Van Vrees na Vreugde

11 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Vrees na Vreugde

Ester 9 en 10

In die vestingstad Susan heers daar groot vreugde onder die Joodse bevolking. Dit het pas bekend geword dat Mordegai en Ester die koning oorreed het om die Jode te red. Die dekreet word nou wel nie herroep nie, maar nou mag die Jode hulleself verdedig. Soos wat die berig al verder en verder versprei na ander stede en provinsies, brand die vreugdevure hoog. Dit jubel en dans en sing en maak musiek, want die groot oordeel is iets van die verlede.

Mordegai was dalk eers ‘n bietjie bekommerd oor die uitkoms van alles, want die Jode is maar ‘n bitter klein minderheid in vergelyking met die ander magtige volke van die wêreld. Maar dan merk hy in Susan iets van vrees in die oë van die ander mense wanneer hulle ‘n Jood sien - so asof die Jode vir hulle net onoorwinlik lyk. Mordegai glimlag, hy verstaan maar ál te goed. Eintlik gaan dit gladnie oor die feit dat hulle Jode is wat die mense vir hulle bang maak nie. Die ware rede is die God wat hulle aanbid! Ja waarlik, God is baie, baie groter as enige van die heidense afgode, en dit boesem vrees by die mense in. Hulle het al die verhale gehoor van hoe hierdie God van die Jode wondere kan doen. Die stad Jerigo se mure wat bloot verkrummel het to God die bevel gee. Die Rietsee en die Jordaan in vol vloed wat voor die Isrealiete oopgekloof het, is genoeg om enigeen die bewerasies te gee. Hierdie God is magtig!

En dan begin daar ‘n onverklaarbare ding gebeur: een-vir-een begin die heidene hulle te bekeer tot die Joodse geloof. “As ons wil bly lewe, dan moet ons Jode word! Dan sal ons ook die God van Israel moet begin aanbid!”

Intussen word Mordegai aangestel as tweede in bevel onder die koning. Van ‘n doodgewone ou Jood wat sy dae omsit in die poorte van die paleis tot die magsposisie van tweede in bevel in die Persiese Ryk. Van iemand wat so ampertjies aan die galgtou geswaai het, tot regeerder in die magtige Persiese koninkryk. En hy het dit nie bereik met ‘n groot geldmag of omdat hy verskriklik invloedryk is of omdat hy magtige veldslae gewen het nie. Nie eers omdat hy so slim is nie! Hy het daar gekom omdat God hom daar wou hê, en hom daar geplaas het!

Die verskriklike dag van die dertiende van die twaalfde maand kom stadig nadergesluip. Dag-vir-dag loop die spanning al hoër en hoër. Gaan die handjievol Jode oorleef in hierdie stryd? Al hoe meer begin die amptenare in hoë posisies besef dat hulle hier te doene het met ‘n magtige man in Mordegai. Hulle raak bang vir die kêrel wat so blitsvinnig op totaal onverklaarbare wyse so hoog uitgestyg het bo al die ander wat al baie jare hard werk om iewers in die lewe te kom. Eerder as om hom teen te staan, besluit hulle om vir Mordegai en die Jode te steun. Hulle wil nie in sy verkeerde boekies kom nie.

Dan breek die fatale dag aan. Ten spyte van alles, is daar tóg talle mense wat hulle kans waarneem om die Jode aan te vat. Hulle besef egter baie gou, hééltemal te laat, dat hulle met Iemand baie groter as die Jode te doen het. Regdeur die koninkryk sterf daar daardie dag baie duisende mense wat hulle aanval op die Jode geloots het. Vyf en sewentig duisend mense sneuwel op daardie dag omdat hulle hulle hand teen die Almagtige God probeer lig het. Vir die Jode brand die vreugdevure egter hoog, want God het hulle van totale uitwissing gered.

Ons wil terugdeins wanneer ons die laaste hoofstukke in die boek Ester lees, want hierin sien ons hoedat die Jode aangesê word om hulle vyande almal voor die voet dood te maak. Ons moet egter hierdie gedeelte in sy konteks lees om die totale prentjie te kry.

Jy sal onthou dat Haman die proklamasie laat uitvaardig het waarin al die Jode regoor die Persiese Ryk uitgeroei moet word - mans, vrouens en kinders. Die Jode het hulleself maar net verdedig.

Die Purimfees gedenk die dag van verlossing vir die Jode. Die dag wat tragies deur die lot bepaal is om die ondergang van die Jode te word, word ‘n feesdag as ‘n getuienis van God se werk. Dit het begin met vas, gebed en verootmoediging toe die verskriklike lot bekend word, en dit eindig in vrolikheid en vreugde. Dit gaan nie oor die oorwinning wat hulle behaal het nie, maar oor God wat alles verander het.

Op dieselfde wyse was daar groot vrees in my eie hart oor die verwoestende mag wat die duiwel oor my lewe gehad het. Nee, ek het hom nie oorwin nie, maar dit is God wat hom vir my oorwin het en my ware vryheid en vrede gegee het toe ek die dag Jesus se geskenk van die ewige lewe aanvaar het.

Die vraag is, of jy al daardie oorwinning behaal het? Om ook deel te kan wees van die skare van verlostes, kos sleg ‘n enkele “Ja!” vir Jesus wat klop aan die deur van jou hart!

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike verhaal van Ester, en alles wat ek daaruit kon leer. Dankie dat U daardie ou, ou verhaal vandag weer vars en nuut maak sodat ons vandag steeds geestelike kos daaruit kan kry.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026