Uitgestuur

17 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uitgestuur

Matteus 28:16-20

Een honderd oordenkinge gelede het ons die pad begin stap saam met Jesus terwyl Hy Sy aardse bediening afgehandel het. Dit het ‘n volle vyf maande geneem om Sy voetspore te volg, maar steeds het ons slegs oor die hoogtepunte gesels. Ons kan dik boeke skryf as ons die res ook wil byvoeg! Nou het ons aan die einde van Jesus se verlossingspad gekom met die Hemelvaart. Maar eintlik is dit maar slegs die begin!

In die laaste paar verse van Matteus se weergawe van die verhaal, verkeer ons saam met die elf apostels (uitgestuurdes) op ‘n berg by Galilea. Jesus het hulle daarheen laat kom en hulle kon sommer aanvoel dat hier iets baie groot sou gebeur. Met hulle aankoms openbaar Jesus Homself as die Opgestane Here. Alhoewel Jesus toe alreeds etlike kere aan hulle verskyn het, kon hulle maar net nie aan die gedagte gewoond raak dat Jesus waarlik opgestaan het nie. Daar was selfs ‘n paar van hulle wat ernstig getwyfel het. Dink maar aan Thomas. Hulle was egter deeglik bewus dat Jesus die Seun van God is. Met hierdie wonderlike Godsverskyning aanbid hulle Hom dus. Kleingeloof is ‘n wesenlike gevaar vir hierdie groepie, en alhoewel hulle vir Jesus sien, glo nie almal volkome nie. Sien is nie noodwendig glo nie! Moontlik is dit eerder net mooi andersom: gló is sien en doen!

Jesus het vir oulaas ‘n laaste aankondiging vir die elftal. Hy gee vir hulle ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag en ‘n belofte. Oor die afgelope vyf maande wat ons so saam met Jesus gewandel het, het ons telkens gesien dat God Hom volmag gegee het om Sy werk af te handel. Hier kom bevestig Jesus dit maar net weer: álle mag behoort aan Hom! Hy praat dus met outoriteit wanneer Hy hulle die opdrag gee.

Jesus se opdrag bestaan uit vier dele: om te gaan, om dissipels te maak, om te doop en om te leer. In kort kan ons dus sê dat dit ‘n sendingopdrag is.

Die opdrag is dus om die wye wêreld in te gaan, wêreldwyd die Evangelie van Jesus Christus te vestig en die sakrament van die doop te bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, terwyl hulle God met oorgawe dien. Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Jesus te lei nie. Dit is uiters belangrik dat hierdie bekeerlinge opgelei moet word sodat hulle ware dissipels sal word, wat op hulle beurt weer uitgaan om dissipels, oftewel werkers vir die Koninkryk te werf en op te lei.

Dit eindig egter nie daar nie, want Jesus gee vir hulle boonop ‘n wonderlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.

Vandag, tweeduisend jaar later, het die Kerk baie aanslae beleef. Islam probeer baie hard om die kerk te verswelg. Die Hindoes verkondig dat dit nie saak maak watter God jy dien nie. Jesus kan maar saam met al die ander aanbid word! Boeddhiste sê dat jy gladnie eers ‘n God hoef te hê nie, solank jy net goed leef. Sataniste sê, daar is net een god, Satan. Daar is meer as ‘n duisend verskillende godsdienste wêreldwyd. Ten spyte van al hierdie teenslae het Jesus Christus se kerk gegroei tot die heel grootste van al die godsdienste.

Alles het begin by elf manne wat gewillig was, ten spyte van hulle ongeloof en onbekwaamheid. Jesus het vir hulle die nodige geloof gegee, en die Heilige Gees het hulle bekwaam gemaak. Die groot geheim was dat hulle bekeerlinge nie maar net saam kom aanbid het nie. Hulle het egter daardie opdrag met groot ywer verder geneem, toegerus deur dieselfde Heilige Gees. Meeste Christene het vandag “lui” geword, en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer al die mooi dinge wat na hulle kant toe kom. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke Christen. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf manne daar op die berg, om die Evangelie uit te dra na die wêreld en dissipels te maak. Omstandighede het natuurlik geweldig verander, maar vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, whatsapp, radio en nog baie ander. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels in plekke smokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.

Hoe kan ek betrokke raak? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?

Versprei hierdie dagstukkies verder of stuur vir my die adresse of selfoon nommers. Ek stuur dit met groot liefde namens jou aan. En baie dankie vir diegene wat gereeld vir my adresse en nommers stuur! Raak betrokke by sending. Daar is verskeie organisasies soos Geopende Deure, die Christelike Seemansorganisasie ens. of waar die Gees jou ookal lei. Leef Jesus se liefde uit in jou daaglikse lewe. Raak betrokke in jou eie gemeente. Spoor jou gemeente aan om betrokke te raak by sendingwerk indien hulle nie reeds is nie. Wees kreatief! As jy gewillig is, sal die deure vir jou oopgaan.

Gebed:

Here Jesus, ek stel myself vandag tot U beskikking. Wys my asseblief waarheen U my wil stuur of waar U my wil gebruik. Dankie vir daardie wonderlike belofte dat U by my is vir ewig en altyd.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024