Matteus 28:16-20
More vier ons een van die “afgeskeepte” gebeurtenisse op ons liturgiese jaar, hemelvaart. Dit was altyd ‘n openbare vakansiedag maar die regering het dit as “minder belangrik” beskou en gekanselleer. Tóg is dit ‘n baie belangrike mylpaal vir alle gelowiges. Volgens Matteus het Jesus die elftal dissipels opdrag gegee om op ‘n sekere dag na ‘n berg in Galilea te gaan om Hom daar te ontmoet. Lukas vertel die verhaal ‘n bietjie anders en sê dat dit by Betanië gebeur het.
Wanneer die dag aanbreek tref ons die elf dissipels aan waar hulle die berg betree waarheen Jesus hulle gestuur het en jy kan sommer sien dat hulle aanvoel dat hier iets baie groot sou gebeur. By hulle aankoms openbaar Jesus Homself as die Opgestane Here. Alhoewel Jesus toe alreeds etlike kere aan hulle verskyn het, kon hulle maar net nie aan die gedagte gewoond raak dat Jesus waarlik opgestaan het nie. Daar was selfs ‘n paar van hulle wat op ‘n stadium ernstig getwyfel het. Dink maar aan Thomas. Hulle was egter deeglik bewus dat Jesus die Seun van God is. Met hierdie wonderlike Godsverskyning aanbid hulle Hom dus. Kleingeloof is ‘n wesenlike gevaar vir hierdie groepie en alhoewel hulle vir Jesus sien, glo nie almal volkome nie. Sien is nie noodwendig glo nie! Moontlik is dit eerder net mooi andersom: gló is sien en doen!
Jesus het vir oulaas ‘n laaste aankondiging vir die elftal. Dit bestaan uit ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag asook ‘n belofte. Wat Jesus se volmag betref, het ons dié alreeds oor en oor in die vier evangelies gesien en hier kom bevestig Jesus dit maar net weer: álle mag behoort aan Hom! Dit is dus met outoriteit dat Hy hulle die opdrag gee: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Jesus se opdrag is vierledig: gaan, maak dissipels, doop en leer. In kort, die sendingopdrag. Die opdrag is dus om die wye wêreld in te gaan en wêreldwyd die Evangelie van Jesus Christus te vestig en die sakrament van die doop te bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, asook vir God met oorgawe dien. Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Jesus te lei nie. Dit is egter baie belangrik dat hierdie bekeerlinge opgelei moet word sodat hulle ware dissipels sal word. ‘n Dissipel is iemand wat opleiding ontvang om ‘n werker in God se koninkryk te word. Dit behels onder meer dat hy / sy uiteindelik sélf ook weer nuwe dissipels oplei in dieselfde taak. Sodoende word dit ‘n nimmereindigende, eskalerende proses!
Dan gee Jesus vir hulle boonop ‘n wonderlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die tyd!
Vandag, tweeduisend jaar later, het die Kerk baie aanslae beleef. Islam probeer baie hard om die kerk te verswelg. Hindoeïsme verkondig dat dit nie saak maak watter God jy dien nie en dat Jesus maar saam met al die ander aanbid kan word. Boeddisme sê weer dat jy gladnie eers ‘n God hoef te hê nie, solank jy net goed leef. En so kan ons aangaan. Daar is meer as ‘n duisend verskillende godsdienste wêreldwyd. Ten spyte van al hierdie teenslae het Jesus Christus se kerk gegroei tot die heel grootste van al die godsdienste!
Alles het begin by elf manne wat gewillig was ten spyte van hulle ongeloof en onbekwaamheid. Jesus het vir hulle die nodige geloof gegee en die Heilige Gees het hulle bekwaam gemaak. Die groot geheim was dat hulle bekeerlinge nie maar net saam kom aanbid het nie. Hulle het egter daardie opdrag met groot ywer verder geneem, toegerus deur dieselfde Heilige Gees. Meeste Christene het vandag “lui” geword en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer al die mooi dinge wat na hulle kant toe kom. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke Christen. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf manne daar op die berg, om die Evangelie uit te dra na die wêreld en dissipels te maak. Omstandighede het natuurlik geweldig verander, maar vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, sms, whatsapp, radio en nog baie ander. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels by plekke insmokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.
Hoe kan ek betrokke raak? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?
Stuur hierdie dagstukkies aan ander, of as dit moeilik is, stuur vir my die adresse en ek sal dit namens jou aanstuur. Terloops, baie dankie vir diegene wat gereeld vir my adresse stuur van nuwe intekenare op die dagstukkies. Raak betrokke by ‘n sendingorganisasie soos Geopende Deure, die Masedonië Projek, die Christelike Seemansorganisasie of waar die Gees jou ookal lei. Leef Jesus se liefde uit in jou daaglikse lewe. Raak betrokke in jou eie gemeente. Spoor jou gemeente aan om betrokke te raak by sendingwerk indien hulle nie reeds is nie. Wees kreatief! As jy gewillig is, sal die geleenthede en deure vir jou oopgaan.
Gebed:
Here Jesus, ek stel myself vandag tot U beskikking. Wys my asseblief waarheen U my wil stuur of waar U my wil gebruik. Dankie vir daardie wonderlike belofte dat U by my is vir ewig en altyd!