Twee Pootjies en ‘n Stukkie Oor

9 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Pootjies en ‘n Stukkie Oor

Amos 3:9-15

Video - Oudio

Baie jare gelede kuier ons in Oom Paul se Wille Krugertuin. Daai oggend soek ons leeus! En skielik kry ons net mooi dít waarvoor ons soek. Ons is net betyds om te sien hoedat ‘n paar leeuwyfies ‘n trop rooibokke op loop jaag. Jy sien net stof en klippe spat soos hulle ‘n bok plattrek, maar tot ons groot teleurstelling gebeur alles agter ‘n bos, en ons kan niks sien nie. En dan sien ons hom, die ou maanhaar wat haastig aangestap kom om sy deel van die fees op te eis. Van iewers af kom ‘n verskrikte rooibokkie verbygehardloop in dolle vaart, reg voor Vuilbaard se neus verby. Sy reaksie is blitsvinnig. ‘n Massiewe voorpoot bewapen met vlymskerp kloue skiet uit soos ‘n weerligstraal en klap die voortvlugtende in een hou morsdood. Grootmeneer tel sy trofee op en stap trots daarmee tot in die skaduwee, en vreet dan die bok op totdat daar letterlik net ‘n stukkie oor en twee pootjies oorbly.

Daar was ‘n ou Israelietiese gebruik dat as ‘n leeu een van die skaapwagter se skape vang, hy bewys moes lewer dat hy nie die skaap geslag het nie, maar dat ‘n leeu dit wél gevang het, al is dit ook net ‘n oortjie en twee pootjies. Dit kon selfs beteken dat hy die leeu moes verjaag om die bewysstukke te kry. As jy op so ‘n wyse twee pootjies en ‘n stukkie oor red, dan red jy beslis nie die skaap nie!

Maar wag, laat ons voor begin! Amos roep getuies bymekaar om te kom kyk na die verwoesting. Diegene wat hy roep is spesialis-getuies, want hulle weet alles van verwoesting af. Die Egiptenare en die Filistyne was bekend vir hulle wreedheid, verdrukking en geweld, en daarom is hulle die regte soort getuies. Dit is die volk Israel wat veroordeel is tot ‘n gewelddadige einde. Sy stede sal afgebreek word en die mooi huise sal kaalgestroop word. Al wat sal oorbly is ‘n enkele bewysstuk: “twee pootjies en ‘n stukkie oor” (v. 12).

Maar waarom?

Amos som die oorsaak op in vers 10: “Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg, weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here.” Dit is ‘n verskriklike aanklag teen Israel! Maar wat presies beteken dit? Die Israeliete het hulleself verryk deur gewelddadig op te tree, hulle rykdom bekom deur geweld en in die proses verwoesting gesaai. Geldgierigheid het van hulle monsters gemaak. Hulle het vir hulle mooi huise en paleise gebou met hulle buit, en op die koop toe sommer ook ‘n somerhuis iewers laat bou. Hulle het gerol in die rykdom en op “rusbanke en oorgetrekte gemakstoele” (v. 12) gesit. En dit ten koste van die arme mense wat hulle so wreed uitgebuit het!

Amos se aanklag is ook dat hulle nie weet hoe om reg te doen nie, nie eers normale aanvaarbare gedrag te openbaar nie. Selfs die heidene het geweet wat reg en verkeerd is! Jy hoef nie ‘n gelowige te wees om te weet wat reg is nie!

Ons in Suid-Afrika, asook in menige ander lande sit op ‘n tydbom wat tik-tik-tik. Ons is besig met presies dieselfde dinge as wat in Israel gebeur het. Materialisme is ‘n draak wat verslind. Dis maar net die seekoei se oortjies wat uitsteek, as ons vinger wys na korrupte regeringsamptenare. En dan skree ons almal saam oor daardie enkelinge. Maar ons sien nie die massa stinkrykes wat hulle geld bekom het met uitbuiting, buitensporige winsgrense en misleidende advertensies nie. Miljarde rande wat bedoel was om armes te help oorleef gedurende die Korona-krisis het in rykes se sakke beland!

Talle mense se lewens word verwoes deur dwelm sindikate waar superrykes die septer swaai. Motorkapings, rooftogte en ander gewelddadige handelinge verryk iemand wat rustig in sy gemakstoel sit. Maar dit kom ook nader na my en jou wat dikwels oneerlik handel. “Suid-Afrika, draai terug na God!” skree ‘n klompie stemme uit die woestyn, maar dit val op dowe ore, en die geweld en korrupsie floreer!

Ek sal die winterhuis platslaan saam met die somerhuis”, waarsku Amos oor die toorn van die Here, “die huise met ivoorinleg sal vergaan, baie huise sal verdwyn, sê die Here.” (v. 15)

Amos se waarskuwing weergalm oor Israel. Maar vandag weergalm daardie selfde waarskuwing oor Suid-Afrika, want die onreg in ons land is reusagtig groot. Wat gaan ons daaromtrent doen? Reuse saamtrekke is gehou waar “Amos” gepleit het: “Draai terug na God!” Die vraag is of ons ooit reageer het op daardie pleidooi? Ek is bevrees: die Here se oordeel hang alreeds soos ‘n vlammende swaard oor ons land. Kom ons begin by onsself, en maak reg wat verkeerd is in ons lewe, anders gaan daar dalk net twee pootjies en ‘n stukkie oor oorbly.

Gebed:

Here, ek staan diep skuldig voor U. Help my om reg te maak wat ek verkeerd doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026