Twee Susters

27 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Susters

Johannes 2:1-11

Video

Audio

Net buite Jerusalem was daar ‘n dorpie met die naam Betanië. Daar het ‘n gesin gewoon wat vir Jesus baie na aan die hart was: Maria, haar suster Marta en hulle broer, Lasarus. Veral Maria het ‘n groot plek in Jesus se hart gehad, want sy was die stil een wat liefde uitgestraal het en dikwels sommer net by jou kom sit het, sonder om eers iets te sê of te doen. Haar suster Marta was die een wat altyd rondgehardloop het en duisend dinge gedoen het. En dan was daar hulle broer Lasarus. Liewe ou Lasarus! Skaars ‘n woord gesê! Moontlik kon hy nie ‘n woord inkry met sussie Marta se gekekkel nie!

Op ‘n dag raak Lasarus siek. Met groot kommer moes die twee susters toekyk hoedat sy gesondheid by die dag agteruitgaan.

En dan sien hulle die oggend toe hulle opstaan, dat Lasarus dodelik siek was! Die twee susters was baie bekommerd!

“Maria, ons moet dadelik vir Jesus laat kom!”

“Haai Marta, ons kan Hom mos nie nou laat haal nie.”

“En waarom nogal nie?”

“Onhou, die Jode wil Hom doodmaak! Hulle is mos Perea toe om van die spul af weg te kom. En dis baie ver jong! Dis oorkant die Jordaan!”

“Maak nie saak nie – Boetie Lasarus is nou belangriker! Dis waarvoor vriende daar is, om dinge vir mekaar te doen!”

En so kommandeer Marta iemand op, ten spyte van Maria se protes om vir Jesus te gaan soek waar Hy iewers in Perea besig is om te preek. Dis ‘n volle twee dae se reis om daar te kom. Maar die kêrel het gelukkig nie nodig gehad om lank te soek nie, want almal het geweet waar Hy doenig was.

Die man het sy boodskap afgelewer, en vir die manne vertel van die erns van die situasie. Lasarus was uiters kritiek! Volgens die boodskapper het dit gladnie goed geklink nie - Lasarus gaan dit beslis nie maak nie.

Jesus en die twaalftal sit met ‘n dilemma. Aan die een kant is daar die Joodse kerkleiers in Jerusalem wat Sy lewe soek. Boonop is dit nog ‘n volle twee dae se reis. Teen die tyd dat hulle daar kom, is dit dalk al te laat! Maar aan die ander kant is dit hulle baie dierbare vriende wat in groot nood is. Daardie drie het ‘n baie sagte plekkie in Jesus se hart.

En dan, eintlik kan Jesus mos maar net die woord spreek, en Lasarus sal gesond wees! Hy het dit immers gedoen met die Romeinse offisier se slaaf! Nee, Jesus het beslis nie nou nodig om weer by Jerusalem te kom nie. Die Jode gaan Hom hierdie slag nie weer laat wegkom nie. Die manne is bekommerd! Wat gaan hulle Meester doen?

Dan stel Hy hulle gerus: Lasarus se siekte gaan nie sy dood beteken nie. Dit gaan egter Jesus se mag openbaar.

Die manne het verwag dat Jesus sommer dadelik sou oppak om na Betanië te gaan, maar tot hulle groot verbasing, gaan Hy die volgende dag net rustig voort om te preek en mense gesond te maak. En so ook die dag daarna.

Intussen hardloop Marta in sirkels van frustrasie omdat Jesus nie opdaag nie, en Maria sit stil en huil omdat sy sien hoedat haar liewe broer se lewe uit hom vloei. En dan sterf Lasarus. Jesus was te laat! Marta is bitter ontsteld: ”Dis darem die minste wat Hy kon gedoen het, om Sy vriend betyds te kom red!”

“Los dit nou maar Marta,” huil Maria. Sy berus haar by wat gebeur het.

En dan, twee dae nadat Jesus die nuus ontvang het, deel Hy die ontstellende nuus mee aan die twaalftal: “Ons gaan na Judea toe”. Die manne is geskok: hoe kan Jesus nou so ‘n onverantwoordelike ding wil staan en doen? Dit is mos nou Sy eie dood soek daardie! “Ons vriend Lasarus slaap, maar ek gaan om hom wakker te maak.”

Natuurlik verstaan die manne Hom totaal verkeerd. As ‘n siek persoon slaap, is sy kanse op herstel soveel groter. Dit is dus mos nie meer nodig om na Betanië te gaan nie. Maar Jesus help hulle reg: Nee, Lasarus is dood, en dit is nodig om daarheen te gaan. Boonop is Hy bly dat Hy nie daar was met Lasarus se afsterwe nie.

Die manne is geskok. Nou sal dit nog ‘n verdere twee dae neem om daar te kom, en die arme Lasarus se lyk sal in hierdie hitte dan al lankal ontbind wees.

Daar was ‘n baie goeie rede vir Jesus se optrede: In daardie tyd het mense geglo dat iemand se siel nie dadelik sy liggaam verlaat wanneer hy sterf nie. Sy siel bly daar rondhang, net vir die wis en onwis. Eers as die liggaam begin ontbind, vertrek die siel na die “onderwêreld”.

Jesus wou verseker dat almal sou weet dat Lasarus onherroeplik dood was en dat niemand sou kon sê dat sy siel nog in die omgewing was nie. Dan sou niemand kon sê dat dit nie ‘n wonderwerk van God is nie. Thomas se moedelose reaksie is: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe”. Hoe ironies dat wanneer Jesus vir Lasarus lewe gee, dit juis die laaste strooi is vir die Jode om Hom om die lewe te bring. Maar dit bring nie alleen vir Lasarus lewe nie, maar hierdie handeling gee ook die ewige lewe aan Jesus se dissipels, asook aan elkeen wat in Hom glo.

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek selfs vir die dood nie eers hoef te vrees nie, want U hou my styf vas.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026