Matteus 10:1-15
Matteus het vertel van vyf dissipels wat deur Jesus geroep is. Eers die broers Petrus en Andreas en daarna nog twee broers, Jakobus en Johannes. Later volg ook Matteus die tollenaar. Nou hoor ons dat die binnekring dissipels uiteindelik na twaalf gegroei het. Hulle is natuurlik nie die enigste gereelde dissipels nie, maar hulle is gekies om ‘n spesiale taak te verrig. Hulle sal Sy apostels, oftewel uitgestuurdes wees en hulle kry intensiewe opleiding. Hulle sal uiteindelik die kern vorm van die “nuwe Israel.”
Die twaalftal kry nou hulle eerste groot opdrag, om na die “verlore skape” van die volk Israel te gaan. Wanneer Hy hulle die ongenaakbare wêreld instuur, gee Hy hulle absolute volmag oor onrein geeste en om siekes te genees. Hulle kan met ander woorde direk Sy bediening voortsit as Sy gesagvolle gesante.
Hulle kry baie spesifieke opdragte om uit te voer. Hulle word baie spesifiek na Israeliete gestuur. Hulle moet die Samaritane en ander heidennasies vermy. Hulle boodskap aan almal moet wees: “Die koninkryk van die hemele is op hande!” Maar dit moet ook nie net by preek bly nie. Hulle boodskap moet gepaard gaan met die praktiese uitlewing daarvan soos om siekes gesond te maak, selfs melaatses te reinig en bose geeste uit te dryf!
Ek dink die manne was baie opgewonde om op hierdie manier prakties te gaan toepas wat hulle die afgelope ruk van Jesus geleer het. Alle studente raak mos maar opgewonde as hulle skielik die lesingsaal kan verruil vir ‘n uitstappie in die veld om die dinge prakties te gaan ervaar, dis opwindend!
Maar vir die dissipels wag daar ‘n verrassinkie: as hulle dalk gedink het dat dit maklik sou wees, maak hulle ‘n baie groot fout! Jesus verbied hulle om enigiets met hulle saam te neem. Hulle mag géén geld, ekstra klere, skoene of selfs eers ‘n reissak saamvat nie. En boonop mag hulle géén vergoeding aanvaar van enigiemand vir die werk wat hulle doen nie. Klink dit dalk ‘n bietjie onregverdig? Hoe moet hulle dan oorleef?
Jesus wil egter iets baie belangrik vir hulle leer: totale afhanklikheid van God. In die Bergpreek het hulle alreeds gehoor dat jy gelukkig is as jy besef hoe afhanklik jy van God is. Dalk sal hulle dit onthou wanneer hulle iewers in die veld sonder kos of verblyf sit. Of dalk selfs met ‘n paar skoene wat op die pad die gees gegee het. Die ergste is dat wanneer dit gebeur, gaan hulle ook nie hoed in die hand iewers kan bedel om hulp nie. Hulle moet staatmaak op die gasvryheid van die mense wat hulle boodskap hoor. God sal die boodskap wél na iemand stuur, wat op sy beurt weer gehoorsaam sal wees aan God se stem en uit eie vrye wil, sonder dat iemand hom vra, vir die manne sal huisvesting en kos gee, en alles wat hulle nodig het.
‘n Mens stap dikwels in vrees en bewing in so ‘n situasie in. Ek kan my indink hoe die manne gevoel het. In my eie lewe kan ek daarvan getuig. Toe ons destyds ons huis verloor het, was ons desperaat vir blyplek. Daar was géén geld om ‘n huis of selfs eers iewers ‘n kamer te huur nie, maar ons het niemand gevra vir akkommodasie nie. Uit die bloute kry ek ‘n oproep van Willem, hy en Linda het ‘n woonstelletjie wat leegstaan. Wil ons nie daar kom bly nie? Gratis! ‘n Jaar later vra Danie en Adele of ons nie asseblief hulle huis sal kom oppas terwyl hulle in Australië is nie, óók gratis! Sulke soort gasvryheid is net eenvoudig nie logies nie. Dit maak gladnie sin nie, en dit kan alleen toegeskryf word aan die voorsiening van God wanneer jy begin besef hoe afhanklik jy werklik van Hom is.
Ek is hierdie twee gesinne, asook baie ander gelowiges wat op verskeie maniere vir ons voorsien het, ewige dank verskuldig, en ek wil sê: “Dankie dat jy na die stem van God geluister het! Mag Hy jou ryklik seën!”
Jesus wou dit vir die twaalf uitgestuurdes baie duidelik stel hoe ernstig die boodskap was wat hulle moes uitdra. Vir diegene wat dit ontvang het, en veral diegene wat hulle gasvryheid aangebied het, het die ryke seën van God gewag. Die belofte van die ewige lewe en God se vrede was meer as waarvoor enigiemand kon vra. Wie hulle, en saam daarmee natuurlik ook die boodskap egter verwerp het, het die ewige verdoemenis in die gesig gestaar. As teken daarvan moes die manne simbolies die stof van hulle voete afskud. Vandag is die boodskap presies dieselfde. Wie Jesus se verlossing aanvaar, kry meer as waarvan enigiemand óóit kan droom. Verwerp jy dit egter, is die ewige verdoemenis jou voorland!
Gebed:
Here, dankie dat U vir my die ewige lewe en U wonderlike vrede gegee het. Ek bid vanoggend vir so baie mense wat daagliks die boodskap hoor, maar dit steeds verwerp!