Van Moab tot Kus

30 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Moab tot Kus

Jesaja 15-17

Soos ons gister gesien het, kondig Jesaja God se oordeel aan oor ‘n verskeidenheid volke. Volgende aan die beurt, in Jesaja 15 en 16 is Moab. Al ooit gewonder waar hierdie Moabiete waarvan ons dikwels in die Ou Testament lees vandaan kom? In Genesis 19 lees ons die verhaal van Lot wat met sy twee dogters gevlug het toe God Sodom en Gomorra vernietig het. Jy sal onthou dat sy vrou in ‘n soutpilaar verander het toe sy bly talm het. Lot en sy dogters het in die berge gaan bly. Die twee dogters was bang dat hulle kinderloos sou sterf, toe maak hulle hulle pa dronk en het gemeenskap met hom. Uit hierdie bloedskande is vir elkeen ‘n seun gebore, Ben-Ammi, wat die vader van die Ammoniete geword het en Moab die stamvader van die Moabiete. Hulle het die landstreek van die huidige Jordanië beset, en daar was gedurig konflik tussen hulle en Israel.

Baie jare later lees ons die pragtige verhaal van Rut, Sy was ‘n Moabitiese meisie. Haar naam verskyn saam met dié van drie ander vroue in die geslagsregister van Jesus.

Maar Moab was ‘n goddelose nasie, en God se oordeel sou ook húlle tref. In paniek vlug hulle suidwaarts wanneer ‘n vyandige mag hulle oorval, en hulle beland in die grondgebied van Edom. Maar hulle ontkom nie die ramp nie, want dit is die Here wat teen hulle veg. Hulle stuur selfs geskenke, hulle laaste besittings na Jerusalem om daar te probeer hulp kry. Hulle vra vir skuiling in Jerusalem, maar tevergeefs! Hulle ontkom nie God se oordeel nie.

Ons het reeds gehoor van Damaskus wat met Israel saamgespan het teel Juda. In Jesaja 17 kom Damaskus en Efraem (Israel) aan die beurt vir God se oordeel. Damaskus is die blyplek van die Arameërs. In die Nuwe Testamentiese tyd was hulle taal, Aramees dan ook die voertaal van baie van die Jode. Ook Jesus het Aramees gepraat.

Damaskus, vandag die hoofstad van Sirië, het ‘n baie lang geskiedenis wat terugdateer to 6000vC. Dit het egter in sowat 1300vC eers ‘n stad geword. Damaskus het baie konflik beleef deur die jare, en selfs vandag nog is dit in konflik gehul. Ook Damaskus ontkom nie God se oordeel nie. Dit word letterlik oorstroom deur Assirië, en later weer deur die Babiloniërs. Maar selfs hierna word die stad weereens oorval wanneer Alexander die Grote die wêreld verower, en wanneer die Romeine die tuig oorneem, is Damaskus weereens in die spervuur. Die Romeine maak Damaskus uiteindelik een van die tien stede van die Dekapolis waarvan ons in Jesus se tyd lees.

Wat die Noordryk van Israel betref: ook húlle sal die oordeel van God nie vryspring nie. Net ‘n handjievol Israeliete sal nog oorbly. “Dit sal wees soos wanneer iemand wat oes, die graanhalms bymekaargevat en die are afgesny het. Dit sal wees soos wanneer iemand ook die are wat geval het, opgetel het in Spooklaagte.” So beskryf Jesaja hulle verwoesting in Jesaja 17:5. En dit sal eers wees wanneer God se oordeel voltrek is, dat die mense weer sal leer om aan die Here vas te hou. Inderdaad hét God dan ook die oordeel voltrek, en Israel is in ballingskap weggevoer en oor die aarde verstrooi. Slegs 'n klein handjievol van hulle het oorgebly. Die stede was verwoes en hulle landerye verlate. Ná die terugkeer uit ballingskap het daar egter 'n nuwe spiritualiteit ontwikkel in die volk.

In hoofstuk 18 kom Kus, “die land met die insekteplae” aan die beurt. Vandag ken ons Kus as Etiopië. Dit is interessant dat ‘n Etopiër, Sabako, in 714vC die troon in Egipte oorgeneem het.

Wanneer Assirië hulle tande vir die wêreld wys, stuur Etiopië ‘n afvaardiging na Jerusalem om ‘n koalisie met Juda te probeer vorm teen die Assiriërs. Jesaja sê vir hulle dat hulle maar kan teruggaan na hulle eie land, want g’n koalisie van watter aard ookal sal hulle help teen die hand van die Here nie, nie vir húlle nie, en ook nie vir Juda nie! God is immers in volle beheer, en Hy kyk ongestoord en rustig neer op die volke vanuit Sy woonplek. Op Sy tyd wat Hy bepaal het sal Hy die nasies oordeel. En dit geld vir álmal, nie net Kus en Juda nie! “Julle almal wat in die wêreld woon, julle bewoners van die aarde, kyk wanneer die vaandel opgesteek word op die berge, luister wanneer die ramshoring blaas!” (v. 3).

Wanneer hierdie oordeel kom, sal die Etiopiërs moet erken dat die God van Israel waarlik God is. “In dié tyd sal daar geskenke aan die Here die Almagtige gebring word uit die land wat deur riviere deursny word.” (v. 7). Ja, hulle kan maar hulle geskenke bring, maar dit sal niks help nie.

God soek nie geskenke en koalisies en mooi praatjies nie. Hy soek nie edele afvaardigings, 'n roemryke stad of 'n pragtige tempel nie. Hy soek slegs jou hart!

Gebed:

Here, vandag gee ek opnuut weer my hart aan U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026