliteit en vertroue.

Maar daar is nog so ‘n ou klein dingetjie wat hy van Abraham vra. Hy wil vir Abraham ‘n fisiese teken gee wat hom altyd sal herinner aan hierdie verbond: die besnydenis. Hierdie was eintlik ‘n baie algemene gebruik in die Nabye-Ooste, maar dit is uitgevoer om baie verskillende redes. Gewoonlik was dit die gebruik met die oorgang na volwassenheid, soos dit vandag steeds by baie Afrika-volke gedoen word. Daarmee word die seun beskou as ‘n volwaardige lid van die samelewing. Abraham se opdrag was egter dat babas op die ouderdom van 8 dae besny word. Dit het natuurlik ‘n baie diep geestelike betekenis.

Die besnydenis het twee dinge vir Abraham en sy nasate gesê: Eerstens het dit hulle natuurlik herinner aan die verbond wat God met hulle gesluit het, en aan al die beloftes wat daarmee saamgaan. Maar dit het ook vir hulle ‘n tweede ding gesê, naamlik dat daar ‘n sekere verantwoordelikheid mee saamgaan, want dit sou beteken dat hulle op ‘n bepaalde manier voor God moes lewe. Godsdienstige rituele op sigself is absoluut waardeloos as dit nie gepaard gaan met geloof en natuurlik die dinge wat uit geloof voortvloei, soos om liefde uit te leef nie.

Vandag het die Christelike gemeenskap natuurlik nie meer die besnydenis as verbondsteken nie, maar hierdie erfenis word nogtans voortgesit met fisiese tekens soos die doop en die nagmaal, albei dinge wat ons herinner aan God se verbond met ons as gelowiges. Die doop, of dit nou as baba is of as volwassene, is ‘n teken van die toetrede tot ‘n geloofsgemeenskap. Maar weereens is dit nie die uiterlike handeling wat die belangrikste is nie. Paulus het immers in Rom 2:28-29 tereg gesê dat dit die innerlike is wat van belang is en dat daardie teken (besnydenis/doop) in jou hart plaasgevind het. Natuurlik moet ons ook onthou dat daar ‘n klemverskuiwing gekom het in die nuwe verbond. Hier gaan dit nou nie meer oor ‘n fisiese land wat belowe word nie, maar die ewige lewe. En natuurlik ook dat Jesus die sentrale punt is waarom die verbond draai.

In die antieke tye was die verstandhouding tussen twee partye, wanneer ‘n verbond gemaak word, dat slegs die senior vennoot die verbond kon ophef. In Abraham se geval, was hy die “junior vennoot” en God was die Een wat die verbond ingestel het. Slegs God kon hierdie verbond beëindig. Ja, Abraham en sy nasate kon dit dalk verbreek, maar dit sou vir ewig bly staan solank as wat God dit wil laat staan. ‘n Verbreking van die verbond deur Abraham of sy nasate sou lei tot ballingskap en ander droewige gevolge.

Die nuwe verbond kan eweneens ook slégs deur God opgehef word. As gelowiges kan dit gebeur dat ons die verbond verbreek, met baie droewige gevolge. Ons kan dit egter nooit beëindig nie. Dit is die groot troos van die verbond. God is altyd daar, en Hy sal altyd bereid wees om ons weer in die verbond op te neem as ons geval het.

God het nie alleen aan Abraham gedink nie. Onthou, Sarai was óók deel van Sy groot raadsplan. Al was sy so byna 90 jaar oud, word daar weer bevestig dat Sarai, die onvrugbare, die moeder van nasies en konings sou word. As bevestiging hiervan, kry sy dan óók ‘n nuwe naam. Van nou af sal sy bekend staan as Sara, “Prinses”. Die nageslag moet vir altyd onthou dat hulle ontstaan het as gevolg van ‘n groot wonderwerk wat alleen God kon doen, die wonder dat Hy ‘n stokou onvrugbare vrou ‘n moeder gemaak het.

Só ongelooflik klink hierdie aankondiging, dat Abraham lag. God se liefde is egter só groot, dat Hy nie eers vir Abraham hieroor berispe nie. God het geweet dat hierdie lag iewers lê tussen verbasing, ongeloof, blydskap en geloof. Sy seun Isak sal die beloftedraer word. Ismael, die “buite-egtelike” kind, word egter nie vergeet of verwerp nie, en ook hý ontvang die seën van die Here.

Die sluiting van hierdie verbond was vir Abraham ‘n geweldige groot ding. Hy gaan onmiddellik oor tot aksie. Eers word elke manlike lid van sy huishouding besny, elke slaaf en elke seuntjie wat onder sy dak bly, kry die teken van God se verbond met Abraham. Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael ook besny. Dit was ‘n keerpunt in die lewe van die gryse ou man, en ‘n keerpunt in God se betrokkenheid met die mensdom. Daardie dag het ‘n splinternuwe gemeenskap van gelowiges tot stand gekom.

Tweeduisend jaar later sou die volgende groot keerpunt kom in die geskiedenis, met die dood en opstanding van Jesus. Elke keer as die doop of die nagmaal gevier word, word hierdie keerpunt herbevestig as die begin van die nuwe geloofsgemeenskap.

Gebed:

Here, dankie dat U vir ons tekens gegee het om ons geloof telkemale net weereens te versterk. Help ons om hierdie tekens nie maar net as uiterlike simbole te sien nie, maar om dit in ons harte tot uiting te laat kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026