Lukas 23:50-56 & Johannes 19:38-42
Die Sabbat breek aan - die langste, droewigste Sabbat in Petrus se ganse lewe. Nadat hy van die kruistoneel af weggehardloop het, het hy doelloos rondgedwaal. As hy hom kry, is dit alreeds byna donker en hy bevind hom in Getsemane, dáár waar ál die verskrikking begin het. Petrus gaan weer onbedaarlik aan die huil. Hy wonder waar sy maats is. Nou het hy hulle bitterlik nodig!
'n Onblusbare behoefte aan sy intieme vriendekring van die afgelope drie jaar se troos, gryp vir Petrus aan die hart. “Miskien is hulle in Betanië,” besluit hy en hy kies koers na die dorpie aan die hange van die Olyfberg.
Petrus tref die bedremmelde groepie manne aan in vriende se huis. Saam met hulle is ook die paar vroue wat saamgekom het van Galilea af. Maria, Jesus se moeder is troosteloos oor haar Seun wat so 'n wrede dood moes sterf.
“Was dit nie vir daardie Raadslid nie, dan het Sy liggaam op die ashoop beland,” sug Johannes.
“Wat het gebeur?” wil Petrus weet. “Ek verstaan nie!”
“Nee Petrus, dit ís absoluut onverstaanbaar!” begin Thomas vertel.
“Ja,” val Jakobus hom in die rede, “nadat die Meester dood is, kom een van die Joodse Raadslede daar aan, 'n man met die naam van Josef, glo van Aramatea af.” Petrus voel sommer weer die haat in hom opwel vir ál wat 'n Joodse Raadslid is – dis húlle wat sy Meester laat kruisig het!
“En dan doen die man die onverklaarbare ding,” gaan Jakobus voort. “Hy kom vertel vir Maria dat hy met die owerhede gepraat het en dat hulle hom toestemming gegee het om ons Meester in sy persoonlike graf te begrawe.”
“Ons kon nie glo wat ons hoor nie!” neem Maria Magdalena oor. “Maar dit was nie ál nie: daar was nóg 'n Raadslid saam met hom, Nikodemus. En jy sal my nie glo nie – hy het 'n klomp linne en 'n volle vyftig liter mirre en alwyn saamgebring om die liggaam te balsem!”
Petrus skud sy kop om séker te maak hy hoor reg. Hoe is dit moontlik dat hierdie skatryk manne hulle oor Jesus sou ontferm? Ja, hy onthou vir Nikodemus – daardie Fariseër het een nag in die geheim met Jesus kom praat. Maar daarna het hy nooit weer die man gesien nie......
“Julle moet die graf sien!” Petrus se broer, Andreas is in ekstase. “Dis nie sommer maar net 'n ou graffie nie, hierdie is 'n lúúkse graf, kompleet met 'n reuse ronde klip wat voor die opening rol. Hy moes seker baie geld vir hierdie graf betaal het!”
“En daar het ons Hom neergelê, toegedraai in linne,” snik Maria en al die vroue kloek rondom haar om haar te probeer troos oor haar bitter verlies.
“En toe kom die Romeine,” kreun Johannes bitter, “sestien van hulle - die berugte Romeinse Wag. Hulle staan nou nog steeds by die graf om te keer dat ons nie kwansuis Jesus se liggaam gaan steel nie! Verbeel jou! Waarom sou ons in elkegeval so 'n liederlike ding wou doen?”
“Ek moet julle iets vertel,” sê Petrus sag en sy lip bewe. “Op pad na Getsemane het die Meester 'n ontstellende ding vir my gesê. Hy het gesê dat ek Hom drie maal sou verloën voordat die haan kraai.”
Alles raak doodstil en alle oë is op Petrus gevestig. Hy bars in trane uit en begin weer onbedaarlik te huil. Johannes kom sit sy arm vertroostend om Petrus se skouer. Tussen die rou snikke deur vertel Petrus hulle hoedat hy gelieg het terwyl die Meester geslaan en bespot is. Hy vertel hulle hoedat hy vir 'n diensmeisie gesê het dat hy nie vir Jesus ken nie. En twee keer daarna het hy weer daaroor gelieg. En nét daarna hoor hy die haan kraai en toe onthou hy Jesus se woorde. “Sal God my óóit daarvoor vergewe?” snik hy. “Sal júlle my ooit daarvoor vergewe?”
Matteus staan op en kom sit ook sy arm om Petrus se skouers: “Ek vergewe jou, Petrus. En God sal jou óók vergewe. Hy is 'n genadige God!”
Nou is die ander ook by en een-vir-een verseker hulle vir Petrus dat hulle hom vergewe het daarvoor. “Ek sou dieselfde gedoen het,” troos Judas. “Ons was almal bang. Ons het almal weggehardloop. Jy het darem nog die moed gehad om agterna te gaan! Maar wat my naamgenoot gedoen het is onvergeeflik!”
“Julle het nog nie die nuutste gehoor nie,” onthou Filippus skielik iets. “Judas die verraaier is dood!”
“Wat het gebeur?” wil almal weet.
“Selfmoord! Homself opgehang..........”
Daardie lang, droewige, uitgerekte Sabbat bly die bedremmelde groepie bymekaar en vertel vir mekaar hulle belewenisse van die vorige dag. Stadigaan begin daar 'n volledige prentjie vorm. Petrus kan steeds maar nie die verskriklike skuldgevoelens afskud nie. En almal voel totaal magteloos en verlate, want dis Sabbat en niemand durf iets doen nie. En boonop is hulle enigste Hoop dood en begrawe in 'n rykmansgraf. En die einde van die wêreld het vir hulle aangebreek. Jesus is dood!
Gebed:
Here, hoe troosteloos en verlore sou 'n lewe sonder Jesus wees. Dankie dat ek vandag verséker kan weet dat Jesus leef!